Saturday, April 27, 2013

Met ’n mond vol films: Pedro Almodóvar

Pedro & Agustin Almodovar, Cannes


’n Mens praat nie met ’n mond vol kos nie. En jy praat ook nie met vreemdelinge in ’n restaurant by die tafel neffens jou nie. Hoe kan ek my nie vererg wanneer ’n mens iets bespreek en ongevraagde kommentaar word langs jou opgeskep nie.

Jy praat net in ’n noodgeval.

So sit ek en drie vriende in die Oseaniese Cornucopia en twee gaste, met ’n gids, stap in. Dis ’n Saterdagmiddag. Hulle praat Spaans met mekaar. My vriend, ’n sjef, leun oor na hulle en waarsku: “Moenie die vis van die dag eet nie. Dit is smaakloos.”

Ek hou hulle dop uit die hoek van my oog. Twee elegante Spanjaarde met ’n private gids. Ons kwetter voort aan ons tafel. Eet kalamari en tjips en drink lekker rooiwyn. Kwinkeleer en gesels oor die jongste films.

Ek hoor die Spanjaarde is op pad Wildtuin toe – hopelik met regte wildsvleis.

Die twee vreemdelinge staan op van hul tafel. Die man het ’n safari-baadjie aan met ’n pen in sy linkerste bo-sak. Hy bedank ons vir ons raad.

“En vanwaar is u?” vra ek, die nuuskierige agie.

“Barcelona.” En voor ek myself kan keer, begin ek hom vertel hoeveel ek hou van die films van Pedro Almodóvar. En hoe ek die eerste keer Tie me up! Tie me down! doer uit 1990 in New York gesien het in ’n matinee-vertoning voordat die filmmaker beroemd was en hoe ek en ’n ryk New Yorkse vrou agterna gillend oor die waansinnige humor gelag het in die gangetjie na buite.

Talk to her, Pedro Almodóvar

Hy seg ja. Hy ken dit. En hoe hierdie filmmaker in Talk to her van 2002 verkragting
problematiseer en dat ’n mens eenvoudig waardering moet hê vir sy vernuftige aanslag: Is dit wérklik verkragting?  Of het hierdie geobsedeerde man in liefde haar tot lewe gewek? Jy kry eweneens ’n blik in die psige van ’n geobsedeerde en die gebruik van ’n swart-enwit-filmpie maak alles meer kompleks.

Met Women on the verge of a nervous breakdown uit 1988 het hy sy internasionale deurbraak gemaak.

Toe hy ’n X-rating ontvang in die VSA vir hierdie film was Almodóvar woedend oor die feit dat mense kon dink sy films is pornografies. En ek dink ook dit was ’n dom uitspraak.

Kika, Pedro Almodóvar

In Kika van 1993 lewer hy felle sosiale kommentaar en op die mag van die massa-medium, veral TV. Trouens, in een van sy rolprente is al sy vrouekarakters aanwesig, verduidelik ek. En dit is verfilm by sy huis met Victoria Abril, sy gunsteling, ook daar. En Carmen Maura, die eerste groot ster in sy rolprente wat hy later verruil het vir Abril.

All about my mother, Pedro Almodóvar

Nee wag, dalk is die hoogtepunt All about my mother, daardie aangrypende rolprent oor ’n vrou wie se seun sterf in ’n ongeluk op die aand van sy verjaarsdag. Sy geskenk is ’n toneelopvoering van A streetcar named desire in Madrid. Etseban, die seun, wil ’n skrywer word en sterf wanneer ’n motor hom tref wanneer hy die beroemde aktrise se handtekening wil hê. Sy moeder, ’n verpleegster, werk in ’n hospitaal vir orgaanoorplanting. Ná die kind se dood, soek sy na Lola, die seun se vader, vertel ek vir my vriende . . .

Almodóvar het immers Banderas en Penelope Cruz ontdek! En kan melodrama en klug vermeng op ’n besonderse wyse. Net soos Tennessee Williams, verstáán hy eensaamheid en mense wat buite die “normale orde” leef ten volle. En beide kan briljante dialoog skep.

Dwelms, transseksuele, orgaanoorplanting, geloof – die hele boksemdaais vind ons hier.

Hierom sy swart humor in die Patty Diphusa-send ups.

Die Spanjaard se vrou glimlag. Sy is ’n statige vrou met ’n bril.

“Dink u ook Rossy de Palma is ’n gil?” Dis sy wat tog opmerk mans het nie kopiereg op snorre nie.

En vertelle hom hoe hierdie Spanjaard sy familie inspan om as karakters in sy rolprente op te tree en hoe hy ’’n werklike toneel gebruik het by sy huis – waar hy al sy vrouekarakters versamel het – en dit in ’n film plaas.

Ek sien die man lag skelm.

“Hy is my broer. En ek is sy vervaardiger.”

Hy teken sy naam in my dagboekie – “Many kisses, Agustin Almodóvar”.

En agterna het ek die voorreg om hom te herken in The skin I live in.

En hoe bly is ek dat ek nie met ’n mond vol kos nie, maar met ’n mond vol films gepraat het.

Todo sobre mi madre . . .

Wens ek kon in een van Pedro se films speel.

Skakel:
Pedro Almodóvar/ 'It's my gayest film ever' | Film | The Observer


[Hierdie rubriek word met vriendelike vergunning van BY, Die Burger geplaas.]