Die skrywer Thomas Deacon is onlangs oorlede.
Hy is op 4 Februarie 1942 gebore en is oorlede op 21 Januarie 2022.
Sopas publiseer Naledi minjonet en bitterbos. Die blou blommetjie teenoor die bitterbos, die ewige opposisie so bekend aan die digkuns. Die digter is bekend vir sy kontreiverse en ons lees hier van die ou Nama-moeder, Siena Joseph van Pella (1893 – 1988). En die wêreld van die Noord-Kaap is die gebied van George Weideman en Donald Riekert. En wat Griekwa-Afrikaans betref, het die digter Hans du Plessis waarskynlik geen gelyke in Afrikaans nie.
Die kontreikuns is aardse kuns en uiteraard sterk verbind aan primordialiteit.
In sy vorige bundel Duifiedorings (2019) word verskillende name verbind aan die duifiedoring: duwweltjie, volstruisdubbeltjie, driedoringdubbeltjie… alles name wat hierdie woord oproep.
Die landskap van die klipwerk-vers (via Van Wyk Louw) en die verse van Boerneef, vind ons in hierdie bundel. Verskillende stemme is hier aanwesig: die digtende spreker wat praat in sowel Standaard-Afrikaans as die taal van die Boesmanlandse streek, verby die Bantamberge.
Soos Marlies Taljard tereg uitwys in haar bespreking te lese op die Versindaba:
ʼn Spesifieke lokaliteitsaanwysing is die verwysing na die Bantamberg – ʼn heuwel wat binne die Namakwa-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap geleë is.
Die kontreiwoord is ook hier aanwesig en veral die afdeling “troosbossies” het met my gepraat.
Daar is vele juwele te lese:
my bekertjie loop oor
my bekertjie loop oor
my broodjie is ʼn dubbeldoor
die wind speel op sy rietjiesfluit
en voordag stort sy rooiwyn uit
(27)
tussen kleinsee en koingnaas
tussen kleinsee en koingnaas
waar die son wydsbeen
oor yl narrabossies staan
grawe ʼn kapaterbok t!kamaroe
wat so lekker na namakwaland
se wegblywater proe
(63)
In Duifiedorings vind ons hierdie aangrypende lykdig:
george henry weideman
(2 julie 1947 – 28 augustus 2008)
waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring
het george henry weideman
van katstert en kanniedood
van kinkelbos en klipkersie gesing
tussen springbok en pofadder
tot by aggeneys, by onseepkans
en kenhardt verby
hoor ek sy woorde rietjiesfluit
van botterblom en bossiesgras
van bokbaaivyg en bloumelkbos
tot bitterbos
maar looplê se tyd
toe klapperbos en kankerbos
hul nagkarossies nadertrek
het george henry weideman
’n staning onder duisend sterre
oopgetrap
(27)
Die volgende gedig som sy digkuns ten beste op:
die lewe is ’n kaalvoetspoor
die lewe is ’n kaalvoetspoor
een duin áf die anner duin óór
hoor jy’ie wind op sy doedelsak speel
weg issie spoor, net’ie sand bly oor
(60)
En dan van hierdie leser:
Lykdig
vir Thomas Deacon
Jy het ons geleer
om stadig te kyk
weer te kyk
in te kyk
na klippe en sand
volstruisduwweltjies
tweemondig
nes die streektaal
wat jou geskep het
die heutjiehee
se geroep
klink nog voort
in jou woordreise
oor ‘n woestyn
nou is die pê-pê fluit
‘n afskeidsroep
maar jy het jou lêgat
in ons taal gevind
soos growwe-twa
fyn-twa en ‘ga-gras
met ons voetsaam
oor die rante
van jou digkuns
Soos hy skryf in Duifiedorings:
lente lig sy hoed
groet namakwaland se werf
gousblom in die hand
(88)
Ons groet hierdie digter wat ‘n handvol pragverse gelewer het.
Deacon het die volgende tekste gepubliseer:
Sand uit die Son (poësie), Tafelberg, 1989.
Die predikasies van Jacob Oerson (poësie), Tafelberg, 1993.
Rooigrond (roman), Tafelberg, 1995.
Anderkant die Troe-troe (kortverhale), Human & Rousseau, 1999.
Deuskant die Groot Gariep (kortverhale), Lapa Uitgewers, 2009.
Maagmeisie (poësie), Protea Boekhuis, 2003.
Duifiedorings (poësie). Minimal Press, 2019.
© Joan Hambidge
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)