Saturday, April 27, 2019

Resensie | Breyten Breytenbach – op weg na kû (2019)

Breyten Breytenbach – op weg na kû. H&R, 2019. ISBN 978-0-7981-7862-4]

Resensent: Joan Hambidge

I

Om Breytenbach se jongste bundel te resenseer, konfronteer die leser met al sy belangrikste bundels vanaf sy debuut tot nou. Die bundel laat die indruk van iemand wat opruim (in die goeie sin van die woord), maar ook op-rym. Lesers is al vir soveel dekades geboei en oorrompel deur hierdie digter, dramaturg, polemis, aktivis, skilder en roman-skrywer. Studies oor sy werk is al onderneem, o.a. deur Helize van Vuuren, Hein Viljoen en Louise Viljoen. Marilet Sienaert het gekyk na die verhouding tussen digter en skilder.

Op 'n foto dans hy met vriend Ampie Coetzee, eweneens 'n kenner van sy werk.

Die bundel word aan wyle Tom Gouws opgedra: in sy lewe 'n ondersoeker van Breytenbach se werk.

Só word die boek bemark:
op weg na kû is in vele opsigte ‘n gesamtkunstwerk, soortgelyk aan Katalekte in 2012. Die gedigte word begelei deur ‘n verskeidenheid foto’s, hetsy van landskappe of van Breyten se eie en ook ander kunstenaars se skilderye. Die manuskrip bevat ‘n rykdom bepeinsings, gedagtes, digterlike hoogtepunte en kort-kortverhale, en eindelik word die teks meer as die somtotaal van vers en beeld.
 In die woorde van Andries Visagie: “Dit word ‘n sintese van artistieke talent sonder weerga. Al die elemente in Breytenbach se literêre arsenaal – die voëls, die honde, die maan, die liefde, ballingskap, die metapoëtiese nadenke oor die woord en skryf – is hier aanwesig. Opnuut kan ‘n mens net in verbystering staan oor die oorweldigende digterlike idiolek wat die skrywer ontwikkel het.” Daar is vertalings (hy verwys daarna as vervellings) van sy gedigte in Frans, Engels en Nederlands en hierdie digter wat van buite na binne kyk, laat hom nie vaspen nie. Waarskynlik hierom die verskillende skuilname: o.a Jan Blom en Jan Afrika. Die self word onder die loep geneem, maar terselfdertyd word die narsistiese ek gedekonstrueer. Hy is die lens waardeur lesers gekonfronteer word met die verskillende aspekte van ons komplekse wêreld. Hierdie jongste boek is 'n hibried. Hy argiveer opnuut sy lewendood en soos die voorblad uitwys: op weg na kû. 
Ku is the transcription of the Sanskrit word sunya or sunyata, literally translated as ’emptiness’, a mysterious abstract idea to a Westerner brought up in the theistic and materialistic Judaeo-Christian tradition. In his kusens on the Hannya shin gyo that have just been published in English (translated by Ilsa), Master Deshimaru gives it many meanings: “In origin, sunyata is sûvi which indicates expansion, centrifugal motion, a little like a soap bubble swelling but staying empty inside. It is also zero, existence without noumenon, devoid of identifiable substance, the non-existence of the subjective and the objective, the plenitude of emptiness, original mind …”. (Ask-A-Godo/ What is Ku? - International Zen Association United Kingdom. Besoek 24 April 2019).

Die skildery is van ene Boetatjie van die Kaap wat Boeddhisties na ons kyk. Onder sy bodhi-boom oftewel die arasa maram. Die gesig op die voorblad is ouer, strakker.

“Luister, Shariputra (Leser) …
die vorm (shiki) is nie verskillend van die leeg (kû)
en léég is nie verskillend van vórm nie.
shiki ís kû, kû ís shiki.
‒ Maka Hanya Haramita Shingyo”

Die digter is 'n meester van sowel die liriese vers as die prosadig. In Oorblyfsel /Voice over (Human & Rousseau, 2009) is daar die gesprek met Darwiesj. In Vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte (Human & Rousseau, 2014) praat hy met Rimbaud.

By ontstentenis van visoene, moenie raas met stilte nie, die lieslees (seks), die singende spieëlskerwe, is hoe 'n mens hierdie bundel moet benader. Assosiatief en dromend. Om nie te vers-lib in "skreeuende stilte nie" (73). 

Die liriese vaart van 'n gedig 4.7 sleur mee:

ek droom en besoek die ondergrond
waar digters se skedels in groot sale
lugverkoeld bewaar word (...)

Celan en Leonard Cohen is ankermaats in hierdie gedigte.

Daar is uitveegedigte en leë gedigte, soos die titel al waarsku; maar ook woordoorloopsels. Die digter van die paradoks. Van die lewe wat oorbeur na die dood.


II
Die sub-titel van die bundel is veelseggend: 'n geboorte-memoriaan (vir woorde) hiermee opgemaak tot vermaak en bemaak aan Ene Nee-Een.

Die verskillende afdelings - uiteraard 9 - begin met 'n handvol losstaande verse: 'n Lot se vrou (wat dui op terugkyk); 1 Metaforismes; 2 nagpsalms: WOKNAAKWYFWEESHEID - met 'n toespeling op Blum se waansin-vers; 3 volopmaan se woordoorloopsels; 4 "die dood is 'n oordrywing" 5. Interlude 6. téénwoord / maanwater / skryfvleis 7. Handsange 8. 'n Handboek Skryfnotas vir Leser as Saamnaatmaakmat 9. die einder (sic!) met Notas.

Afdelings loop in mekaar in (heen en weer) met die temas van isolasie, skryf as waan(sin), die dood as 'n pendant van lewe en die gedig as proses of as 'n soort handleiding vir die leser. Blum se woknakwyf word nou woknaak in 'n samestelling van weeskind-wees. (Herhaling is besitname, waarsku hy immers, 252).

Hierdie bundel is volledig bemoeid met die dood en met afskeid, en hierom paradoksaal, juis besig met die lewe.

Hierom vind ons "die onvoltooibare sonnet" wat inspeel op "en die sonnet" (136). Twee spieëlbeelde dus van mekaar.

Om te skryf is om te verlyf (147); net soos om vertaling 'n proses van vervelling is.

Die belangrikheid van skryf en die nutteloosheid daarvan word in hierdie bundel ondersoek - soos Werner Herzog, die uitstaande filmmaker, wat in eensaamheid 'n boek met 'n geleende graaf begrawe het in 'n woud.

Die soeke na tekens en betekenis (en die haal van kromme note) is 'n volgehoue proses waar die digter telkens iets neerskryf en dan weer ophef (of uitwis) in 'n volgende gedig.

0….0

Alles blyk 'n duplikaat te wees en moet 'n afdruk word sodat jy die lewe verstaan (187). Die verkleurmannetjie of karmiljoen word nou 'n verkleursuutjies - 'n tipiese vonds van Breytenbach: verkleurmannetjie en trapsuutjie word so vernuut in 'n nuwe woord.

Die paradoks is eweneens Breytenbach se skerpste kenmerk: moenie raas met die stilte nie (108) waar twee betekenisse van raas geaktiveer word.  Om te baklei en om te die stilte te versteur.

Die mond - 'n beeld van intimiteit om die skryfaksie voor te stel - word hier "mondmaniere" (118).

Ons vind ook verjaarsdagverse - soos die aangrypende een op bladsy 143.

Daar is lettervlesse en beelde wat die leser laat duisel. Die intieme leser word 'n liesleser en dus 'n geliefde. Daar is woordspeletjies, rymers, 'n leë gedig, foto's, reisbeskrywings en woordoorloopsels. En metaforismes. Die metafoor as die ewige proses van metamorfose is immers waaroor hierdie digkuns handel.

Hoewel die gedig as 'n waan gesien word, maak hy ook 'n aanklag oor die toekoms van Afrikaans in hierdie bundel en hoe universiteite die taal, gesalpeter in hierdie land soos hy dit klinkend stel, verminder:

wanneer jy die moedertong
          in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg
verduister jy my geheue
maak jy dat ek as vreemdeling
en sonder ’n eie paar skoene
die toekoms moet ondergaan
(118: 6.9)

Want vir 'n digter is die skryfproses intiem en verbonde aan 'n moedertaal met sy "mondmaniere". Anders word die digter 'n gefuikte papegaai wat gewoon pik-pik in 'n nabootsing.

Van die mooiste liefdesgedigte is deur hom geskryf en sy enorme bydrae as digter val nie te betwyfel nie. My gunstelinge: Die ysterkoei moet sweet (1964), Lotus (1970), Voetskrif (1976), 'Yk' (1983), Papierblom (1998), Die beginsel van stof (2011). En hy is 'n digter van wie ek ten minste tien gedigte uit die hart uit kan opsê.

Of hy surrealisties dig of 'n fantasmagoriese lykdig skryf oor sy moeder of 'n aanklag oor ongeregtigheid, is sy stem onbetwisbaar, herkenbaar: BB.

Breyten Breytenbach word tereg beskou as een van die grootste lewende digters in Afrikaans.