Thursday, August 30, 2018

Resensie | C.J. Driver - Before: A sequence of poems (2018)

C.J. Driver - Before: A sequence of poems. Crane River / African Sun Press, 2018. ISBN 978 1 874 915 32 4
Resensent: Joan Hambidge

I

Op Faber & Faber se webblad verneem ons:

C. J. Driver is a poet, novelist and educator. Born in South Africa in 1939, he was Master of Wellington College until 2000. His novels are Elegy for a RevolutionarySend War in Our Time, O Lord en A Messiah of the Last Days. Since 1984, he has been a Fellow of the Royal Society of Arts. (C.J. Driver | Authors | Faber & Faber).

Deur die jare het ek gereeld die naam van hierdie digter gesien en sy gedigte gelees met bewondering vir die uitstekende versbeheer. In klein biografiese notas het ek gelees dat hy sy vaderland moes verlaat weens die politiek van die tyd.

By die afgelope fees op McGregor hoor ek dan die eerste keer hoe hierdie digter sy verse voorlees. Hoe ‘n digter sy eie werk vertolk, bepaal ook hoe jy later terugkeer na die verse en geheime ontdek.
Of ‘n digter staan of sit, het eweneens ‘n impak op die betekenis van ‘n vers. Net soos digters wat hulle gedigte met musiek begelei, sing of dans. Ek verkies om te sit wanneer ek voorlees.

Driver se verse is kompromisloos en die buiteblad van ‘n gestroopte Karoo-landskap, verraai iets van hierdie verse wat ontstaan het tydens ‘n vier-weke-lange skryfrespyt in Hawthornden, Skotland.

Maar in wese het die verse lankal terug al begin broei in die digter se gemoed. Hy vertel in die voorwoord dat hierdie sekwens van gedigte jare gelede in Suid-Afrika ontstaan het toe hy nog nie die land wou verlaat nie. Dit het in ‘n droom aan hom verskyn. Maar hy was helaas te jonk om die droom in ‘n gedig te “vertaal”.

Eers dan in 2011, as ‘n volwasse mens, kry hy die onvoltooide vers uit, in ‘n ruimte sonder WiFi, geen besoekers, beperkte geselskap en ‘n streng skryfdissipline. Hier keer die geweld van die sekuriteitspolisie uit 1964 terug na hom. Hy skryf 22 verse in vier weke, ofskoon hy nog altyd ‘n stadige skrywer was.

II

Die droom klink so:

Alone, the soldier, kitbag on his back,
No rifle now the war is done, trudges
Along an empty road and into town,
The sort of town one may have lived in once
But couldn’t place as being here or there,
Not even in the logic of a dream –

Die digter sien die soldaat se gesig wanneer hy ‘n sigaret aansteek en besef dit is nie hy nie. Jungiaans gelees is hierdie dalk die homunkulus in die onbewuste, daardie innerlike persoon wat gelyk gestel word aan die meditatiewe en spirituele dimensies. C.G. Jung skryf hieroor uitgebreid in sy Alchemical Studies(1967) wat handel oor transformasie. In wese is dít die dimensie wat vir Jung onverwoesbaar is in die menslike psige; net soos die digter, ten spyte van persoonlike ellende wat hom altyd in die herinnering sal bly agtervolg, oorleef in gedigte.
Boonop gedigte wat in drome na hom kom, die dimensie van die “Unheimliche”. 

Dit is opvallend dat die gedig begin en sluit met hierdie droom met die digter wat vra:

And is the stranger in the dream myself?
Or is it what I shall become in time –
And deep time, too, with no one waiting there?
And is this me who stops to check his notes?
That light down there?
                                         Is that a door?   
(40)

Die reeks neem standpunt in teen politieke onreg en dogmas wat wat mens van jouself vervreem. In nommer 6 is daar ‘n herinnering aan ‘n skoolmaat met sy “cheerful grin” wat uiteindelik ‘n “sneer” word (14). Hy was immers deel van die polisie se vuilspel wat mense vanuit sy helikopter in die see kon smyt. In ‘n verruklike vers oor die mag van die verbeelding word daar met Coleridge en Wallace Stevens in gesprek getree ( nommer 18). In nommer 8 word die moeder in herinnering gebring, die moeder wat hom leer van seuns se stemme wat breek en die digter wat dan leer:

                                                                              And so
I learned – began to learn – that aloes had to burn
And voices break, an inkling even then
That beauty has its own fragility.    
(16)

Oor die verganklikheid van die liefde word in nommer 19 gedig. Dit heet “And Love?”

Die ervaring van die tronkbesoek word aangrypend-pynlik geskryf. Die self is breekbaar, fragiel. Jy word nie deur alleenheid gedefinieer nie; nee, jy word eerder vermenigvuldig en in stukke opgebreek (nommer 15, 25).

Hierdie gedig is ‘n dokument oor die psigiese en fisiese geweld wat jong mans aangedoen is in die ou Suid-Afrika met sy politiek van vergelding en segregasie wat nog steeds sy tol eis.

Lesers wat kyk na genderkonstruksies sal die maskuliene aard van die verse registreer (“He’s white; he’s male…”, 23), wat helaas nie broosheid verdoesel nie.

Nommer 12 is ‘n skitterende ars poetica wat die spanning tussen die kyk (“watcher”) en dit wat beskou word, analiseer (20, 21).

Dit is ‘n besonderse digbundel geskryf met ‘n vormvaste hand. Oor die argetipiese vreemdeling wat altyd verlang na ‘n wêreld waaroor hy ambivalent voel. Daardie odi et amo-gevoel, so bekend aan gedigte geskryf vanuit ballingskap oor ‘n land wat jou beseer het.

Dis ‘n bundel waar nadink en wat met elke lees sy geheime ontsluit.

Die omslagontwerp is van Steve Wolesey te siene op www.karooimages.co.za

Die bundel kan bestel word van:

African Sun Press
P.O. Box 16415 
Vlaeberg 
8018 CAPE TOWN