Monday, April 30, 2018

Resensie | The Road to Mecca - Fugard-teater (2018)

I

The Road to Mecca: Suggested by the life and work of Helen Martins of Nieu-Bethesda (1984) word tans in die Fugard-teater in Kaapstad opgevoer (regisseur: Greg Karvellas) met Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Emily Child in die rolverdeling. 

Ek het die opvoering tweekeer gaan kyk en elke keer tot nuwe insigte gekom. Eers regs voor; toe links voor gesit - elke keer vanuit 'n ander hoek gekyk en beleef, dus.

Fugard verstaan die psige van die Afrikaner en hoe mense wat "anders" is geviktimiseer of verstoot word.

Miss Helen, Dominee Marius Byleveld en Elsa Barlow is die drie karakters. Dit handel op 'n eerste vlak oor Elsa se besoek aan Miss Helen nadat sy 'n ontstellende brief ontvang het. 

Alles speel af in die herfs van 1974 in Nieu-Bethesda, waar die beroemde uilhuis staan.


Die huis waarin alles gebeur, word in die verhoogproduksie 'n uilhuis met objekte. This is my world staan bo die verhoog. Daar is 'n groen transistor-radio en Elsa was haarself in 'n skottel. Daar is brandende kerse, spieëls en 'n bed waarop Elsa sit. Soms is sy besig om opstelle te merk. Sy het twee jaar gelede Miss Helen ontmoet en was dadelik aangetrokke tot haar eiesinnige kreatiwiteit. Die gemeenskap egter sien Miss Helen as mal en jong kinders het selfs haar huis al met klippe bestook. Miss Helen is 'n weduwee wat nie van hierdie verlies kan herstel nie. (Dit word later 'n belangrike kwessie tussen haar en Byleveld: hoe sy vertroosting na die begrafnis presies die teenoorgestelde effek op haar gehad het.)

Elsa is ook eiewys. Sy leer haar bruin skoolkinders om gesag te bevraagteken. Daar mag selfs dissiplinêre stappe teen haar geneem word. Miss Helen verklap klein skinderverhale van die gemeenskap.

Miss Helen probeer die brief wat sy aan haar geskryf het, wegpraat. Soos die brandwonde aan haar hande. Ons hoor van Elsa se liefdesverhouding met 'n getroude man, 'n aborsie en hoe sy 'n jong swart vrou op pad na Miss Helen 'n geleentheid gegee het. Waar is daardie vrou en haar kind nou? Elsa weens haar afgelope geskiedenis van liefdespyn en verlies, identifiseer sterk met hierdie vrou se lot.


Die objekte (kamele, uile, piramides) wys na die heilige stad van Mekka.

Dominee Byleveld bring papiere wat Helen moet teken. Dit is 'n dokument vir aanvaarding tot die ouetehuis. 

Haar swart helper (Koos Malgas se vrou) gaan ook die dorp verlaat en hierom dwing hy haar, subtiel, om ouetehuis toe te gaan.

Byleveld wys op die brandwonde en die ongeluk - volgens hom kan sy nie meer na haarself kyk nie. Elsa is ontstoke hieroor; terselfdertyd besef sy dat hy werklik omgee vir Miss Helen en verlief is op haar.

Miss Helen met Elsa se bystand fnuik die ouetehuis. Sy bly in haar eie Mekka.

II

Daar is vinjette en vertolkings wat 'n mens vir altyd sal bybly.

Marius Weyers met 'n aartappel (pomme de terre) wat die aardsheid van Fugard se werk beklemtoon teenoor Sandra Prinsloo se aangrypende Mekka-monoloog.


Weyers, dit sien ek met die eerste besoek, sweet en is ten volle een met sy karakter; Prinsloo is 'n oumens met grimering op haar bene om spatare en merke te beklemtoon. Sy stap en praat soos 'n oumens.

Alles wentel rondom lig en donkerte en die soeke na selfverwesenliking.

Aldrie karakters is gefolterde mense - ook die predikant in sy beroep wat voorskriftelik moet optree binne 'n gemeenskap wat afwykendes en kunstenaars verstoot. 

Hy betig Helen vir haar "idolatry" en Fugard teken hier 'n rasegte Afrikaanse predikant. Hy dink haar lewe het so grotesk geraak as haar kreasies.

Met haar man se begrafnis het hy die vensters toegemaak - iets waarvoor Helen hom verwyt.

Die herinnering aan die begrafnis van Stephanus is dan die keerpunt vir Helen en Byleveld. Opgehoopte pyn en verwyte, kom na vore.

"There is more light in you than in all your candles together", troos Elsa vir Miss Helen. 

As jonger teenspeler is Emily Child vol in die kol: aanvallend, geopinieerd - en tog weerloos in die geselskap van twee akteurs wat al so dikwels saam op die verhoog opgetree het.

En die vertelling oor vertroue, bly ingeweef. Die vader wat die kind beveel om te spring, hom nie vang nie en dit dan gebruik as 'n les dat jy niemand moet vertrou nie, pas binne die opset van die drama.

III 


My notas is neergeskryf in 'n klein boekie (in die donker). 

In die werklike lewe het Helen Martins in 1976 selfmoord gepleeg. Fugard gebruik elemente van haar lewe en verpak dit in 'n aangrypende drama.

Jacques Lacan se se triadiese verhouding tussen die verbeelde (Miss Helen), die simboliese (Elsa) en die reële (ds Marius) dimensies kom ook in die spel.

Athol Fugard se sterk drama lewer kommentaar op kreatiwiteit, gesag en hoe die gemeenskap optree teen afwykende gedrag.


© Joan Hambidge