Monday, August 27, 2018

Rubriek | McGregor Poësie-fees (Aug 2018)

In hierdie ysige weer was daar ‘n poësie-fees in McGregor.

Verskillende digters het hier kom saamtrek. Dit is onmoontlik om op elke aspek van hierdie fees te fokus, omdat daar verskillende byeenkomste was in vertrekke en sale in die klein dorpie.

Ek is nie ‘n feesmens nie, maar hierdie onpretensieuse byeenkoms was vir my wonderlik om ‘n paar redes. Uiteraard weens die heerlike kos in die restaurant Tebaldi’s en die goeie wyn wat gevloei het.

Maar hier het ek opnuut onder die indruk gekom van Kelwyn Sole se digterlike beheer en CJ Driver (Jonty Driver) se bekoorlike bundel Before – A Sequence(African Sun Press). En ‘n oggend, op ‘n Sondag waar vier digters hulle gunsteling-verse voorgelees het.

Kom ons gesels eers oor digters se gunstelingverse. Wat ‘n digter lees, het uiteraard ‘n invloed op hoe sy / hy skryf. Douglas Reid Skinner, Michèle Betty, Stephen Symons en die uwe was aan die woord.

My gunstelinge – vir hierdie geleentheid – was Sylvia Plath se “Lady Lazarus”, “Morning Song”, Wislawa Szymborska se “Some like poetry”, Billy Collins se “Taking off Emily Dickinson’s Clothes” – en uiteraard Olga Kirsch se “Illusie”.

Plath se “Lady Lazarus” – met sy skisofreniese afstand – teenoor Collins se aanvanklike speelse vers wat eindig met die sidderende woorde:

So I could plainly hear her inhale
when I undid the very top
hook-and-eye fastener of her corset 

and I could hear her sigh when finally it was unloosed, 
the way some readers sigh when they realize
that Hope has feathers, 
that reason is a plank, 
that life is a loaded gun
that looks right at you with a yellow eye. 

Wanneer ‘n mens voor ‘n gehoor ‘n gedig voorlees en moet verduidelik waarom ‘n vers met jou praat, ontdek jy dikwels iets nuuts in die vers.

Vir my is “Morning Song” van Plath nie net ‘n vers oor die geboorte van ‘n kind nie; dis ook ‘n gedig wat jy kan lees asof dit kommentaar lewer oor die geboorte van ‘n gedig.

Morning Song

Love set you going like a fat gold watch.
The midwife slapped your footsoles, and your bald cry
Took its place among the elements.

Our voices echo, magnifying your arrival. New statue.
In a drafty museum, your nakedness
Shadows our safety. We stand round blankly as walls.

I'm no more your mother 
Than the cloud that distills a mirror to reflect its own slow
Effacement at the wind's hand.

All night your moth-breath
Flickers among the flat pink roses. I wake to listen:
A far sea moves in my ear.

One cry, and I stumble from bed, cow-heavy and floral
In my Victorian nightgown.
Your mouth opens clean as a cat's. The window square

Whitens and swallows its dull stars. And now you try
Your handful of notes;
The clear vowels rise like balloons. 

Tebaldi's

Olga Kirsch se “Illusie” is ‘n liefdesgedig – maar die liefste wat sy ylings tegemoet gaan, kan ook die leser van haar gedigte wees.

Volgens De Stadler se tesourus beteken ylings gejaagd, onbesuis, halsoorkop, pront, brandend, dringend, naarstiglik, urgent, akuut, brandend.

Is dit ook hoe sy haar leser tegemoet gaan?

Illusie

Soms as ek in die silwer skemering stap
met oë half toe, want die ligte reën
prikkel my wange, dans en trippeltrap
verby my lippe en om my oë heen,
dan sak die stilte in ’n klamme vlaag
oor alles, donkergroen en silwergrys
die denne, en ek slaan my jas se kraag
hoër om my nek. Daar’s iets wat eis
dat ek meteens met ligter tred moet gaan,
met tintelende ekstase in my bloed.
Dalk aan die einde van die lange laan
gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?

Hoe gedigte met mekaar praat en bymekaar aansluit, bly een van die ongelooflikste ervarings vir die leser van gedigte.

Soms is ‘n gedig klein, maar die betekenislading enorm soos Douglas reid Skinner dan tereg uitwys in een van sy gunstelingverse “To have Love” van Patrick Cullinan:

To have love and then lose it:
the white hail in the orchard
lying with leaves it has stripped
and the storm moving away.

"‘n Mens kan niks byvoeg of wegvat nie," sê Skinner. "Die gedig is perfek – die impak enorm."

Hier is Johann de Lange se vertaling daarvan:

Om liefde te hê
Patrick Cullinan

Om liefde te hê en dan te verloor:
die wit hael in die boord
lê tussen afgestroopte blare
en die storm beweeg voort.

(Vertaal deur Johann de Lange)

As ‘n mens is wat jy eet, is jy ook dit wat jy lees.

Ons sal volgende keer verder by gunstelingverse stilstaan.

© Joan Hambidge