Monday, April 23, 2018

Resensie | Lodewyk G. du Plessis - Die Dao van Daan van der Walt (2018)

Lodewyk G. du Plessis – Die Dao van Daan van der Walt. Tafelberg, 2018. ISBN 9780624082521 

Resensent: Joan Hambidge

Bemarking is ‘n uiters belangrike aspek van ons moderne kultuur. Sekere boeke kry baie aandag vanweë buite-tekstuele opheldering of selfbemarking. Kyk na die ongelooflike pad wat Bibi Slippers se digbundel nou al loop.

En hiermee het hierdie leser geen probleem nie. Bemarking het egter ook 'n donker kant; dit skep naamlik 'n verwagtingshorison waaraan die tersaaklike boek of 'n tweede boek nie kan voldoen nie.

Sekere boeke of skrywers word leibokke of rigtinggewers - van die Middeleeuse praktyk om ‘n klokkie om die nek van ‘n gekastreerde ram te hang. So kon die boer dus weet waar sy skape is in digte mis deur die geluid van die klokkie te volg.

Sopas het daar ‘n roman verskyn, Die Dao van Daan van der Walt, en op die blakerteks voorspel Frederik de Jager: “Hierdie boek behoort ‘n golf deur die Afrikaanse letterkunde te stoot.”

En in Rapport van 15 April voer De Jager ‘n onderhoud met die skrywer (Daan dwaal | Netwerk24. Besoek 17 April 2018).

Die boek is geskryf onder ‘n skuilnaam Lodewyk G. du Plessis (wat glo streng bewaak word) en in die onderhoud het die skroomvallige skrywer baie te segge oor sy roman.

Is dit dalk Kerneels Breytenbach?, vra ‘n vriend.

Die briljante, skreeusnaakse Etienne Britz?

As jy wil Thomas Pynchon wil speel, hoekom media-onderhoude toestaan?

Boonop verklap hy volgens hierdie leser veels te veel van die roman se binnewerkinge! So hierdie onderhoud is iets van ‘n spoiler.

Die roman, wanneer 'n mens wegspring, is duidelik 'n "nuwe" stem. Dis 'n manlike Sy kom met die sekelmaan waar die leser voorgestel word aan ene Daan van der Walt, 'n eertydse Kalahari-boer wat 'n vertigo-aanval kry op besoek aan sy seun in China. Sy seun laai hom af by 'n monnikeklooster en hier, onder leiding van Meester Yan leer hy tai chi om sy letterlike en psigiese balans te herstel. 

Die roman is 'n brief-cum-belydenisroman. Briewe vanuit Die Tempel van Ewige Vrede (Longshan, China), gedateer 5 Maart (s.j.)  of van Ystervarkfontein aan die oorle' vrou, Magrieta, en gesprekke met die hond Kaspaas. (Kyk watter taal verstaan Kaspaas!) 

Calvinistiese skuldbesef oor gay-wees loop soos 'n swart draad deur die boek en die wel en wee van die (wit) Afrikanerman wat transgressiewe sekservarings in 'n koshuiskamer in Potch het, is die tema in die roman. Verder handel die boek oor taalstryde, oor die regte van Afrikaners (soos die gedig op bladsy 83) met vele verwysings na die Bybel en mitologie. Oosterse denke. Dwars en taai klappe word uitgedeel na moderne letterkunde wat nie die "kringkomposisie" (82) verstaan nie en word dus 'n soort rigtingwyser (vingerwysing?) van hoe die skrywende instansie wil hê ons sy boek moet lees. Die jargon van moderne literêre teorie word gekritiseer (80) en die grand narratives van Foucault ('n belangrike kode) word betrek. Die Sestigers het glo lesers vervreem met hul pogings om die Franse “onverstaanbaar" te laat klink (69).

Herodotus, Homeros, Adam, Eva en die hele santekraam van vader- en kindmoordernaars word betrek. Die Landboubouweekblad en doodsberigte in Die Burger word deel van die narratief.

Magrieta, weet die verteller, het vergeet om haar leesbril saam te neem na die ewigheid en hy vereis van haar (en dus van die leser), 'n noukeurige lees om sy geskiedenis te verstaan. Magrieta word sy alter-ego in hierdie roman.

Hier word 'n mens danksy die endnote ook verwys na daardie klassieke teks van die Amerikaner Francine Prose: Reading Like a Writer (Harper Collins, 2006). Veral haar liefde vir Tsjekof se kortverhale waarin hy reëls breek, is relevant.

Studies oor homoseksualiteit (o.a. Compton), die Chinese en Japannese letterkunde, is verdere ritingwysers in hierdie roman geskryf deur 'n gierige leser van 'n grappie oor 'n kaal vrou tot die Gilgamesj-epos, Brandaan, Blake, Yourcenar, Gabriel García Márquez, unsw.

Augustinus se worsteling met die seksdrang en erfsonde word betrek.

Skuldgevoelens oor homo-erotiese verhoudings en concupiscentia (wellustige drang) word beskryf. Met humor.

Is daar nog steeds mense wat in die jaar 2018 oor sulke gevoelens wroeg? Is dit werklik hoe mense ge-Ander is? Ja, dit is. Binne 'n samelewing waar beuselagtighede soos of jy 'n Sondagkoerant kan lees op die heilige dag 'n debat was, terwyl mense sonder kos buite die bevoorregte orde geleef het.

So beskou, is die roman 'n dokument van hoe 'n wit man wat tot die orde van die "annerster soort" behoort (het), gedwing was om te trou.

Soms is dit snaaks; ander kere pynlik. Die ek-verteller is wroegend, soekend.

Daar is skokkende tonele: ‘n plaasmoord; ‘n hofverskyning en ‘n aanhouding in ‘n sel; ‘n eis om in Afrikaans te getuig; ‘n konfrontasie tussen vader en seun oor laasgenoemde se liefde vir ‘n Chinese vrou, ensomeer.

Die beskrywing van China en ‘n druk lughawe word eg weergegee. Hoe Chinese eet en hul toiletgeriewe is vol in die kol. ‘n Skerp analise van die Mao se impak op China en die vernietiging van ou tradisies, ou kultuur, ou gebruike en onafhanklike denke, word weergegee in die ervaring van ‘n Chinese vrou (308 – 309).

Die roman beweeg in ‘n sirkelgang: agtertoe en vorentoe. Dit word ‘n psigiese bestekopname en soektog na innerlike vrede wat die meester vir Daan leer. Die krag van taiji  in sagtheid, in ontwyking – nie in konfrontasie nie. Die meester leer hom hoe om te oorleef deur sagtheid te erken (291).

Dit is dan uiteindelik ‘n boek van individuasie in Jungiaanse terme: ‘n versoening van jin en jang. Hierom word ryk verwysings uit die Weste en Ooste saamgesnoer in sy gemoed.

“Wat ons soek, is ons nie beskore nie; wat ons die minste verwag, is deur die gode vir ons voorberei”, lui ‘n aanhaling uit die Bacchae van Euripides.

Watter taal word in die hiernamaals gepraat? Is daar spieëls in die hemel? Vir die verteller ‘n bron van kommer dat dit dalk Engels of Mandaryns mag wees.

Daar is mooi oomblikke, aangrypende en skokkende vinjette van ‘n voormalige regsgeleerde wat Latyn onder die knie het en die klassieke tekste ken. Hy het dit na sy tweede jaar gelos. (70) Waarskynlik hierom kan hy hom oopstel vir ander kulture, al is dit soms moeilik.

Daar is hierdie pragvers:

Herinnering

Waarmee vergelyk ‘n mens sy lewe?
‘n Verbyvliegende gans.
‘n Spoor in vars sneeu,
voor hy op sy vlug in die ruimte verdwyn.

Su dong Po 1037 – 1101

Uiteindelik vind hy Songtao en in die brief van 20 November verneem ons van die ander karakters se doen en late (en sterwe). Met die wete dat dooie Afrikaners ‘n toeristeaantreklikheid geword het.

Alles opgeteken in Daan se Historia.

Met endnote en verwysings wat baie leersaam is.

Of die roman werklik 'n golf gaan stoot deur die Afrikaanse letterkunde, sal ons moet sien.  Daar was immers Etienne Leroux wat die kollektiewe skuld van die Afrikaner op verskillende wyses behandel het.