Sunday, April 1, 2018

Resensie | Antoinette Olivier – Optelklippies (2018)

Antoinette Olivier - OptelklippiesKreativ SA (geborg deur Cordis trust), 2018. ISBN 978 1 928374

Resensent: Joan Hambidge 

Op die agterblad word hierdie debuut Optelklippies van Antoinette Olivier as haikoes beskryf, 'n digvorm wat 'n vlugtige natuurindruk weergee én suiwer wiskunde is. Die versvorm bestaan uit drie reëls met sillabetelling 5-7-5. Die haikoe, 'n Japannese versvorm, illustreer ten beste die tegelykertydsaspek van die digkuns. Sy pendant heet die senryu, oftewel 'n somberder, siniese vorm van die haikoe.

Oor klippe is daar al veel gedig in Afrikaans: Opperman se bekende "Te klip om te boom" en Maria Snyman het 'n belangrike MA-verhandeling (UNISA) geskryf oor klippe in die Afrikaanse digkuns. Daar is Ina Rousseau, Wilma Stockenström, Johann de Lange ...

Klippe, soos weet hulle te vertel, verraai iets van die bepaalde landskap en in Japan (by Hirosjima en Nagasaki) voel en lyk die klippe anders. Hulle was immers stil getuies van ‘n kernontploffing.

Olivier se bundel is nie rasegte haikoes nie. Trouens, min digters kry dit reg in Afrikaans (en hierom praat ons eerder van boere-haikoes), maar haar verse is bepaald genoeglik in die delikate waarnemings wat dit registreer.

Die essensie van hierdie soort gedig is die jukstaposisie tussen twee wêrelde of indrukke. In die tradisionele haikoe word dit 'n vertikale lyn waar die twee sieninge één word; in die Westerse tradisie vind ons dan die 17 sillabes (in 3 reëls) opgebreek met 'n sentrale woord wat die kireji of snypunt is in die gedig. Gewoonlik is dit in die slotreël van die gedig. Hierdie snypunt of draaipunt vind die leser en interpreteer dan die gedig róndom hierdie woord.

In tradisionele haikoes het 'n bepaalde woord 'n simboliese betekenis wat gewoonlik aan die natuur gekoppel is. Die leser lees dus assosiatief en laat die gedig in die gemoed gebeur. 

Die nuuskierige leser kan hier verder oor die haikoe lees:

herinneringe
uit 'n optelklippieboks
skiet in rotstuin uit 
(31)

Langs elke gedig word klippe opgestapel. Klein totempale?

geure en kleure
vars oor die tafel gestrooi
die ene monét 
(27)

Monet, die impressionis word hier geaktiveer, en sy siening van die plein-air-landskapskilderye wat ‘n reaksie was teen salonkuns.

Hiermee wil die digter Olivier dan ook die natuur-like beklemtoon, weg van die gedigte wat waarskynlik te “slim” en “geleerd’ aandoen …

wilgerboom skadu's
verf oë vir die gesigte
op die oorhangrots
(95)

vanoggend skielik
glip die somervenster oop
hoe rank die jasmyn
(87)

op een been staan hy
so probeer flamink flamink
in die vywer speel
(61)

Elke vers sal ‘n ander assosiasie oproep vir die leser.

Met hierdie bundel neem sy 'n plek in langs Eveleen Castelyn, meesteres van die haikoe en tanka. (Die tanka se vorm, terloops, lyk so: 5-7-5-7-7).

‘n Klassieke Castelyn-vers:

Roosblare bêre
hartvormig in die laaie
die as van liefde

(Uit: Minder as die engele uit 1990).

En Hélène Kesting in 'n "klein akkoord", moet eweneens nie vergeet word nie.

Kan bestel word van: Posbus 4404, George-Oos, 6539.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)