Tuesday, February 8, 2022

Resensie | Ruan Kemp – Wit leuen | Tafelberg, 2022

Ruan Kemp – Wit leuen. Tafelberg, 2022. ISBN: 9780624092322

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Ruan Kemp se tweede roman heet Wit leuen. Bemark soos volg:

Richter het 'n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip. In die krake van dinge beweeg hy, systap hy die gesagte en die laspostenare, al die bakhand tentakels van die unitêre staat, Uiopa. Toe hy mis trap, moet hy vlug. Saam met Margaret reis hy deur 'n nagmerrielandskap 'n bisarre avontuur in

Die roman is, soos die modewoord lui, ‘n distópiese roman waarin ‘n mens nooit seker is wat die karakters werklik beleef en wat fantasie, droom, hallusinasie of skryfwerk is nie. Dit is onder andere uiters belangrik dat hierdie roman op dieselfde tyd verskyn as die pakkende roman van Jaco Alant  wat heet Is mos oos (Protea). Beide romans gee ‘n blik op ‘n versplinterde werklikheid. By Alant word daar na moderne filosowe soos Deleuze & Guattari verwys.
 

Kemp se Wit leuen ondersoek op ‘n onthutsende manier die hele kwessie van die leuen in ‘n samelewing wat by Kripke en Tarski die leuen-paradoks heet. Kort en klaar besluit die verteller op bladsy 26: “Die leuen versteek nie die waarheid nie – dit is die waarheid wat die feit verskuil dat daar nie een is nie. Die leuen is waar.” 

 

Verder terug in die Afrikaanse letterkunde is daar die skitter-werk van R.R. Ryger en onder andere Beertjies en sy boytjies(1991). Pretoria-Wes. Geweld. Opstand teen die (skool)sisteem. Humor wat wrang en uitsigloos raak. Dit handel oor Beertjie Booyse wat sy drie seuns grootmaak na sy vrou se dood. Andreas het uit die weermag gedros, Ketter wil biltong steel en Sugar, die bokser, is verlief op die skool se slet. Dit speel af in die noodtoestand van 1986. Die roman is destyds bemark as “rioolkultuur”.

 

Ryger se roman het ek destyds vir ‘n kollega oor die foon voorgelees: lam van die lag – tot die einde jou tref …

 

Kemp se roman werk met klassieke tekste. Van Rilke tot Camus. Van die Bybel tot visvang. Ons lees in ‘n hoofstuk “Tob sewe vanaf vers nege” en daar is bloed aan die kosyne, omdat dit eers ‘n slaghuis was. Simson wat gestoot of getrek het. Die verhaal van die Verlore Seun is ook ingebed.

 

En ‘n toespeling: What a friend we have in leashes.

 

Albert Camus is hier soos Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance (1974) is ‘n belangrike skaduteks. “Zen and the art of caring for your Cortina”, lees ons op bladsy 55.

 

Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy (1979) wat die moderne samelewing satiriseer, sal jy uitdiep soos die duiker in die roman. Nes Tarantino se 2003 film: Kill Bill. 

 

Gholf word gesien as ‘n vorm van meditasie en terapie. Suip en rook is ontspanning.

 

‘n Karakter meen: “Wat ek van heteroskedasitieit en kurtosis weet, kan jy by ’n hond leer blaf . . . Wat? Foucault jou Marcuse in jou Soros in op!” (168) ‘n Satiriese antwoord op heteronormatiwiteit en al die gonswoorde van ons tyd word op die kop gedraai.

 

Hierdie roman is nie vir weekhartiges nie. Die abjekte en geweld is hier. ‘n Wonder oor ‘n vrou se private dele na aanleiding van ‘n vishoek in haar lip, word banaal beskryf. Plat woorde soos Gezarra, boekkakdronk raak, vind ons hier: “’n Huis sonder ’n stoep is soos ’n pis sonder ’n poep” (36).

 

‘n Versameling van oorwas. Opera word toeparra. Eisj.

 

Distopia impliseer altyd dat ‘n mens die utopia of paradys verlaat het.

 

“Jy kan ’n boom aan sy vrugte ken, Irene. As jy tussen die lyne lees, merk jy die lyne is op. Niks meer oor om die leuens te keer nie.” (274)

 

Ons is hier in Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad.

 

Daar is tonele in hierdie roman wat hierdie leser nooit sal vergeet nie. Paddaman Neal wat ‘n handpik bewaar in sy vertoonkas. Daardie handpik wat nog vas is aan ‘n man se hand, wat gesterf het.

 

“Hy het amper die man ook uitgeduik, toe sien hy die man moes die pik se steel deur ’n gat in ’n rots gedruk het, en toe die pik se lus om sy pols styfgetrek het. Nagmerries gehad dat hy die man sou kon red, want hy was nog vars, niks seelewe op hom nie, al het sy bene soos seebamboes in die stroom gewaai. Homself getroos hy het die man sy wens gegun …” (71)

 

As daar agter distopia utopia skuil, geld dieselfde vir satire en parodie. Hier kan ‘n mens melancholie raaklees. Die suffering joker, soos Malcolm Bradbury hierdie soort karakter tipeer. Babyface se joernaal is iets anders. Die name van die karakters en plekke wys alreeds uit dat jy moet versigtig trap: Burokonome, Panty Fly,  Professor Paskwil, Oom-erik (die stommerik), Anomie …

 

Dis kognitiewe dissonansie soos ‘n karakter iewers opmerk. Vierkantige albasters en ‘n karakter in rolstoel.  Of ‘n Viking-snor.


Comnnonsense, ondermyn die teks se aanbod. Eat your heart out, Jacques Derrida.

Hierdie roman behoort al die skeptici wat indertyd gemeen het sy debuut, Gedeeltelik bewolk (2019), was nie sy eie werk nie, se monde finaal snoer. Hy bou voort op sy eiesoortige styl. 

 


Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK waar sy ‘n Fellow is.