Sunday, June 5, 2022

Resensie | Carien Smith – Bot. Tafelberg, 2022


Carien Smith – Bot. Tafelberg, 2022. ISBN: 978-0624- 092872  

Resensent: Joan Hambidge



I

 

Bot is die debuut van Carien Smith wat al geruime tyd aandag vestig as pryswenner en skrywer met belofte. En met haar debuut doen sy hieraan gestand. 

 

Tydens die dood van Ursula K. Le Guin is hierdie leser in Bogóta in Colombië saam met die concierge verdrietig oor haar vertrek. Dis 2018. 

 

Hierdie leser onthou ‘n verhaal van Le Guin waar mense op ‘n vreemde planeet ontmoet, seks het en die ervaring word alles toegezip – met geen pyn of verlange nie. Anders as op aarde.

 

In 1979 verskyn Patrick Parrinder se studie Science fiction by Methuen. Asimov tot Frank Herbert. Utopia tot distopia. Jules Verne en H.G. Wells en natuurlik die meester, Ms. Le Guin word ondersoek, verduidelik en gekontekstualiseer.

 

2001: A Space Odussey is Stanley Kubrick se epogmakende rolprent uit 1968 het die grense verskuif in die filmkuns. Gebaseer op Arthur C. Clarke se The Sentinel ondersoek hierdie film ‘n reis na Jupiter met HAL, die gevoelige komputer.

 

Ons dink verder aan Andrei Tarkofski se belangrike film Solaris (1972), wat waarskynlik een van die grootste films binne hierdie sub-genre is. In Afrikaans is Skepsel van Willem Anker ‘n enorme prestasie wat subtiliteit en die ontginning van ambivalensie betref. Dat hierdie versameling nie die kortlys vir die Hertzogprys vir prosa gehaal het nie, het vele lesers laat frons.

 

II 

 

Bot is die skrywer Carien Smith se debuut met 16 kortverhale. Hierdie debuut gee ‘n kopknik na die kodes van die sub-genre en in die teks word daar selfs nagedink oor wat hierdie skryfwerk behels (96-97). Die teks wys op en analiseer die bestaan in ‘n ander ruimte met die mense wat hulself as klone of simulate ervaar. Tydreise, aliens, parallelle universums (die sogenaamde multiversum), oorloë tussen planete, teleportasie, en wat nog, kom aan bod. In Andrei Tarkofski se Solaris word die wetenskaplike besoek deur sy vrou wat selfmoord gepleeg het. Die psigoloog wat gestuur word na die ruimtestasie wat om Solaris, die planeet sirkel, besef daar heers groot depressies en angs. Hier is gerepresseerde emosies wat losgemaak word met ‘n kopknik na Freud. Die water op die planeet word ‘n brein wat almal manipuleer en intimideer. Slavoj Žižek analiseer hierdie klassieke film aanskoulik in The Pervert’s Guide to the Cinema rondom die kwessies van ont-vlugting en vervolging.

 

Wanneer ‘n mens scifi-verhale en -films bekyk is dit altyd relevant om te sien hoe die wetenskap die tyd vooruit is. Lees ons vandag Asimov is dit gedateer, maar ‘n goeie storie bly, ten spyte van die “veroudering”, steeds relevant, soos die film The Matrix, die Wachowski's se film van 1999, bewys.

 

Om dus binne hierdie sub-genre jou merk te maak, stel bepaald eise. So gaande was ek oor Frank Herbert se Dune (1965) dat ek die film eerder vermy het.

 

III

 

Carien Smith sluit by hierdie komplekse distopiese tradisie aan waar die menslike bestaan ont-mens word. Hier is klone, simulante, vreemde verskynsels en die skrywer betrek verder die ekologie en klimaatskrisis wat tans heers.

 

In die slotverhaal “god die robot” word die belangrikste aspekte van hierdie soort skryfwerk opgesom: “Ons leef om ons intelligensie, / Ons verstand, ons denke, ons algehele IK” (145). Dit is ‘n aanhaling uit die Heilige Robot-liedereboek. 

 

Distopiese tekste werk altyd met die ómgekeerde van die utopiese wêreld. Tegnologie word alles en die geskiedenis van wetenskapsfiksieverhale bewys die vooruitgang van die mens. Ons almal van ‘n bepaalde ouderdom, onthou immers die eerste maanlanding. Ons onthou ook hoe geskok ons  was toe Garry Kasparof, die skaakmeester, getroef is deur ‘n robot. Dit was 1996 toe Deep Blue, die IBM-superkomputer, hom oorwin het. Hy was weer verslaan in 1997 tydens ‘n tweede toernooi en dit is alles te siene in Game Over: Kasparov and the Machine, ‘n dokumentêr van Vikram Jayanti in 2003.

 

“Alles is ‘n leuen / niks is ‘n leuen nie” waarsku die agterblad. In die verhaal “Vakuum” word ene Zaré Waenhuis aangekla dat sy ‘n simulant is. Die verhaal word binne ‘n kerk geplaas wat dan ‘n hofsaal word. Die verteller verplaas dikwels een simboliese ruimte na ander een: kerk na hofsaal en dit aktiveer die rituele in die leser se gedagtes wat dan opsetlik gedekonstrueer word.

 

Hier het die persoon buite die raamwerk opgetree en haar man aangeval. En so word moraliteit bevraagteken. Dit neem die leser dan na die belangrike motto as rigtingwyser van David Benatar Better Never to Have Been:  The Harm of Coming into Existence (2006) en die asimmetriese verhouding tussen pyn en plesier. Ook in Smith se verhale word die “family romance” een van versaking en pyn. Trouens, dit vind ons ook by Le Guin: dat die (her)skepping van ‘n alternatief, is juis nodig, omdat die hier-en-nou so ondraaglik is.

 

Evolusie word aangespreek en hoe alles reeds verander het. 

 

In “Agentskap” word die “wonderkind” met die “regte merkers” gesatiriseer (27). Die moeder wat spog met die wonderkind op sosiale media met ‘n woordeskat van vierduisendvyfhonderd-en-dertig woorde. Op vyf-en-‘n-half maande. Op drie kan sy lees en speel soos ‘n Mozart klavier. Oordrywing. Fantasie.

 

“Gesprek met ‘n hologram” (108) is uitstaande goed geskryf met die ontsluiting van die titel van die bundel. Die voorblad met blomme in ‘n ruimtevaarder se helm word ‘n soort rangskikking?

Die ruimte teenoor die aarde? Is die blomme reeds dood?

 

Telkens word politieke dimensies en hoe ons deur Facebook en realititeitsprogramme ingesluk word, beskryf. “Keeping up with the Clones”, die WVK en Covid op sy kop gedraai in “O2”. Net diegene wat inentings gekry het, kry suurstofpakke in ‘n sidderende verhaal (129). Dit is ‘n sentrale verhaal in hierdie bundel.

 

Hierdie verhale bewys dat die “ek-verteller” distansie skep, meer as die derdepersoon of sogenaamde personale verhale. Die verhale is klinies, gedistansieerd vertel; juis hierom is die impak van die stellings oor oorbevolking, klimaatsverandering, gebrek aan erbarming des te groter.

 

“Nuwejaar” (18) wys hierdie kollektiewe onrus uit en onder draai die paranoiese duiwels rond.

 

En voor ons vergeet: daardie baken in die moderne romankuns en uitnemende digter, Margaret Atwood het ook belangrike werk gelewer binne hierdie sub-genre. Veral Oryx and Crake (2003) het my begeester wat beteken dat vroueskrywers se aanwesigheid ‘n feministiese debat open. 

 

Le Guin en Atwood had ook in ‘n polemiek hul verskille oor wat die genre behels.

 

En hiervan is Carien Smith duidelik bewus in die gesprekke tussen karakters.

 

Hierdie debuut is vir alle Scifi-liefhebbers (of spekulasie-fiksie) én vir lesers van die kortverhaal kan dit aanbeveel word. Om te vlieg met ‘n solodebuut, dit doen sy oortuigend. En om al hierdie ander skrywers op te roep, wys sy ken haar vak met ‘n balans tussen vertelling en spekulasie.

 

Miskien bly die aliens al tussen ons?, sal sekere wetenskapfiksie-liefhebbers beweer.

 

Dis al ‘n lang pad van E.T. phone home, nie waar nie?

 

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad waar sy ook ‘n Genoot is. Haar digbundel Sanctum verskyn in Augustus by Protea.