Chris Karsten - Die respektabele meneer Hartslief. Human & Rousseau, 2014. ISBN: 9780798167840.
Resensie: Joan Hambidge
I
So word Chris Karsten se jongste roman opgesom:
Wanneer ’n nagklubbaas die katelknaap van sy minnares laat vermoor deur ’n huurmoordenaar, loop hy hom vas in die vermoorde se familie, die Hartslief-clan. Elie Hartslief is die brein; Antie Engel die hart; neef Boela die spiere; en die verfynde Moks die bek. Elie is deesdae amper respektabel en mnr. Morkel van Morkel Wealth se regterhand, maar sy broer se moord noodsaak dat die Hartsliefs laer trek. Maar hulle teenstanders is die Bogdan Petrescu en sy huurmoordenaar Lood – ’n man met ’n aanleg om mense op kreatiewe maniere dood te maak.
Hierdie roman het 'n besondere positiewe ontvangs beleef. Veral die skrywer se besondere taalvermoë is uitgesonder. Vir my is die mees uitstaande asapek van hierdie roman die nougesette navorsing: oor die saks (en die geskiedenis van die instrument); cuisine (96); klere (o.a. pasjmina vesels, 169) kuberboelies en forensiese oudits.
Die impak van moderne tegnologie en hoe foto's iemand se privaatheid binnedring, word uitstekend beskryf. Die skrywer verwys ook die leser na Nina Burleigh se artikel "Sexting, Shame and Suicide: A shocking tale of sexual assault in the Digital Age" wat 26 September 2013 in Rolling Stone verskyn het.
Ook die familiestruktuur word insigryk beskryf (soos op bladsy 70).
Nou onlangs kyk ek weer na Charlie Chaplin se City lights en in die nawoord oor hoe die film gemaak is, merk iemand op: Chaplin was die poppemeester van die pop, Charlie Chaplin.
By die lees van hierdie komplekse misdaadroman, Die respektabele meneer Hartslief, is die leser bewus van Karsten se enorme kennis en insig in die gemoedslewe van 'n psigopaat, naamlik die huurmoordenaar, Lood wat Bogdan Petrescu se bevele uitvoer. Op 'n besondere wyse word Elie Hartslief se forensiese ondersoek na bedrog en geldwassery onthul.
As liefhebber van speurverhale vind ek tog die volgende steurend. Speurder Kosile haal uit Sherlock Holmes aan? En die slot waar Elie, Lood en die Boef mekaar ontmoet, vra ongelooflike verbeeldingspronge van die leser. Soos die korrekte, suiwer Afrikaans wat booswig én weldoener besig. Deborah Steinmair se resensie ('n Bietjie tiemie by jou derms? Besoek 24 Desember 2014) het my aan die dink gesit.
Ons moet hierdie roman dalk as 'n parodie benader. Parodie nie in die sin van send-up of grap nie, maar as teks wat al die kenmerke en stylfigure van die misdaadroman wil uitlig op 'n self-bewuste manier. Die Hartslief-clan van Brixton versus die King of Sleaze. Nou is ons by Francis Ford Coppola se voortreflike Godfather-films (en ja, die films is beter as die roman van Mario Puzo) waar die rol van die familie, die Rooms Katolieke Kerk in opposisie geplaas word met geldgierigheid en boosheid. Al Pacino as Michael Corleone moet uiteindelik die hoogste prys betaal vir sý optrede wanneer sy dogter sterf as die offer vir sy oortredings. (The Godfather (1972) - Michael Corleone | Al Pacino Movies. Besoek 24 Desember 2014)
Elie was eens 'n flentergat en as slim jong man raak hy betrokke by sy baas se dogter. Hy moet die orde herstel ná die dood van sy broer - wat koploos gelaat word - en die selfmoord van sy suster.
Karsten is 'n bedrewe skrywer en die slot meen ek dui daarop dat daar nie closure is nie, maar eerder 'n opvolg.
In hierdie roman skryf Karsten 'n teks wat die struktuur van die misdaadroman blootlê en lewer hy kommentaar op ons huidige geslag lesers se obsessie met speur- en misdaadverhale. Reeds die titel wat verwys na Meneer Hartslief is tong-in-die-kies. En die naamgewing is so reg in die kraal van Vladimir Propp se Morphology of the folktale (1928 / 1958) waar elke naam al beskrywend is: Antie Engel, kok, Moks, Lood (die huurmoordenaar) ...
'n Tatoeërmerk Dot?
'n Verwysing na Dracula?
In die wyse woorde van Umberto Eco:
"I think of the postmodern attitude as that of a man who loves a very cultivated woman and knows that he cannot say to her "I love you madly", because he knows that she knows (and that she knows he knows) that these words have already been written by Barbara Cartland. Still there is a solution. He can say "As Barbara Cartland would put it, I love you madly". At this point, having avoided false innocence, having said clearly it is no longer possible to talk innocently, he will nevertheless say what he wanted to say to the woman: that he loves her in an age of lost innocence." (Umberto Eco Quotes. Besoek 24 Desember 2014)Om Deon Meyer te troef, moet 'n misdaad/speurskrywer die kodes op sy hart se mou dra.
Ns.
Die volgende twee resensies deur Cas van Rensburg (Meneer Karsten se stemmige afgryse) en Deborah Steinmair ('n Bietjie tiemie by jou derms?) open eweneens interessante perspektiewe op die roman.