Jürgen Fomm, daardie uitsonderlike uitlegkunstenaar, en Meneer Van Niekerk sit om die ronde tafel. Hy bied vir my ‘n whisky aan. Hy hang my baadjie om my stoel wat hy galant uittrek.
Dis die laat-tagtigerjare. Ek is op besoek aan die Kaap en hier, in 1987, begin ‘n lang vriendskap. Ons liefde vir reis en lees vorm deel van ons gesprekke. Hy nooi my die volgende dag Rozenhof toe.
En toe ek in 1992 aftrek Kaap toe, besoek ek hom dikwels aan huis in Oranjezicht waar ons gesellige tye beleef saam met sy meelewende vrou, Anneke. Ons deel kennis oor rooi wyne.
Boeke en skilderye. ‘n Huis met ‘n uitsig oor Kaapstad en ‘n pragtige tuin.
Ek stel die adellikes voor aan Nelson’s eye se visgeregte; uitstaande soos die vleisgeregte. Vele gesprekke had ons oor letterkundige krisisse en modes. Hy het Sheila Cussons uitgegee en haar eenmalige posisie verstaan; net soos wat hy Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie se uitgewer was. Daar was ander grotes wat hy geken het: Elsa Joubert en haar man, Klaas Steytler, o.a.
En ook kuiers by Sue Robinson, wat enkele huise van hul gewoon het.
Danie van Niekerk kon altyd ‘n besondere perspektief gee.
“Ek wou jou uitgee, omdat jy verre landskappe en reise beskryf het.”
Op ‘n dag vertel hy my dat hy graag ‘n jongeling aangestel het wat Latyn ken. En dit was Danie: ‘n taalkenner. Behalwe vir Latyn, het hy Grieks, Frans en Spaans geken. ‘n Vraagteken in die kantlyn kon jou weer op die regte spoor kry. Manuskripte het hy saam met sy uitsonderlike deelgenote gelees. Van hulle het later my van raad bedien: Frederik de Jager, Petra Müller en Charles Fryer …
Toe hulle die pragtige huis in Oranjezicht verlaat en trek na die aftree-oord Oasis, skenk hy sy uitgebreide plateversameling aan my. Oor musiek was hy eweneens ingelig. Daniel Barenboim, Maria Callas, Beethoven.
‘n Ware heer. ‘n Einde van ‘n era ...
Met inperking en Covid kon ons die afgelope tyd net telefonies kommunikeer. My laaste geskenk aan die Van Niekerks was ‘n plant wat Anneke in haar tuin geplant het en wat steeds groei.
Maria Callas (1923–1977)
A woman sings with her ovaries – you’re only as good as your hormones.
– Carol Neblett
Vir Danie van Niekerk
La Divina,
temperamentis,
tessitura uniek;
die bybel van opera,
doop Leonard Bernstein
haar speels,
verewig
op ’n Griekse munt
haar asse gestrooi
in die Egeïese see
soos sy vra.
Haar stem
onlosmaaklik
deel van haar lyf:
eers gewigtig,
later afgeskaal.
Sy blameer glo
haar moeder, Evangelia,
vir haar skroom.
Sny haar los
van háár wat kleintyd
applous weerhou het
soos ’n ryke sy krummels
van ’n bedelaar.
Nimmer erkenning genoeg:
die media en operahuise
net ’n skynverblyf.
Telkens hunker sy
in herinnering
honger na haar moeder
se goedvinde terug,
na die suinige porsies
afgeweeg,
liefde op voorskrif.
Vaders vind sy elders:
Giovanni Battista Meneghini
vergoed vir haar vader se leuens
tot haar nemesis verskyn:
Onassis die goëlaar,
minnaar, befonkfaaier,
brutale vetsak,
’n eend wat munte
in die water afweeg –
tot Jacqueline Kennedy,
elegant en afgerond,
’n mooier, jonger diva
haar in die derde bedryf
lammermoor:
liefde, verraad, skandaal
uitgespeel in die openbaar
Sy kruip weg, verlore
in ’n glansbestaan,
vereensaam
tot haar terugkeer
met ’n stem wat vulgêr
en vals weerklink.
Lucia se waansin
het verruk,
haar ondergang aanskoulik;
Callas s'n speel af
in die stad van liefde en lig,
en in die staccato flitse
van paparazzi was alles
’n oop geheim.
(uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels. Imprimatur: 2021).