Sunday, March 25, 2018

Gedig | Joan Hambidge - Marilyn Monroe: stil lewe in wit (2018)

Marilyn Monroe se lyk in die sterfbed

Weggedraai van die kamera
die foto van 'n lyk
met merke, yke
op die rug uitgekerf
bly sy slaap daardie slaap
van die rusteloses
ingebed en ingelê.
Oordosis of moord?
Die mes van die lykskouer
die hand van elke digter
(en speurende leser)
soekend na antwoorde
of uitsluitsel
in gedig na gedig:
ontleders, agoniste,
poësie-paparazzi,
en ander oopvlekkers
staan langs dié bed
nes die priester,
afwesig en gebedloos,
aan die leuens toedruk
op die imperium se bevel.
Pyn het geen protokol,
dis 'n ongenooide gas,
waarop haar rug
kilbloedig iets
soos 'n sug
van ontvlugting slaak.
'n Bottel slaappille
langs die skrynende
instrumente wat
moes oopmaak
en nooit weer
haar heelhuids
sou kon toekry
nie, nooit weer nie.
'n Onopgeloste saak
met digtende jurielede
terugkerend, soekend
na haar én die oerakkoord:
lewe onverbiddeliker
as dié konserf.

© Joan Hambidge