Tuesday, December 2, 2014

Johann Lodewyk Marais - In die bloute (2012)


Johann Lodewyk Marais - In die bloute: Gedigte. Cordis Trust, 2012. ISBN 978 0 9870397 1 2
Resensent: Joan Hambidge

I
Die gesiene digter Johann Lodewyk Marais het ‘n bundel gepubliseer deur die Cordis Trust. Dit heet In die bloute en beslaan 77 bladsye. Die bundel se voorbladontwerp is van Lynette ten Kroonden.

Waarom sou ‘n gesiene  digter soos Marais wou publiseer by Cordis Trust? Hy is immer bekroon en het belangrike bundels gelewer by hoofstroom-uitgewers soos Human & Rousseau en Protea. Hy is bekroon met die Orde van die Goue Pen in 2012 deur Cordis Trust. Hieroor geen kommentaar.

Die digter het hom die afgelope paar jaar toegespits op die ekologie en verskeie gedigte gelewer wat sou kon deurgaan as sogenaamde natuurgedigte. Hierdie bundel word tipeer as “’n Seeboek”. 

Reeds met die progamvers verneem die leser dat die digter ‘n vers wil skryf “met seesand tussen die blaaie” (9).

Tierkourie
Cypraea tigris

‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,
selfs die binnekant in detail verbeeld
en voor die leser se oë laat leef.
Ek het met verwondering geluister.
Tuis het ek die skulp in my hand geneem,
hom om en om gedraai en goed bekyk.
Hoe moet ek dan te werk gaan as ook ek
dié sieraad uit die see nou wil vereer?
Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ‘n woord op papier sit?
Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man van Maputo loop pols
by wie ek hom vir ‘n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?
Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het?
Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.

Vir T.T.Cloete

II
In hierdie "Seeboek" gebruik die digter telkens wetenskaplike name om ‘n bepaalde vis te beskryf. Dit getuig van besondere navorsing en die spel tussen wetenskap en digkuns word volgehou met die digter wat telkens sy eie siening, naamlik die posisie van die digter as waarnemer en optekenaar, na vore bring. Die invloed van N.P. van Wyk Louw en die gesprek met hierdie digter is vanaf Marais se debuut steeds aanwesig, soos in die gedig “Op ver strande” (74) waar die digter op die strand skryf:

Terug op die strand hurk ek neer
en met my vinger teken ek
in die wit sand ‘n halfmaan, kruis
en sirkel met pyle deurgetrek.

Ons vind verwysings na notaboeke en die digter wat telkens bewus is van die grootsheid van die natuur waarteen hy sy digterlike kleim moet afsteek. Selfs sy hand word ‘n notaboek soos in “Manatoka” (56).

Te midde van die digproses en die ars poetiese bestekopname is daar ook heerlike humor aanwesig:

Daar’s stede

Daar’s stede in die see!
In die Groot Barrière-rif
is die koraal deelhuise!

Die sponse is die 
suiweringstoestelle
en die skaaldiere
die straatveërs!

Ja, daar’s stede in die see!

Daar is genoeglike beelddigte – soos onder andere oor Jacques Cousteau (62) en Kenneth S. Norris (63) – en telkens word die unieke aard van so 'n natuurkundige se werk (en lewe) belig. Cousteau se Neus is so krom soos ‘n dolfyn se vin, wat uiters tersaaklik is om hierdie man binne sy leefwêreld vas te vang. Jan en Marjorie maak ook ‘n buiging in die bundel.

Uiteraard het so ‘n natuurbemoeienis ook frustrasie tot gevolg wanneer die digter besef dat hy die eerste een is om oor die gelitte rooiwier ‘n gedig te skryf.

Duthie se korallina
Duthiophycus setchellii

Ek soek in die bundels om my
‘n aanknopingspunt vir dié vers
oor die skaars, gelitte rooiwier
uit branderbespoelde sloepe
laag af in die getygebied
wat ek graag digterlik wil ken,
maar daaroor het nog geen digter
ooit ‘n dooie woord gerep nie. 
(51)

Daar word ook ‘n bietjie die spot gedryf met Derrida se siening van spore en ‘n leerugseeskilpad gee haar mening van sake (47) wat die leser dwing om hierdie gedigte as meer as blote natuurverse te benader. 

Die “blatante venyn” van die barrakuda wat losruk en in die see verdwyn, word ‘n beeld vir die digter se onmag om onbevange te kan dig oor ‘n onderwerp. Die spore – dit waaroor Derrida immers argumenteer in De la grammatologie (1967) – maak van skryf ‘n komplekse tekenspel.

Die skryfproses word op ‘n ironiese wyse beskryf in ‘n gedig oor die inkvis (32):

Die inkvis word in die treilnet
van die woord harteloos gevang.
Swyg sou nie onvanpas wees nie:
jou sien en weet bra sonder nut.
Maar met die diefstal van sy ink
bring jy hom meteens aan die lig.

Wanneer die digter te staan kom voor die natuur, bely hy sy onmag. Dit is nie Johann Lodewyk Marais se beste verse nie, maar as ‘n kladboek of optekenboek bevat dit mooi momente.

III
Sopas het daar ‘n nuwe bundel van Marais verskyn, nogeens by Cordis Trust, met die titel Nomade. Op Versindaba word as volg daaroor geskryf (Besoek 1 Desember 2014):

Benoeming is die oer poëtiese aktiwiteit, die “local habitation and a name” waarvan Shakespeare praat, en in Nomade is dié twee aspekte van spesiale belang: plek, en benoeming, toe-eiening, her-ken-ning. By Marais word dit ‘n sistematiese verkenning en her-ken-ning met bundels wat soms aan ‘n diergroep (Aves) of streek (Plaaslike kennis) gewei én gewy word.

Die digter as optekenaar, as ontdekkingsreisiger in ongekaarte streke, is reeds ‘n bekende strategie uit sy oeuvre. Wat gekarteer word, is nie net geografie nie, maar die bloedige geskiedenis van ’n kontinent, die stryde om besit daarvan. Die tydelikheid van tekens, sy dit kaart, of graffiti, of gedig. Die reis is nie net geografies nie, maar ook ‘n reis terug in die tyd, en deur die taal.

Naas die historiese word terugbeweeg in die persoonlike geskiedenis, en daar word op poëtiese wyse besit geneem van ‘n verlede, ‘n verbintenis met grond word bevestig. Marais reis deur die Afrikaanse poësie met digterlike reisgenote, en ook deur sy eie oeuvre.

Met Nomade trek Marais verder noord en verwerf nuwe wêrelde vir sy poësie, maar ook vir die Afrikaanse poësie in die breë.


Biografie besonderhede

Johann Lodewyk Marais is bekroon met die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), en die SALA-toekenning vir Diorama (2012). Hy het reeds agt bundels gepubliseer en stel ook twee bundels omgewingspoësie en een ter herdenking van die verskyning van “Winternag” saam. Marais is bekend vir “groen” skryfwerk en vir sy navorsing oor Eugène N. Marais en die geskiedenis van Kenia waarooor hy gereeld artikels skryf.