Hans Pienaar – Kaap. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 9781485313311
Resensent: Joan Hambidge
Hans Pienaar se roman word vir die leser soos volg verpak: ‘n fiksie in 33 perspektiewe en een waarskuwing. Op die voorblad is daar ‘n kunswerk van Gregg Price: Tafelberg en mannetjies wat op hul kop staan. ‘n Hart, die dood, ‘n aasvoël, o.a.
En alles in hierdie roman word op sy kop gekeer. Die periteks waarsku jou …
So word die roman bemark:
Die hoofkarakter, Marnus, is ’n ondersoekende joernalis, ’n libtard met struggle credentials, hoewel een van die karakters tereg opmerk dat geen wit mens struggle credentials het nie. In sy jeug het hy ’n beweging op die been gebring om teen diensplig te agiteer en toe gesê as die toekomstige ANC-bewind nie uitwerk nie, sal hy en sy vriende maar die Kaap afstig en daar gaan woon. Daardie uiting kom byt hom aan die hakskeen en plaas hom jare later in die visier van ’n paar groepe, soos die Intelligensiediens, die Suidlanders en groepe met verwante maar meer gematigde oogmerke. Op ’n meer persoonlike vlak betrek dit die dinamika en verhoudings tussen die karakters; jare lange vriendskappe, verraad, ontrouheid en ware liefde, met humor en hart.
Hierdie pakkende roman gee ‘n beeld van die struggle-jare (met die bekende verraad) en is ‘n metaroman. In die laaste afdeling “Kaap” word die leser opdrag gegee om eie eindes te prakseer. Die werklike skrywer Hans Pienaar en die vertellende instansie lewer kommentaar op die Kaap (en ‘n soort afstigting) en hoe die Corona-virus (en inperking) alles verander het.
Ook word daar vrae gevra (implisiet en eksplisiet) oor wat met boeke gebeur na publikasie: word dit verpulp of land dit dalk onder die gebreekte poot van lessenaar? (317)
Die leser – altans hierdie leser – herken sekere bakens in Johannesburg en in Kaapstad. En mense, maar alles slim gefiksionaliseer in ‘n eiesoortige paper chase van ‘n Irma Stern-skildery (Two Arabs, wat vele kodes gee oor kultuur), Kurt Weill se Dreigroschenoper, kunsmatige intelligensie, die Hubble-teleskoop, en wat nog.
Telkemale word die roman-fabrikasie na die werklikheid gedwing: o.a. die insident rondom die Pierneef-skildery en ‘n diefstal van Stern se skildery wat weer ander intriges skep.
Alles wentel rondom verraad. Persoonlik en polities. Geliefdes wat mekaar in die rug steek. ‘n Vriend wat ‘n spioen is.
Kaap en kaping. Motorkapings. Verkragtings. Afdreigings. Skuilname (Antjie Somers).
“Between the violence of interpretation and the suicidal temptation of mimetism, the critical act follows an arduous course. It can’t go on, it will go on …”
Maurice Couturier en Régis Durand in hul studie oor Donald Barthelme sluit af met hierdie woorde.
Die leser vind ook die tegnieke van die postmoderne roman hier: trompe l’oeil, palimpses, die verdwene teks, sogenaamde linguistiese vandalisme (hier is verskeie eksperimente met taal en daar word selfs in Kaaps gepraat), parodie en satire, ‘n “irony’s edge” soos Linda Hutcheon dit noem, en uiteraard, ‘n uitstel van finale, sluitende interpretasies.
En dalk ‘n soort satiriese antwoord op die krimi wat tans binne die prosa soveel aandag trek? Daar is duidelike kodes na James Bond-verhale.
Daar word besin oor skrywerskap en hoe joernalistiek verskil van kreatiewe skryf. Vraisemblance teenoor suspension of disbelief.
Soos ‘n Ingrid Winterbach-roman word jy gedwing om weer te lees en jy word nooit verveel nie.
Met ‘n tweede lees, het ek die roman van agter na voor gelees. Die vertelperspektief is besonder boeiend: ‘n lamppaal en matras selfs word aan die woord gestel. En ‘n skildery.
En die verhaal (in die afdeling Die verhaal, 157) lewer ook kommentaar. Met die skrywer wat die verhaal aan ‘n leiband hou.
Plaasmoorde teenoor liefdesdriehoeke; daggakoekies teenoor ‘n besoek aan ‘n hospies wat jou laat sidder; Odusseus en die Trojaanse oorlog, met ‘n oogknip na die werklike skrywer se politieke verslag uit die 80er jare saam met Hein Willemse: Die Trojaanse perd (1985).
Daar word ook vrae gevra oor Afrikaans en hoe lyk dit met Kaaps as ‘n onderrigtaal aan die Universiteit van Kaapstad?, wonder ‘n verteller. Bergies praat, soos diewe aan die woord gestel word.
Marnus en Wynand; Jelena en Amy en Evike. Wian, Rentia, en ander soos Matilda en Olivia se verhale word inmekaar geweef. Die skrywer klim onder die vel van sy vrouekarakters in en gee hul kwessies waarheidsgetrou weer.
Suid-Afrika met Hongarye van indertyd. Depressie afgewissel met humor: ‘n rubriek heet Tuisgeld. Ja, jy hoor ook in die roman vir Sonja Herholdt sing.
Dostojewski se Ivan Krilof; Bertrand Russell en Wittgenstein se beroemde debat oor die renoster met die opmerking dat ons lankal nie meer oksimorone is nie (126). En waarom word ons nou op hok gesit met clichés – dalk weens te veel inligting en “white noise”?
Kan die Kaap onafhanklik raak? Kan dit ‘n nuwe spioenasieverhaal word? Wel as ons Giorgio Agamben glo, is enigiets moontlik. (Is narsisme en spioenasie verbind?, 232) Smokkelhandel met kuns neem die leser op ‘n ander roete.
Het Marnus se uitdaging via Rentia (‘n “geheime agent vir ‘n uitgewer”, haha) om ‘n regte boek oor regte goed wat regtig gebeur toe waar geword? Bepaald. Kyk wie en wat jy herken. Of perdalks dink jy herken.
Die roman is ‘n ontmoeting tussen As I lay dying en Tristram Shandy.
Die waarskuwing? Jy kan die roman nie neersit nie … jy word gekaap.
Bronne:
Conradi, Peter. 1982. John Fowles. (Londen: Methuen).
Couturier, Maurice & Durand, Régis. 1982. Donald Barthelme. (Londen, Methuen).
Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. The Teaching of Twentieth- Century Art Forms. (Londen: Methuen).
Hutcheon, Linda. 1994. Irony's Edge. The Theory and Politics of Irony. (Londen: Routledge).
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)