Tuesday, March 29, 2022

Resensie | Michèle Meyer – Moer | Protea Boekehuis, 2022

Michèle Meyer – Moer. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 978-1-4853-1328-1 (gedrukte boek) / ISBN 978-1-4853-1329-8 (e-boek) 

Resensent: Joan Hambidge



Jy staar na jou eie lewe as ’n swart-en-wit film sonder klank.


Moer, moeder, baarmoeder, om die moer in te wees, slaan, rumour, ru-moer … 

 

Al hierdie betekenisse en assosiasies word opgeroep met hierdie pakkende debuut van Michèle Meyer, alreeds bekend as kortverhaalskrywer.

 

So word die boek bemark:

Dis ’n roman oor die aftakeling wat vrou- en ma-wees op die gees en lyf kerf. Daar is ’n ongewone, ontgogelde blik op swangerskap, ontdaan van blosende skoonheid, vreedsame afwagting en innige vervulling; eerder gekenmerk deur vrees, angstigheid en ongemak. Die bloedige slagveld van geboorte word ontstellend verwoord en daarna die allesoorheersende liefde vir die babas. Maar ook die onmoontlike gyselaarsituasie van ’n ongelukkige huwelik: “Om ’n ma te wees is onmenslik moeilik as jou gees gevlug het uit jou lyf.” Dis ook die verhaal van die mooi vriendskap tussen ’n ma en stiefma. Kylie en Katrin word mekaar se weemoed.

Die hoofkarakter verlaat haar kinders – nie uit eie keuse nie – maar weens die gemeenskap se besluite wat insluit: ‘n man, sielkundiges en die veroordelende gemeenskap. ‘n Verhaal van versaking: op twee vlakke dus. Sy versaak die kinders, maar veral word sý versaak deur vooroordeel en waarskynlik onmag om die effek van depressie op ‘n alreeds brose psige te begryp. So gelees, is dit ‘n eiesoortige verslag van die impak van depressie.

 

Ek wil nie die storiegang vir die leser bederf nie. (Oor wat alles tussen haar en die man gebeur, en nie gebeur nie, die nuwe vrou, ens.) Eerder ‘n paar belangrike punte maak oor die struktuur en tegnieke van die roman.

 

1. ‘n Mens sou dit kon lees as ‘n aweregse antwoord op Hettie Smit se klassieke belydenisroman Sy kom met die sekelmaan met Maria/Marié. Hier ek/jy. Hede teenoor verlede. Jy staar na jou eie lewe as ’n swart-en-wit film sonder klank, lees ons. Die ander vrou as ‘n soort alter ego?

 

2. Dikwels lees ons passasies waar die hoofkarakter vanuit buite na haarself en haar lewenslot kyk. Dit begin by die jeug waar sy die moeder so waarneem:

’n Klein hokkie onder in die gang was haar naaldwerkkamer met die een lewensmaat wat aan jou ma trou gebly het. Die heilige Bernina. Toegedek in ’n stewige houthouer, die voorhangsel wat nét sy kon lig. Haar kiertsregop stoeltjie. Die draad-asblik waaroor sy so kon moan as garingdrade by die gate uittoiing. 35

Die moeder is ook die een wat haar begryp en haar liefde vir stories aanwakker teenoor die afwesige vaderfiguur wat leer om dominee te word:

 

Ritse kinderboeke, sy’t kinderboeke verslind. Ure na prente gesit en staar en detail bestudeer. Daar haar inspirasie gevind vir die wonderwêreld van stories in haar kop. Waarmee sy norrings kleuterklasse gemesmeraais het op die mat van haar Uiltjieklas. Woordeboeke met lyste en lyste rare woorde en sinonieme in haar vloeiende handskrif oral ingewikkel. Idole/ afgode, odalis/slavin in harem, kreng/nare kêrel, raal/rif, opsint/ afwesig, enakskind /reusagtige persoon, mastoïede/tepelvormige been agter die oor, orleaan/rooi verfstof. Iewers in jou tienerjare wonder jy ’n keer hardop hoekom jou ma die spulle woorde so uitryg. “Omdat dit interessant is. As mens ophou leer, is dit verby. Die lewe het ’n manier om leermeester te bly. 36

 

Dis ‘n jong lewe van opofferinge en spaar. Troukaartjies maak wat ekstra inkomste beteken …

 

3. Die roman word in poëtiese taal vertel nes by Smit. Ons vind die mooiste beskrywings en ou Afrikaanse woorde word afgestof:

 

tierelier en pampelielie … (69)

Die baba sweet teen jou sternum vas, word weer kleefvlees van jou vlees. (72)

Waar jy trap, gaat die trawwels agterna …  (91)

Slaap tot die gedaan van jou lyf en oë afskil soos deurskynende lae van ’n ui. Jy’s ’n ui. Dun gesny. Almal het flertse ui nodig. Vir braai, stowe, bak en roosters skoonskuur. Die kap van ui pers trane uit die snyer se oë. Die ui self skree seker fyntjies op die snyplank, maar wie’t tyd om na ’n blerrie ui se geherrie te luister terwyl trane hul oë brand?  (99)

4. Musiek as ‘n manier van die verlede oproep, speel ‘n belangrike rol. “Master Jack”, “Slaap pikkanienie”, die deuntjie uit The bridge on the River Kwai, “Hush hush Maria”,  “I’ll meet you at midnight”, “Paloma Blanca”, “What a feeling” van Jennifer Beals …

 

5. Daar is subtiele Bybelse verwysings soos ‘n slang wat doodgemaak word in die tuin (van Eden). ‘n Herinnering aan jeugmolestering en verkragting van ‘n vrou word pakkend beskryf.

 

6. Daar is ook humor. Lady Di sonder haar tiara in die Laeveld:

En dank die Here is sy effe dik om die gat met bleekwitte arms en bene. Haar verbleikte rooi kortbroek is ’n anomalie oor daai wabbelende bobene – het jy ’n tiara verwag, in dié Laeveldse hitte? (125)

Hier weet ons dit is hoe vrouens hul opponente afransel en hulle aan hul gewig takseer.

 

7. Dis ‘n boek van verlies. ‘n Verdrietboek. En omdat die emosies verwerk is, slaag dit.


In hierdie roman wens ons saam met die hoofkarakter ’n mens kon aarvoeding kry teen verlies (131).

 

8 Kyk wat maak sy met die skoene van die ander vrou. Aspoester is ook hier. Wat ‘n mens dwing om weer te kyk na na Clarissa Pinkola-Estés se klassieke teks oor vrouwees. Die een met die dansende skoene …

 

En kyk hoe laai sy die impak van geswalp-wees. En die wegholbrand teenoor die brandoffer …

 

Die slot is ‘n smoelneuker. Onverwags.

 

Gebreekte krale is eweneens ‘n belangrike motief, want die verskillende hoofstukke lees soos krale wat ingeryg is.

 

Slaap pikanini, die vee's in die kraal,

al die ou skapies en bokkies.

Môre-vroeg kry jy van soetpap 'n maal,

en 'n paar spierwitte sokkies.

 

Doedoe...

Doedoe...

Doedoe...

Doedoe...

 

Dit is ‘n begeesterde roman met ‘n vloedgolf van woorde en verdriet.

 

 

Bronne:

Estés, Clarissa Pinkola. 1992. Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman. Londen: Rider.

 

Pereira, Sylvia Brinton.1981. Descent to the goddess: a way of initiation for women. Toronto: Inner City Books.