Elsa Joubert - Die verse grens verby (Thys Human red.). Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap vir Kuns, 2022. ISBN 978-0949977-05-2
Resensent: Joan Hambidge
Elsa Joubert beklee ‘n unieke posisie binne die Afrikaanse letterkunde. Die swerfjare van Poppie Nongena word op die lys van 100 invloedrykste werke uit Afrika gereken. Haar uitgewer, wyle Danie van Niekerk, het dit as een van die hoogtepunte in sy uitgewersloopbaan beskou. Die redakteur Thys Human gee ‘n sober blik wat uitstekend aansluit by Willie Burger se profiel in Perspektief & Profiel.
Bladsye 185 – 210 gee ‘n bibliografiese verwysing en om hierdie boek te probeer opsom, sou beteken jy moet die oseaan in ‘n visbak probeer opvang. Daar is eweneens pragtige foto’s opgeneem. Ek volstaan dus met enkele kanttekeninge oor hierdie belangrike huldigingsbundel.
Joubert is romanskrywer, kortverhaalskrywer, reisverhaalskrywer en outobiograaf. Die verste grens verby is ‘n gepaste opsomming vir haar uitsonderlike werk waar sy as jong vrou alleen reis in Afrika en na Madagaskar. Louise Viljoen wys op drie fases in haar skryfwerk: in die 1950’s begin sy met reisverhale; in die 1960’s begin sy fiksie en latere jare, toe sy al tagtig was, outobiografiese besinnings geskryf waarvan Spertyd ‘n hoogtepunt is. Hieroor skryf Hennie van Coller insigryk. Hy lewer kritiek op veralgemende gevolgtrekkings oor die taal van bejaardes; gebaseer op een teks. Wat hier relevant is – en wat later weer in ander bydraes na vore kom – is dat Joubert styl- en struktuurgrepe strategies aanwend en manipuleer. Soos in Die swerfjare van Poppie Nongena.
Om hierdie teks indertyd as wanordelik, slordig en gefragmenteerd af te maak, word deur lesers verkeerd bewys (42).
Willie Burger tipeer haar tereg as ‘n reisgids, want sowel haar reisverhale as die genoemde Poppie het mense anders laat kyk na hulle eng-Afrikaanse wêreld. Anne McClintock gee ‘n besondere ondersoek weer van die sogenaamde “onbetaamlikheid van hibriditeit” en swart vroue se weerstands- en narratiewe dubbelsinnigheid. Die “tweemondige samewerking” tussen Joubert en Poppie word in hierdie briljante stuk verduidelik.
Hierdie professor aan Princeton gee ‘n sober buiteblik op die resepsie van die roman en ‘n vertelling vol teenstrydighede. Hierdie bydrae wys op die outeur (Joubert) se outoriteit (via Edward Said) en die politiek van samewerking oor die grense van ras- en klasverskille heen. Die geheue as wapen word betrek en die herbelyning van mag. Die verskillende (en verkeerde) interpretasies word ondersoek in hierdie uitsonderlike artikel wat ook die hele kwessie van hoe manlike kritici die teks anders as vroue kritici gelees het. Sy wys op die Prokustiese sfeer van die manlike tradisie (toe) en hoe vroueskrywers ‘n ander leesaksie opeis (42). Ook hoe Afrikaanse lesers verskil het van Engelse, liberale lesers en hoe daar in sekere kringe ‘n dawerende stilte was.
Lucie Valerie Graham wys tereg daarop dat die transkripsies van die onderhoude met “Poppie” nie ‘n woordelikse verslaggewing is nie. Etlike prosesse het plaasgevind wat op ‘n paradoksale manier bewys dat geen teks gelyk aan die werklikheid is nie; dit is “geproduseer” (via David Schalkwyk, 75).
Thys Human behandel Die reise van Isobelle as ‘n kroniek. Hy betrek o.a. die struktuur van die Latyns-Amerikaanse kroniek met Isabel Allende se The house of the spirits (1982) wat as ‘n kritiese herskrywing van Gabriel García Márquez se manlik gerigte One Hundred Years of Soltude beskou kan word. Albei tekste is familiekronieke en politieke allegorieëwat uitwaaier na die groter politieke kontekste waarbinne hulle afspeel (108). Met ‘n vroulike perspektief as basis.
Die kulturele introspeksie en outo-etnografie word deur Erika Lemmer, Linde Beer en Jan-Ben Rothman onder die loep geneem waarin die Afrika-leefwêreld vir die leser oopgemaak word. Die persoonlike geskiedenis aktiveer die kollektiewe geskiedenis in ‘n Wonderlike geweld.
Daar is ‘n skrywersbiografie deur Erika Terblance, ‘n analise van “Bloed” uit Melk deur Susan Meyer as ‘n soort tuiskoms in Afrika en Réney Warrington kyk na die verfilming van Poppie en wys op die betekenis van kleur in die film deur Christiaan Olwagen.
Ena Jansen lewer ‘n pragtige, meelewende huldiging vir die skrywer op versoek van die familie op 4 Julie 2020, Welgemeend.
Oor die limietberge en die troos van Leeukop. Sy sou die hiernamaals wou binnegaan, skryf Jansen, met ‘n notaboekie en BIC-pen (180). En soos Willie Burger haar aanhaal:”My lewe beweeg op die periferie van ‘n bestaansvlak wat ek nie ken nie”. En dit is wat sy dan ondersoek en verken in haar oeuvre.
Ek onthou hoe Ons wag op die kaptein (1963) my as jong leser aangegryp het as voorgraadse student.
Waarskynlik een van die beste huldigingsbundels tot op datum. Met ‘n pragvers van Johann de Lange:
Elsa Joubert 1922-2020
Van vele reis & deur vele huise
het jy oplaas tuisgekom op jou pad.
In die laaste, laatste foto’s val
die skadu’s jou binne soos ‘n stad.
Die lig buite straal deur jou vensters in
& jy hoor die einde sê: Kom ons begin.