Sunday, April 8, 2018

Resensie | Daniel Hugo – Openbare Domein (2018)

Daniel Hugo – Openbare Domein. Naledi, 2018. ISBN 978-1-928426-07-3

Resensent: Joan Hambidge

In hierdie bundel Openbare domein is die digter Daniel Hugo besig met 'n kaart en transport. Dit is 'n bestekopname van die ouer digter wat terugkyk na sy jeug, sy sieninge oor geloof soos in “Stoepsermoen” (12), die natuur, die mens se bestaan op aarde (en hierby inbegrepe die misterie van lewe en dood). Onstlape digters word aangespreek soos Lorca, Opperman, Uys Krige, Hennie Aucamp, Barend J. Toerien, Phil du Plessis, Gerrit Komrij en Ina Rousseau. Daar is gesprekke met Van Wyk Louw, Breytenbach en Johann de Lange, 'n kopknik na M.M. Walters en Pieter Fourie. Op 'n keer land Totius, Marais en Trantraal in een gedig ("Winternag").

‘n Belangrike tema is die gesprek tussen Hugo en Pieter Fourie: ‘n gedig heet “Knapsekêrel” (55) en Fourie in sy Bidsnoer plaas daardie gedig op die flap. Bepaald speurwerk! 

Daar is 'n gesprek tussen twee digters in "Tantalus", te wete Van Wyk Louw en sy seun Peter. In “Suising” (74) word Louw direk aangespreek in sy bekende woorde “my land, my dor, verlate land: / iets wens olywe groei in jou:”

Daar is kritiek op die selfie-generasie en huldeblyke oor gestorwenes. Aangrypende gedigte oor huisdiere en selfspottende verse oor katers.

Die digter is telkens besig met 'n siening van die digkuns en watter belangrike plek dit in sy lewe neem:

Heem III

’n man met die naam 
Brett Bard het hulle gekweek:
ons tuinsipresse
daarom staan hulle 
so regop en attent gespits
soos skrywerspenne
daarom grif hulle
so soepel teen die hemel
haikoes in die wind

In die gedig “Dekonstruksie” (103) is daar iets wrangs te bespeur oor die rol van die digkuns wanneer Derrida se sous rature (under erasure) ingespan word om die nutteloosheid en terselfdertyd dwingendheid van hierdie private spel te illustreer. Weliswaar ‘n private spel wat deur publikasie in die openbare domein land. Hierdie klein vernufsvers is ‘n besliste sleutel vir hoe die leser die spel tussen die private / openbare moet ontsluit.

Die openbare en private word dus telkens teen mekaar gestel:

Woorde vir die binnekamer

liefdesverklarings hoort in die binnekamer
word gesê en ek stem saam: openbare reklame
is ’n verleentheid – daarom uiter ek dit graag, 
liefsteling, in die hermetiese ruimte van ’n gedig:
hier waar ek agter my lessenaar sit, kan ek dit waag
om te fluister wat ek van die dakke wil verkondig

As vertaler lewer hy kommentaar op taal soos in "Klaaglied” (61) waar Afrikaans se “agterlike grammatika” onder die loep geneem word. In “Die digter as wesp” (59) word Hugo verse oor ander as venynig bekyk word. Die vers word ten slotte ‘n slim self-aanklag: dit wat jy oor ander skryf, word ‘n boemerang.

Daar is vernuftige, speelse verse soos:

Goliardegebed

Here, vergeef my al my flaters
my wilde kapaters
saam met gewillige maters
en meisies – snoer tog die snaters
van jaloerse haters
en agterafpraters
daardie gefrustreerde ou saters
met verkrimpte knaters
Here, bewaar my van die paters
met hulle wywaters
en ná diep nagte met konfraters
Here, lawe my oggendkaters

Vir my is Hugo ‘n onbetwiste vakman. Hy is op sy beste wanneer hy speels dig en sy portretgedigte oor ander digters is onthoubaar. Die liefdesgedigte in hierdie bundel vind ek minder. Die beste liefdesgedigte word vanuit ‘n posisie van afstand geskryf – ons dink hier aan Carol-Ann Duffy se Rapture wat die volledige geskiedenis van ‘n liefdesverhouding karteer. Wanneer die digter nog die geliefde óm hom as toeskouer en binne-leser innooi, voel hierdie leser dat hierdie gedigte net vir die geliefde se oë bedoel was?

Die digter ondersoek dieselfde bekende temas in sy digkuns en die meeste digters keer telkens terug na dieselfde “scene of the crime”. Dit sou ‘n interessante studie wees vir die speurende leser om te sien hoe Hugo temas hérbesoek en ontwikkel.

Prins Albert word in mooi gedigte herken as ‘n ruimte van inspirasie.

Daar is wel in hierdie bundel ‘n groter bewustheid van die natuur en die mens se geringheid binne die groter opset van die kosmos.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)