Arundhati Roy in 2009 (Photo by Satish Bate)
Tydens ‘n openbare lesing aan die Universiteit van Kaapstad op 13 Augustus 2018 lewer Arundhati Roy die skrywer van The God of Small Things (1997) eweneens kommentaar op die verhouding tussen fiksie en werklikheid.
The Ministry of Utmost Happiness (2017) waaruit sy voorlees, word voorafgegaan deur ‘n film waarin sy verhouding tussen werklikheid en fiksie uitwys – met ‘n voice over.
Roy wys daarop dat die buitestaander of vreemde leser die kodes van Indië dikwels verkeerd begryp. Ons lees dit as anargie, meen sy, terwyl die hele sisteem gebou is op ‘n grid van fyn netwerke wat alles te make het met die kaste-sisteem. Net die verkeer is, volgens haar, chaoties.
Alles verder is fyn verweef en verbind.
In hierdie tersyde van Roy word die leser opnuut bewus gemaak van lesers se soeke na wat agter tekste lê, hetsy ideologie of werklike mense.
Roy se debuut The God of Small Things het in 1997 opslae gemaak en ongeveer 6 miljoen eksemplare verkoop. Dit het die Booker gewen.
Roy is skrywer, ekoloog en aktivis en sy word bemark as Indië se mees uitdagende vrou.
Tydens hierdie lesing het die joernalis Rebecca Davis die vrae gestel en Roy was in gesprek met twee Suid-Afrikaners: Haji Mohamed Dawjee wat Sorry, Not Sorry gepubliseer het, 'n teks waarin haar gender-belewenis en politieke eiesinnigheid weergegee word. Sy representeer die nuwe geslag se onversetlikheid oor gender- en rassekwessies.
No one owns their stories and the telling of them like white male writers. They are given endless opportunities for it. They can write about anything. They can pen rants about white-men problems and white-men wealth. They can wax lyrical about cars and boats and spaceships. They can have reams and reams of motivational articles published about being ‘bosses’. Without, mind you, ever having to refer to sexual harassment, unequal opportunities, discrimination or unequal pay. But the cherry on the vanilla cake is that they also get to write the soft, sensitive, soulful stuff. You know? (From the chapter 'We don’t really write what we like')
Die digter en aktivis Kim Windvogel het eweneens iets hiervan geartikuleer.
Die New Lecture Theatre by UCT was stampvol. Jy moes 'n kaartjie hê. En dit was gou onbeskikbaar.
'n Mens sou meer van Roy wou hoor. Sy lees mooi voor en die kwessies van haar land en hoe sy dit vreesloos takel, moes dieper ingevra gewees het.
Ofskoon vroue- en genderkwessies ooraloor aan bod kom, was die aand se sprekers dalk te divers om 'n werklike, indringende gesprek te verseker.
Of was die jonger paneelgangers dalk geïntimideer deur Roy wat soms met 'n skewe glimlaggie alles aangehoor het?
Vir my was haar opmerking oor die grid wat onder alles lê, belangrik. Met 'n besoek aan Indië 'n paar jaar terug het hierdie leser iets daarvan ervaar.
My storie is nie jou storie nie.
En die tjap as toegang het herinner aan die ondergrond van gay-klubs in die ou dae.
© Joan Hambidge