Pieter Fourie – Stof en ster. Naledi, 2019. ISBN 978 1 928426 70 7
Resensent: Joan Hambidge
Die derde digbundel van Pieter Fourie, Stof en ster is 'n vervolg op die eerste twee bundels Knapsekêrels (2017) en Bidsnoer (2018). Die leser vind dieselfde tegnieke hier: skerfies gedigte, die optekening van 'n vervloë era, volksryme of -raaisels en die ontginning van ou woorde.
Goljaartjie, poelpetaan, vrotpootjie, êprou, o.a. Die naamgewing is eweneens so bekend aan die landelike wêreld wat beskryf word soos kleinneef kosie harmansdrup, tant breggie koesisterkoningin, daantjie donnerpadda, dowe neef nathan waterfiskaal.
Vir die bespreking van die twee bundels sien: Woorde Wat Weeg/ Resensie | Pieter Fourie – Bidsnoer, 2018. Besoek 2 Mei 2019).
Die bundel word in 'n woord vooraf tipeer as folk-realism (David Barnett) en die digter bely dat die gewildheid van die gedig "gehuggie" aanleiding gegee het tot 'n uitbreiding in hierdie bundel. "plaasskuurdans" (uit die debuut) en "kluister" (uit die tweede bundel) het hulle ook kom aanmeld.
plaasskuurdans
(vir deon malherbe)
’n maand na nagmaal
mens se troetelwens
wie sal nou skrik
vir ’n goljaartjie
of ’n goggatik
meelstofvloer
koekmakrankabessie
in withondmoer
engelse konsertina
soek na dina (...)
'n Mens kan, uit die gedeelte wat hier aangehaal word, die dans-element in die patroon van die aantal reëls per strofe opvang: 2 - 3 - 3 - 2 ...
In die slotvers word die titel verklaar as die duistere verband tussen die ster en die korreltjie sand (107).
Daar is bitter nostalgie: enersyds 'n verlange na wat was, andersyds die besef dat dit moeilike en dikwels pynlike tye in die geskiedenis was.
Daar is heerlike juwele:
die oudstryders
bly bittereinders
gooi vanaf stoepskaduwees
'n langoog vir vars weduwees
(52)
En pynlike verse:
rivieroewerboer lippe gelek
die oorlog was ’n bonustjek
stoetveeskaap kom sonder kontant
op houtvlot snags van vrystaatkant
ná verskroeide-aarde-bethuliekamp
loop in onderdorp
die eens groot grondbaronne mank
(13)
lang swart rokke swart kouse
die drie susters swart gekappie
rou al vyf-en-vyftig jare lank
hul oorle ma lê nog opgeërd
net buite die bethuliekamp
hul pa het voor ’n lee-metford geval
by paardeberg het sy mauser gefaal
cronjé het sy krygers die ore aangesit
daar lê hul pa ’n puisie grond en klip
die drietjies was nog nie rooihakskeentjies
toe begin hul rou
net röntgenfoto’s
ribbes torso armpies en brandmaer beentjies
die drie swart kraaie bo teen die bult
vir mediakameras immergroen gewild
(5)
Die gedigte is, soos in Louw se "Klipwerk"-reeks, volksverse. Geskryf deur mense, eenvoudige mense, met die digter wat dit opteken en in die stof naskryf. Fourie is dramaturg en hy skep karakters soos Mooi Maria, Hansie Handjiesvou en Ben Bomskok wat die gedigte argetipies dra. Saam met Stil Sarel en Hannie Halleluja word daar 'n verhaal vertel van 'n verdwene wêreld.
Menslike deugde en ondeugde word teenoor mekaar geplaas. Alles gesitueer binne 'n herkenbare landskap. Die verse is mooi in hul eenvoud, sonder om eenvoudig of eenduidig te wees. Die seksuele, dans, sport, skuldmaak, die dood, die herinnering aan oorlog, klasverskille kom aan bod.
Stof en ster; orde teenoor chaos; lewe teenoor dood: die binariteite wat die stramien van die lewe behels en wat hierdie digter opteken. 'n Mens sou 'n uitgebreide studie kan onderneem oor hoe "Klipwerk", Boerneef en Fourie se verse dieselfde prosesse belig waar die digter dikwels aan die stemlose 'n stem gee. Vir sommige lesers sal daar selfs sprake mag wees van kulturele appropriasie; vir ander is die optekening alreeds 'n daad van argivering.
Die voorblad van Maletta Fourie verdien vermelding.
Die wêreld van Philllipolis hier karteer, maar omdat die verse folkloristies is, kan 'n mens dit ook verplaas na die Karoo. Die digter het op 22 Mei 1981 in 'n onderhoud met Amanda Botha in Die Transvaleropgemerk dat hy volkskrywer wil wees. En dit is wat hierdie bundels presies word: toeganklike verse vir alle lesers.
Ons het nou 'n volmaakte drieluik en die digter het myns insiens nou die gegewe deeglik beskou en ontgin.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)