Sunday, August 5, 2018

Onderhoud | Met Amanda Botha rondom The coroner’s wife (2018)

Foto: Philip de Vos

Sedert die digter Joan Hambige in 1985 met Hartskrif gedebuteer het, het meer as 25 digbundels uit haar pen verskyn.Vier vertalers het meegewerk om ‘n keur uit haar oeuvre in Engels te vertaal. Die bundel, The Coroner’s Wife, het pas by Dryad Press verskyn. Amanda Botha het aan haar uitgevra.

Waarom het jy hierdie bundel met vertalings uitgebring?

Dis 'n projek wat sover strek as 2000. Ek het in die vorige millennium navorsing gedoen in die VSA en was eindeloos bekoor deur die werk van Robert Pinsky wie ek ook ontmoet het. Ofskoon my tekste in die Harvard-biblioteek staan, kan net 'n handvol mense dit daar lees en dit is vir my belangrik om ten minste my werk te kan transporteer na 'n ander taal sodat mense by kongresse my werk begryp. 

Die gedig "In the Garden of Emily Dickinson" het ek vertaal vir 'n kongres in Vergelykende Letterkunde wat plaasgevind het in Wene in 2016. Na my vyf pogings het Douglas Reid Skinner dit reg getimmer. Maar die verskillende weergawes gee tog iets weer van die "lost in translation"-proses.

In Emily Dickinson’s Garden
Every day, Emily D believed
she heard the sounds of birds
in her tree-filled, lush, green garden.
It was here, in her garden of happiness,
as Judith Farr explained,
that she experienced the widest link
between poetry and gardening: from love to hate;
envy against virtue; death and eternity
dug into flowerbeds.
Planted wild fig marigolds, jasmines
and daisies. And picked a bouquet
each day for herself. And each flower
– even the gardenia –
looked up in flower encyclopaedias
– Campanula, Columbine, Aquilegia –
and therafter explored Webster's fields
as a traveller keeps track of her itinerary
in a strange country. Every
symbol precise, exactly understood.
O enigmatic woman in your white dress,
I visited your garden in the spring:
stood there and wondered
if you ever talk in the Garden of Eternity 
with the other gardener of Amherst,
with her, Sylvia, whose death
keeps on blooming like a black arum lily?


In die tuin van Emily Dickinson

In haar boomryke, lowergroen tuin
het Emily D glo daagliks
geluide van voëls ingeklank.
Hier het sy in háár tuin van geluk,
soos Judith Farr beduie,
die ruimskootse verband tussen dig
en tuinmaak beleef: liefde teenoor haat;
nyd teen deugsaamheid; dood en ewigheid
in blombeddings ingespit.
Wildevygies, jasmyne en madeliefies
geplant. En daagliks ‘n ruiker
vir haarself gepluk. En elke blom
– selfs die katjiepiering –
in blomensiklopedieë opgesoek
– klokblom, koningsklokkie, arendklou –
en die Webster se akkers hierna verken
soos ‘n reisiger in ‘n vreemde land
haar direktief opteken. Elke
simbool nougeset, sekuur herken.
O enigmatiese vrou in jou wit rok,
jou tuin het ek in die lente besoek:
hier gestaan en gewonder
of jy ooit in die Tuin van Ewigheid
met die ánder tuinier van Amherst praat,
met haar, Sylvia Plath, wie se dood
soos ‘n swart aronskelk bly blom?

(Uit: Indeks)

Wat verloor en wen 'n mens in vertaling?

My vier vertalers, Skinner, Johann de Lange, Jo Nel en Charl JF Cilliers, het ook bewys hoeveel 'n mens "wen" met 'n vertaling. Goeie vertalers kan iets anders vind. Woordsnyer word "word sleuth".

Hoe het jy besluit op watter gedigte jy gaan opneem?

Daar is geweldig baie verse waaruit ons kon kies. Ek en my uitgewer, Michèle Betty van die Dryad Press, het gedigte rondom temas saamgesnoer: stede, liefdes en familie, ars poeticas, tyd en ewigheid, eerder as om chronologies te werk. So kry gedigte in hierdie bloemlesing in 'n nuwe bundel ander betekenisse. 

Wat wil jy met hierdie bundel bereik?

Ek wil graag wanneer ek na buitelandse kongresse gaan of vreemde plekke besoek ten minste iets vir 'n kennis kan gee. Dit was terselfdertyd vir my 'n intellektuele oefening deur self ook 'n handvol verse te vertaal het wat in hierdie bundel opgeneem is.

Dink jy daar behoort meer vertalings te wees?

Absoluut. Ek was bevoorreg om met vier uitsonderlike vertalers te werk. Hulle was soos buiksprekers vir my. In Afrikaans was daar 'n bloemlesing In a Burning Sea. Petra Müller is vertaal, soos bv. Wilma Stockenström, Krog en Breytenbach. Op die internet sweef daar verskillende vertalings van digters.

Ek dink die wêreld het al hoe meer 'n "global village" geword en digters word al hoe meer blootgestel aan ander (vreemde) landskappe.Die kanon het verander. Ons leef in 'n tyd van onsekerheid (soos Harold Bloom dit tipeer) en daar gaan waarskynlik al hoe meer reise na ander ruimtes wees. Dit is immers 'n proses van dekolonisering/dekanonisering, nie waar nie?

The Coroner’s Wife deur Joan Hambidge kan bestel word by http://dryadpress.co.za/