Carié Maas. Koljander.
Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 5926 5.
Resensent: Joan Hambidge
Koljander het die
debuutprys verower in die Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012 toe Ingrid
Winterbach met die groot prys weggeloop het. Dit gaan die hele tyd in hierdie
roman om twee wêrelde: jeug en hede; kunssinnigheid teenoor sinisme/ wetenskap;
Suid-Afrika teenoor Mali (Wes-Afrika); skryf teenoor orale vertelling (griot). Die roman se voorblad rig dan
ook die leser na hierdie, vir die meeste Afrikaanse lesers, onbekende,
eksotiese wêreld. Boonop is die roman van ‘n baie handige leesgids voorsien wat
‘n mens help om baie van die Timboektoe-feite korrek te interpreteer. In
Afrikaans, sover my kennis strek, het veral Antjie Krog hierdie gegewe
diepsinnig gekarteer in haar digkuns (Kleur
kom nooit alleen nie) en in ‘n Ander
tongval. In haar bedankings word die naam van wyle Gretel Wÿbenga vermeld –
tereg ook, want hierdie skrywer en letterkundige het enorm baie waardevolle
werk gedoen met tekste wat buite die normale verhaalgang beweeg. Daar is ook
toespelings op Wilma Stockenström se Die
kremetartekspedisie (43).
Hierdie roman gee ‘n besondere blik op trauma en hoe
families swaardra hieraan. Meer nog, die ervaring van vroue se trauma en pyn
word werklik besonders weergegee in hierdie teks. Die vroulike verteller neem
haar ma se dagboek saam (dit word in kursief gedruk) om die moeder se lyding te
probeer begryp. “Stilte kom vanself”, lees ons,” Dit is ‘n pantser teen die
weldenkende bemoeienis wat die versterking in ‘n gees, hoe weifelend ook al,
weer kan lostorring. Stil smart pas in die hart soos ‘n gladgewaste stuk seep
in ‘n reisbakkie”(246). Hoe die moeder nie kan uiting gee aan háár pyn voor die
berader nie, word besonder knap vertel. Dis volgende keer u beurt, mevrou,
verneem ons. Uiters verminderend dus teenoor die vrou wat ‘n stilgemaakte is.
Die dood van die broer is dit wat die vertelling voortstu.
Hieraan gekoppel, die verwerking van van sy dood en hoe daar klarigheid moet
kom oor aandadigheid, al dan nie, en vergifnis. Die geboorte van ‘n kind
aktiveer al hierdie emosies.
Die oppervlakverhaal handel oor Karen Verhoef se lewe en
haar verhouding met haar siniese vader, Hendrik, ‘n fisikus. Verskillende
opposisies, soos hierbo genoem, word in die teks uitgewerk: wit teenoor swart
Wes-Afrika, verlede teenoor hede, jeugervarings teenoor ‘n volwasse lewe,
ensomeer. Karen is ‘n ontwerper en haar besoek na Mali vergestalt ‘n innerlike
reis, saam met haar gids, Oumu. Die beskrywings van haar baba is lewensgetrou.
So ook die reaksie op die gesteelde manuskrip en reisgids.
Maar die opposisies word ondermyn deur die sirkelgang van
die beweging terug in die tyd. Met elke ervaring word dit anders verstaan en in
die gemoed van Karen geïntegreer. Haar verskillende verhoudings – veral met
haar man, haar vader, haar kind, Oumu en ‘n geliefde – word deur ons beleef.
Uitstaande in hierdie vertelling is die poëtiese beskrywing
van Timboektoe:
“Is Mali die aardse prag van sy modderdoek? Is hy die
verwikkeldheid van sy boukuns en sy wêrelderfenismoskees? Is hy die
arbeidsaamheid van die vroue wat mannakoring stamp en die vissers wie se
liggies donkernag nog op die Niger flits? Is hy die koraklanke en rinkelende
kalbastamboeryne wat Oumu se neef op ‘n CD het of die intellektuele tradisie
van die horingoue manuskripte met die goudkalligrafie wat sy nog saam met haar
pa op die uitstalling in die Kasteel in Kaapstad gesien het?” (236).
Dit is dan ‘n teks wat vra om ‘n Jungiaanse lesing. Daar is
sowel ‘n buite-reis as ‘n reis na binne om helderheid en klaarheid te vind. Die
werklike reis teenoor innerlike reise van die vader, die ander verteller, en
die dogter wat tot klaarheid probeer kom, word teenoor mekaar geplaas. Jung
teenoor Heisenberg se onsekerheidsbeginsel.
Vir Karen is die reis ‘n suiweringsritueel, ‘n hadj (135),
ofskoon sy deelneem aan ‘n wedstryd as ontwerper. Hier is eweneens subtiele
kritiek ingebed: hoe sy as deelnemer (daar is ‘n Visi-onderhoud) meer werk sal
kry. Wat sy egter meemaak, is nie ‘n glansblad-ervaring nie. Haar baba huil,
dis warm, daar is setpille, die petrol is duur, die oorstaanplekke is karig en
beskeie.
Die verskillende aspekte van slawehandel, spesery-roetes en
die betekenis van sout en suiker word ondersoek. Die boek getuig van diepgaande navorsing en
wanneer ‘n mens al die nuanses optel, word dit ‘n besondere leeservaring waarin
verskillende aspekte van menswees ondersoek word, soos finansiële ellende, ‘n
buite-egtelike verhouding, die invloed van die wetenskap/genetika, gesprekke
met mense wat buite die normale orde beweeg, gestremdheid, moederskap, expats, ensomeer. Veral Oumu se situasie is gelaai
met soveel ironie.
Daar is vele ingebedde tekste soos die storie van Sunjata en
hoe ‘n Westerse mens die kodes van Afrika nie reg verstaan nie. Met
vooropgestelde idees gebeur misverstande, maar met ‘n gids word daar anders gekyk
na hierdie wêreld. Die kind se naam is Pikaninie en die titel, Koljander,
aktiveer eweneens ‘n kinderrympie.
Karen se psige word gekarteer deur logika en selfbejammering
wat bots met mekaar (127) en as kind was sy ‘n gedrewe naelloper – wat die
leeservaring rig van ‘n komplekse karakter. Die konfrontasie met die vader
wanneer sy met ‘n mes staan om ‘n medisynebottel oop te maak en hy dink sy gaan
haar kind leed aandoen, speel terug op die dood van die vader. Elke oomblik in
die hede beweeg dus terug op ‘n oomblik in die verlede.
Dit is ‘n boek wat getuig van geweldige navorsing wat die
vertelling amplifiseer. Die Boereoorlog, Cass Abrahams, VLU, wat nog, gooi hier
‘n draai.
Een punt van kritiek: soms wil die skrywer te poëties
“klink”.
‘n Mens moet glimlag vir die siniese kommentaar oor wat
romans moet doen om die aandag te trek! (Magiese realisme plus die pouveer op
die voorblad…), 35.
“As mens skryf, wil jy tog seker gelees word?” (239), vra
die verteller. Bepaald en ‘n mens kan byvoeg. As jy goed skryf en interessante
knope maak vir jou leser soos in hierdie roman, verdien jy bepaald om gelees te
word.
Dit is ‘n besonderse voorblad. Soos Sunjata moes die
karakters vér reis en weggaan uit ‘n geboorteland om hulself beter te begryp.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]