Thursday, August 9, 2018

Resensie | Beyers de Vos – Wrok (2018)

Beyers de Vos – Wrok. Penguin, 2018. ISBN 9781485903321.

Resensent: Joan Hambidge

I
Wrok is die debuutroman van Beyers de Vos wat tegelykertyd in Afrikaans en Engels verskyn. Die Engelse titel is Talion. Talion beteken ‘n oog vir ‘n oog. So word die verhaal verpak deur die uitgewershuis:
Pretoria – Vyf mense, vyf dele van die stad. Die tweeling, Ben en Freya, is weeskinders en Freya glo dat hulle alles met mekaar deel. Ben word vermoor en Freya besef hy het geheime van sy eie gehad. Mnr. Oktober is ’n wewenaar-pa, ’n rugby-afrigter by die hoërskool en ’n passievolle Christen. Hy het egter ’n donker verlede wat hom net nie met rus wil laat nie. Die selfsnydende dwelmhandelaar, Slick, het tydens sy gewelddadige mentorskap by Mama Africa geleer dat vergelding en mag hand-aan-hand gaan. En die hardwerkende Nolwazi, ’n inspekteur by die Brooklyn-polisiekantoor, se ondersoek word deur ’n oorwerkte sisteem en korrupte kollegas ondermyn. Hoekom is Ben dood? Wie het hom vermoor? Sal geregtigheid seëvier? En is vergelding die antwoord?
Wrokkigheid, weerwraak, terugkry, ‘n oog-vir-‘n-oog, is die belangrikste kodes van die thriller en speurverhaal. In Golden Eye (1995) – met Pierce Brosnan as James Bond – word 007 gestel teenoor 006 Alec Trevelyan (Sean Bean) wat dood veins. Hierna word hy deel van die Janus-sindikaat. In die spel tussen held en anti-held word al die binariteite, so bekend aan James Bond-films, uitgespeel.

In ‘n stadium tydens ‘n konfrontasie roep Alec uit dat hy eintlik beter is as Bond. Sy gesig is ook geskend in 1986 in Arkhangelsk toe MI6 agente die Sowjet chemiese plant binnegedring het.

Eers dus as vennote; later as opponente. Met Alec se wrokkigheid wat alles voortdryf.
Lesers van hierdie genre ken dus die verskillende skuiwe in die skaakspel.

In die persverklaring word ons vertel dat De Vos alle reëls breek – in die speurgenre waar Ruth Rendell alreeds hierdie loftuiting opeis. (Ons kom hierna terug.)

‘n Resensent verwys ook na die brutaal briljante omgang met taal (Brutaal briljante omgang met taal | Netwerk24. Besoek 6 Augustus 2018).

Vir hom lees die roman soos ‘n versnit van stadsroman, meta-misdaadroman en diepgaande maatskaplike kommentaar.

In James Bond-films word die geweld en politieke kommentaar dikwels gesubverteer met ironiese opmerkings en humor. 

II
De Vos se boek is ‘n debuut en dit werk rondom die raaisel van Ben se dood. In die persverklaring word die leser ook vertel dat die simboliese beskrywings van die stad Pretoria nog nooit so gedoen is nie. In alle James Bond-films is die stad of land ‘n mede-speler.

Istanbul teenoor St Petersburg; Kuba of Londen is die backdrop waarteen verskillende Bond-films geplaas word en politieke of sosiale kommentaar lewer.

In Wrok het ons Inspekteur Nolwazi Mngadi wat Benjamin Rust se dood moet ondersoek. Helaas is daar ook hier korrupte kollegas by die Brooklyn polisiekantoor. En leuens oor die verlede.

III
Rondom die Lady Justice (aan die begin en einde van die roman) word die vertelling ingebed. Die stad is Pretoria, ‘n slim keuse, omdat die opposisie tussen wit / swart sterk gevoelens in hierdie stad oproep met simbole soos die Uniegebou, die Voortrekkermonument, Paleis van Justisie, oom Paul, en ander bakens. 

Die Boereoorlog is ook ingebed in die Jakarandastad en die Vrede van Vereeniging is op 31 Mei 1902 by Melrose Huis onderteken.

Dit is dus ‘n slim keuse om die boek hier te laat afspeel. Die stad se onbewuste is vol spanning, oorlog en regspleging. Daar is immers ook ‘n polisiemuseum in hierdie stad. Die stad word in die roman beskryf as ‘n vreemde en slapende stad (88).

Dit is 'n stad vol stories met storielyne wat verstrengel (218). 

En stede groei, verander, verslind, sterf en reïnkarneer, lees ons verder.

Hier is dan 'n verwysing na Harry Kalmer se goeie stadsroman oor Johannesburg (Woorde wat Weeg/ Harry Kalmer - 'n Duisend stories oor Johannesburg (2014)Besoek 9 Augustus 2018) wat in die Engelse vertaling die Barry Ronge-prys verower as A Thousand Tales of Johannesburg waaroor ek nog sal skryf.

IV
Oor die moord/speur/spanningsverhaal is daar geweldig baie teoretiese tekste geskryf. Tzvetan Todorov se “The typology of detective fiction” (1966) is eweneens opgeneem in David Lodge se Modern Criticism and Theory – A Reader (Longman, 1988). 

Todorov verwys na die dogmatiese werk van S.S. van Dine uit 1928. In hierdie artikel beweer Van Dine dat hierdie soort roman altyd ‘n speurder, ‘n boosdoener (krimineel) en ‘n lyk bevat. Ook is daar nie plek vir liefde in hierdie soort roman nie. Hy skryf verder die “culprit must not be a professional criminal, must not be the detective, must kill for personal reasons.”

Verder het hy ‘n sekere belang in die roman: hy moet immers een van die belangrike karakters wees. Alles moet rasioneel verklaarbaar wees en fantasie is nie toelaatbaar nie. Geen plek vir psigologiese analises nie (wat deur moderne skrywers wel betree word). 
Daar is ‘n verdere homologie aantoonbaar: 

“author: reader = criminal : detective.”

Banale situasies en oplossings moet vermy word (Lodge, 1988, 163).

Hoe breek De Vos hierdie reëls of sluit hy gewoon net hierby aan?

Die lykskouing is ‘n kopknik na Patricia Cornwall en hier is bewys van sterk skryfwerk. Die romanskrywer vermeng hier die kliniese aspek met die emosionele reaksie van die speurder op die dood.

In die afdeling “Die gees van die stad” word die onbewuste van die stad weergegee uit die perspektief van ‘n standbeeld.  Die stad word ook gepersonifieer soos op bladsy 255.

Die teks lewer eweneens kommentaar op die verskil tussen misdaad in die werklikheid en misdaad in krimies wat ‘n spel is en ‘n raaisel wat ons probeer oplos (59). As jy die reëls ken, sien jy die kinkels kom.

V
Die simboliek van voëls word sterk ingebed. Hamerkop. Weerligvoël. Impundulu (222).

Vuur en weerlig (Slick se herinnering) wat weer later met Freya verbind word wat fata uitdaag (en die vader wat waarsku teen bad wanneer daar weerlig is).  (Meneer Oktober, Slick, Lucky, Mama Afrika word goed uitgebeeld.)

Ben en Freya (Hansie en Grietjie) en die dubbelloopaksie van die roman verbreek die streng kodes van die verhaal. Twee wrokkiges neem tegelykertyd wraak en die verhaal bevat emosionele en seksuele beskrywings wat die kodes van die misdaadroman verbreek. Ook die afwisseling van tyd (hede en verlede) met die meta-kommentaar oor hoe die werklikheid van fiksionele tekste verskil.

Beyers de Vos (Foto: Joanne Olivier)

Kyk ook na Nolwazi se genderkontruksie - hier word Trial and Retribution geaktiveer.

Die roman sit vol slim toespelings en dis 'n debuut wat getuig van 'n vermoë om te komponeer.

'n Behendige debuut wat jou as leser saamsleur. Dit staan sy plek vol langs die lang ry van misdaad- en speurverhaalskrywers in 'n land waar misdaad daagliks voorblaaie haal. En moordstories die sub-genre se grense verskuif met wraak en weerwraak, bylmoorde en hangtonele.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)