Alfred Schaffer. Kom
in, dit vries daar buite. (Vertaal deur Daniel Hugo) Protea Boekehuis, 2013.
ISBN 978 1 86919 912 8.
Resensent: Joan Hambidge
Die volgehoue gesprek
met die Ander
Daniel Hugo is ‘n gesiene vertaler van Nederlandse digters.
Vir my is Hugo en Johann de Lange se vertalings presies hoé ‘n goeie vertaling
daar moet uitsien. Op sy Kaapse paragrawe, sy blog, illustreer De Lange die
werkswyse van die goeie vertaler: vorm en inhoud word één. As die digter ‘n
sonnet skryf, moet jy die gedig in die sonnetvorm behou. Daniel Hugo begryp
hierdie werkswyse ook. Hy het vir ons Herman de Coninck, Gerrit Komrij, Rutger
Kopland, o.a. vertaal (behalwe vir sy uitstekende prosa-vertalings) en nou het
hy die jong, dog vaardige digter, in ‘n seleksie byeengebring. Hugo is self ‘n
punteneurige digter, sterk ingestel op vormbeheer en sillabes, wat kennelik
getel is.
As jong en veelbekroonde Nederlandse digter bevind Schaffer
hom in Suid-Afrika. Hy het jare terug ‘n rubriek behartig in Die Burger oor ons digkuns en dikwels
met ‘n blik-van-buite interessante, maar soms ook omstrede uitsprake gemaak oor
die digkuns. Maar hierdie soort kontensie is goed vir polemiek en hou die
digters op hulle tone.
Schaffer skryf ‘n besonder boeiende soort gedig. Hy spreek
‘n “jy” of ‘n tweedepersoon aan – ons, die lesers, word dan sáám met die
intiem-aangesprokene, daardie jy.
Die gedigte word gekenmerk deur ‘n vreemde mengsel van
gewone, alledaagse beelde wat dan vermeng word met die aweregse blik of
onkant-beeld soos in “Exit muse” (95). In hierdie vers word die
geliefde-as-muse gelykgestel aan die gedig: ”Eindproduk van breedvoerige
sinne”. Die gedigte is dikwels verhulde ars poeticas of te wel, gedigte-oor-die-digproses,
soos “Impasse” (93). Die assosiasies tussen ‘n afspraakboek, die lewe op Mars
(gesien op televisie) en ‘n pelgrimstog aktiveer die spel tussen werklikheid en
verbeelding. Ook in hierdie gedig is die leser (die jy!) nie altyd seker
wanneer die oorgang presies gebeur het nie.
Die gedig “die tyd laat ons koud”, vir die vermoorde Lisbé
Smuts, is hartgrypend.
Die slotwoorde:
“maar ek is nie meer dieselfde nie en ewemin is ek jy. En
daar kom die verdriet” (67),
problematiseer die verhouding tussen die persone, een
lewend; die ander een oorlede.
Beide is deur die proses verander; iets wat nooit weer
reggestel kan word nie.
“A love supreme” (65) werk met die Hoofse liefde en hoe
moderne liefdesgedigte te familiêr geword het. Hierdie slim toespeling maak die
gedig besonder interessant.
Die leser wat die moderne Nederlandse digkuns ken, sal
verdere toespelings en intertekste kan raaklees. Op die agterblad word daar
verwys na die “oorrompelende direktheid” en hoe die digter taal in sy
vreemdheid laat funksioneer. Dit is natuurlik die waarmerk van die ware digter:
om die klip klipperiger te maak. ‘n Ander kritikus verwys na die “koel,
observerende oppervlakte en daaronder ‘n borrelende emosionaliteit”. En dit is
presies hoe dit is. Met elke lees, sien jy iets wat bedreig, ontstig, seermaak
– jy word ingenooi van buite na binne. Van die koue, vriesende landskap na die
ruimte van die gedig: “Voorbeeld van ‘n besluit” (37) illustreer al hierdie
kwessies wat Michael Riffaterre in sy Semiotics
of poetry (Methuen, 1978) beskou as die interpretant van die gedig. Daardie
teken wat die teks se oppervlak-tekens dra en verduidelik. In elke gedig is
daar so ‘n teken wat al die ander tekens dan “verhelder”.
“Die dagbreek stol in sigbaarheid” (53) illustreer dit:
“‘n Dik rooi spoor verklaar sy tog in minute of dae.”
Die digter is besonder verbeeldingryk en sy vermoë om
paradoksale toestande saam te dig, is aanskoulik.
Daar is ‘n setfout: mesdom in plaas van mensdom (101)
Dit is ‘n belangrike bundel vir alle poësieliefhebbers.Die
digter het in pas in 2000 gedebuteer met Zijn
opkomst in de voorstad, maar al diep spore getrap in die landskap van die
digkuns. Vir my is hy ‘n moderne Lucebert.
Die gesprek met die ander (die jy) en die ewige gesprek
tussen Afrikaans en die oorspronklike teks, maak van hierdie bundel ‘n
uitdaging vir die leser.
Kom gerus in, Alfred Schaffer. Dit vries nie hier by ons
nie.
Die situasie teen
sluitingstyd
In die vlak deel van die swembad blaas ‘n man
klein wolkies in die aandlug.
‘n Paar meter verder omhels ‘n seun en meisie mekaar
vir die eerste keer – hulle skuur saggies met hul onderlywe,
hulle wil dans in ‘n nagklub, liefs tot die volgende oggend,
onder water na mekaar toe swem
en mekaar vasgryp soos wat hulle dit eenkeer in ‘n film
gesien het.
Of waai en roep na die intens starende man
wat lyk of hy hom skielik bedink en maak of hy
versigtig uit die swembad klim noudat die trappelende bene
van die twee verliefdes allerlei vorms begin aanneem
in die voortdurend bewegende water.
Narkose
Die koffers in die gang die kaste leeg die vensters toe
ek wil nou niks meer hê nie. Hoe lank was ek weg
dae weke ‘n sekonde. Ek is lief vir jou dwaal soos
‘n mantra deur my kop die maan ‘n erfstuk
so naby ek kan met albei hande daaraan raak.
Drie hoera’s vir hierdie weersien, vir die sirkuswiel
vas langs die see ingeplant, die neonvrolikheid my
teddiebeer
wat ek in die skiettent gewen het met net een probeerslag.
Ek het die diertjie warm gehou onder my baadjie, ‘n gryns
op sy gesig gestik – as ek hom sou oopsny
en watte uitpeul by die maag die rug die kop, sal hy aanhou
lag, stil en stug. Die nag het my ingehaal op pad terug
die lampe langs die kusweg soos ‘n string pêrels
‘n genadige gids, ‘n felle lyn elektriese lig.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]