I
Met die dood van Betty White, ‘n uitstaande aktrise, besoek ek weer The Golden Girls waar die bestes op Youtube versamel word. Hierdie reeks het beslis nie dateer nie en die skerp humor laat ‘n mens steeds bulderlag (
Die voortreflike ensemble-spel tussen Dorothy, Rose, Blanche en Sophia kan nie genoegsaam besing word nie.
Rita Meade het reeds in September 2014 die belangrikste literêre verwysings uitgewys (Literary Moments of "The Golden Girls"/ A Complete List. Besoek 5 Januarie 2022).
Een van die sterkste aweregse huldeblyke is natuurlik na Tennessee Williams (waarop Meade ook wys):
S5E3: “The Accurate Conception”
Picture it: Blanche’s daughter plans to get artificially inseminated and Blanche is not happy about it.
Blanche: “You are a Devereaux. A Devereaux has never had to pay for it!”
Dorothy (to the doctor): “She’s always depended on the kindness of strangers.”
Dit is natuurlik die aangepaste woorde van Blanche Dubois wanneer sy na die gestig geneem word in A streetcar named desire.
S5E15: “Triple Play”
Picture it: Rose and Miles get home from a date.
Miles: “We saw a marvelous production of The Glass Menagerie.”
Dorothy: “Oh, that is one of my favorite plays.”
Rose: “Frankly, I was a little disappointed.”
Miles: “Really?”
Rose: “Yeah, when you told me you were taking me to a revival of Tennessee Williams, I was expecting something more along the lines of a seance.”
Williams bekend om sy beskrywing van mense wat tússen waansin en normaliteit beweeg, is tersaaklik hier. Die feit dat daar ‘n grap van sy dramas gemaak word, wys op die belangrikheid van sy werk as dramaturg. Tydens ‘n TV-vasvra-wedstryd is Williams ook aanwesig.
In die loodsepisode word ons immers gewaarsku dat Blanche "more Southern than Blanche Dubois” is.
Mae West is ook hier: “Is that a pistol in your pocket or are you just glad to see me?”
Die grap word dan verletterlik: die man haal ‘n werklike pistool uit sy broek wat arme Blanche se sang-optrede verder belaglik maak. Burt Reynolds neem Sophia uit en vra, Wie van julle is die slet? Aldrie steek hulle hande op. Hulle is immers jaloers op Sophia se date.
Tydens ‘n hilariese beledigingstoneel tussen Blanche en Dorothy, versoek Sophia hulle om op te hou: “Stop girls, before you say something you both regret.”
Wanneer Dorothy en Blanche mekaar beledig, beweer Blanche dat om mense name te noem uiters kinderagtig is. In “Count Bessie” is daar ‘n hoender wat klavier speel met sy snawel.
Daar is net te veel goue oomblikke om op te noem. Waarskynlik een van die bestes, is die kondoom-toneel waar Blanche, Dorothy en Rose op ‘n uitstappie gaan. Alles netjies klandestien totdat die verkoopsman oor die interkom uitblaker en vra wat die kondome se prys is aan die bestuurder. Of Dorothy wat mislei word deur ‘n man wat sy dink belangstel in haar; net om te ontdek sy gaan net sy kinders oppas. Sy staan dan op en blaker oor die interkom in die restaurant sy geheim uit. Hy is impotent.
Drie weduwees en ‘n geskeide vrou deel ‘n huis in Miami. Die eienaar is Blanche Devereaux. Dorothy se tagtig-jarige moeder, Sophia Petrillo, trek by hulle in nadat die aftree-oord waarin sy gebly het, afgebrand het. Die reeks is opgeneem voor ‘n lewende gehoor. (Skynbaar was daar spanning tussen Dorothy en Rose, omdat sy met die gehoor geflikflooi het.) Bykans elke denkbare sosiale probleem word aangespreek: Vigs, sosiale stande, prostitusie, lesbianisme en ander kwessies word by die kombuistafel bespreek. Rose se gebrek aan insig word dikwels geïllustreer met haar verhale wat niks met die situasie te make het nie, en Sophia maak dikwels bogstories op.
Dit is ‘n briljante reeks gepak met intertekste en toespelings op klassieke tekste.
II
Beatrice Arthur vertolk die rol van Dorothy Zbornak (née Petrillo), ‘n onderwyseres uit Brooklyn. Haar ouers is Sisiliaanse immigrante, Sophia and Salvadore (Sal) Petrillo. Sy raak op skool swanger en trou met Stanley Zbornak (Herb Edelman) wat dikwels kamee-vertonings maak. Stan los haar vir ‘n lugwaardin na 38 jaar se getroude lewe en in ‘n wonderlike episode ontmoet sy die nuwe vrou by die troue, wat nie besef dat Dorothy getroud was met Stan nie. Haar sarkasme, humeurigheid en “one liners” is besonders.
Betty White vertolk die rol van Rose Nylund (née Lindström), ‘n Noorweegse Amerikaner. Sy is uiters naïef en teenoor die bruuske, onaantreklike Dorothy, ‘n antagonis. Sy is van St. Olaf, Minnesota en getroud met Charlies. Sy het vyf kinders: Kirsten, Bridget, Gunilla, Adam and Charlie, Jr. Sy werk onder andere as ‘n trauma-begeleier. Later is sy ‘n assistente vir ‘n bestuurder in “consumer”-kwessies.
Rue McClanahan as Blance Devereux (née Hollingsworth) werk in ‘n kunsmuseum. Sy is die ryk een in hierdie vriendskap. Sy het groot geword op ‘n landgoed in Atlanta, Geordia. Haar man was George, sy het ses kinders en is ‘n opperse mannejagter.
Estelle Getty vertolk die rol van Sophia Petrillo. Gebore in Sisilië, maar “vlug” na die VSA, omdat sy nie met Guido Spirelli wou trou nie. Sy trou met Sal en haar drie kinders is Dorothy, Gloria en Phil, ‘n “cross-dresser”. Haar humor is vinnig en op die punt af en sy blyk ‘n uitstekende kok te wees.
III
So agter al die grappies en opstuur, kom daar ernstige kwessies aan bod soos immigrant-wees teenoor burgerskap, ongehude moederskap, gereëlde huwelike, egskeidings, vrye seks, familie-spanninge, jaloesie, verraad, depressie, trauma.
Dorothy se broer as “cross-dresser” bring eweneens ‘n ander gender-kwessie na vore, ofskoon sy moeder dit kan hanteer.
Wat hierdie reeks voortreflik illustreer, is hoe wrééd humor kan wees.
Ons lag is, soos Freud reeds uitgewys het, om ons opponente te kan beheer. Deur hulle te verklein(eer) of verminder. Dis die Freudian-punchline soos Jerry Aline Flieger immers argumenteer.
Die vraag natuurlik is: as hierdie reeks nou vir die eerste keer die lig moes sien, sou die politiek-korrektes en die woke-generasie dit kon duld? Dit het begin in 1985 en in 1992 klaar gemaak.
Maar humor is immers die lag met die traan, aldus wyle Fransie Malherbe.
Wys my waarvoor jy lag en ek sal presies weet wie jy is.
Bron:
Freud, Sigmund. 1916/ 1976. Jokes and their relation to the unconscious. The Pelican Freud Library volume 6. (Londen: Penguin). (vertaal deur James Strachey en hersien deur Angela Richards).
© Joan Hambidge