Tuesday, August 27, 2019

Resensie | Carla van der Spuy – Liefde Agter Tralies. Ware Suid-Afrikaanse Verhale (2019)

Carla van der Spuy – Liefde Agter Tralies. Ware Suid-Afrikaanse Verhale. Tafelberg, 2019. ISBN: 9780624087007

Resensent: Joan Hambidge

I
Vroeër vanjaar het Strafjaart van Theo Kemp verskyn wat die hele kwessie van verhoudings binne die tronk kom ook hier na vore:

Met besoeke aan hierdie tante kry die leser 'n blik op die onderwêreld van hierdie bestaan. Dit is 'n kloaak, met reëls en regulasies. Trouens, die tronklewe, soos Michel Foucault al uitgewys het in sy studie oor tronke en straf Discipline and punish: The birth of the prison (1979), beheer ook die samelewing daarbuite. En tronksisteme verklap iets van 'n gemeenskap se omgee vir ander. In Strafjaart is die tronke vol en kondisies onmenslik. (Hierom beskryf hy ook betogings teen die sisteem.) (Woorde Wat Weeg/ Resensie | Theo Kemp – Strafjaart (2019). Besoek 21 Augustus 2019).

Carla van der Spuy se Liefde agter tralies werp meer lig op fenomeen van vroue wat verlief raak op misdadigers. In my huis het ek ‘n hele rak vol studies oor reeksmoordenaars – soos Ted Bundy en Jeoffrey Dahmer – en die patologie rondom hul lewens. 

Extremely Wicked, Shockingly Evil and Vile (2019) maak tans opslae, omdat dit onder meer onthul hoe Ted Bundy bewonder is deur vroue.

Waarom is daar vroue wat op hierdie mense gefikseer raak?

Is dit die opwinding van die verbode vrugte? Hybristophila, oftewel seksuele plesier deur kontak met die geweldsmisdadiger?

Of is dit vroue wat hul lewens op ‘n droom baseer; die man in die tronk wat jy besoek of vir wie jy skryf kan jou nooit teleurstel nie (17).

Daar is ‘n webtuiste www.meet-an-inmate.com

Jy raak dus verlief op die illusie eerder as die werklike man. Hierdie boek analiseer die kwessie van “serial killer groupies”

II

Hierdie studie het my weer geneem na twee gedigte van Johann de Lange waarin die donker psige van die reeksmoordenaar en die gevaarelemente róndom cruising beskryf word.

Cruise III

Hy kom omsigtig uit die skadu's los, 
net nog ‘n junkie op soek na tos.

Met elke voetval op sement 
volg die tronkmaan penorent.

Van lamp tot lamp se silwer bel 
stap hy gevonnis na sy sel,

en weet, met sy honger soos ‘n pyn, 
alle paaie lei na Barclay-plein.

Wydsbeen by die piskrip staan 
en knyp hy druppels af. ‘n Kraan

lek iewers. Van waar ek hurk
kan ek sy afgeloopte hakke sien, die vurk

van sy lyf, en hoop meteens dat hy of ek
vanaand geholpe raak by hierdie plek.

Een met die verlange van ‘n medeprisonier
het ‘n gat geboor deur die harde muur

waardeur nou ‘n nat oog gitswart staar: 
knipperloos, sidderstil, wondbaar.

In sy vloeiende onrus op my gefokus, 
anoniem en openbaar, die locus

van begeerte, ‘n lewende kamera wat my 
skugter bewegings patrolleer, my blik vermy

In sy sel, of hy kniel of staan, hoe naak 
hy hom aanbied of ontbloot: dit raak

my wat dieselfde straf uitdien, die kyker. 
Ons is albei hierdeur ryker.

Ek weet die flikkerende onrus, die swart
trillende lewe sien tot in my hart.

(uit: Nagsweet, 1991).


Jeffrey Dahmer

So gruwelik
het ek jou lief,
ek steel jou
soos ’n dief:

uit liefde wou ek jou
opvreet: ’n reet
uit jou boarm sout
met jou doodsweet.

Ek wou iets van jou
bly behou, verhoed
dat jy my ook verlaat;
deel maak van my bloed.

Maar jou vrees was
walglik soet.

(Uit: Wat sag is vergaan, 1995)


III

1991 en 1995. 

Die beroemde onderhoud met Dahmer kan hier gesien word (Jeffrey Dahmer Original Stone Philips Interview – YouTube. Besoek 22 Augustus 2019).

In die vers oor Dahmer is De Lange binne-in sy kop en skryf hy ‘n portretgedig om iets te probeer verstaan van hierdie figuur.

“Ballade van die bose”?

Dis opmerklik hoe pataologie deel geword het van ons alledaagse bestaan en sensitiewe lesers probeer die verskrikking van dagblaaie vermy: moorde, selfmoorde, korrupsie …

Julia Kristeva se Powers of Horror (1980) wys op die skokkende, die grillige, dit wat ons van middelpunt afgooi.

Nog nooit was die abjekte so in ons daaglikse doen-en-late aanwesig nie.

Wilna Adriaanse het ‘n paar dae gelede in ‘n opmerking gemaak in hierdie verband. Miskien lees ons misdaadfiksie om te kyk of ons skadukant nog onder beheer is (KYK/ ‘Is ons skadukant onder beheer?’ | Netwerk24. Besoek 27 Augustus 2019).

Dalk het die strukture of meganismes wat ons moet beskerm teen die abjekte begin erodeer.