Standbeeld met engel in die Vatikaan Museum © Shoes on Wires
Ek kuier by my digtersvriend in Pretoria in die Burg van
Hertog Bloubaard.
Dis somer en die gastekamer se venster gaap oop.
Oor ‘n halfuur vertrek my bus na die Hoëveld om my moeder te
besoek en ‘n motor terug te bring vir ‘n susterskind in Johannesburg. Ek sien
uit na die busrit, omdat ‘n mens die landskap sien verander en boonop kan lees.
My twee bereisde sakke is reg en gereed vir die besoek aan
my tuisdorp.
Toe ek my tas optel, gebeur dit.
‘n By steek my in my hand en verwoed ruk ek die by af, wat
net die gif dieper inspuit. As kind was ek allergies vir bysteek, maar het dit
genadiglik ontgroei. Die swelsel begin lyk soos ‘n bokser se oog.
“Kan ons nie stop vir medikasie nie?”, vra hy besorg.
Ek kan nie die bus verpas nie. My bekommerde vriend vertrek
en ek voel oes. Agter my in die bus sit ‘n stil vrou. Spontaan begin ek met
haar gesels. Sy vertel sy is op pad Wes-Transvaal toe om háár moeder te besoek
ná ‘n ernstige val. Sy was ‘n verpleegster en dra altyd pille by haar. Sy gee
my twee anti-allergie pille en ‘n bottel stilwater.
Haar naam is Chrissie.
Op Johannesburg-stasie verdwyn sy in die niet. Haar
selfoonnommer en adres in my geswelde hand. Ek voel lomerig en registreer niks
van die Toon van den Heever-landskap nie. Die filmbeelde op die TV-skerm speel
in ‘n hospitaal af.
Op die Hoëveldse dorp gee die apteker sterker medikasie en
verduidelik hoe sleg alles kon afloop. My keel sou toetrek. Lewensgevaarlik.
Daar is net een hospitaal langs die pad; ironies genoeg vernoem na die digter,
A.G. Visser, die sanger van die Suikerbosrand.
Die apteker gee ‘n botteltjie met blou pille wat ek nou by my moet dra.
Ek bedank per sms my engel in die nag. Stuur selfs later ‘n
geskenk.
Hierom glo ek in engele.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]