Monday, January 31, 2022

Rubriek | Feite en fiksies | 2022

I

Op soek na Generaal Mannetjies Mentz is inderdaad, soos die gesiene historikus, Fransjohan Pretorius uitwys (Die Burger, 26 Januarie 2022) ‘n aangrypende roman. Sommige optredes is waar; ander opgemaak. Daar was nooit iemand soos Mannetjies Mentz nie. Deneys Reitz, die vrybuiterkorpse, “verflenterde groepies” is die basis van die verhaal waar die romanskrywer dan sy verbeelding inspan om ‘n ander blik op die oorlog te gee. Waarskynlik wou Coetzee die oorlog demitologiseer of die leser dwing om aannames te herbesoek? 

 

Pretorius se historiese artikels is uiters tersaaklik. Hierdie roman dwing ‘n mens terug na belangrike tekste oor die ABO. Inderdaad, ‘n alternatiewe historiese roman.


Christoffel Coetzee doen presies dieselfde as DM Thomas in sy beroemde roman The white hotel (1981).

 

In hierdie pakkende roman word Freud se lewe gefiksionaliseer. Thomas versoek die leser volumes 3, 8 en 9 van die Pelican Freud Biblioteek te lees, wat hy ook as meesterlike letterkundige tekste sien.

 

Ene Frau Anna G, ‘n operasangeres, wat leuens vertel aan Freud in terapie, blyk eintlik Elisabeth (Lisa) Erdman te wees. Don Giovanni, die oorlog (die roman begin in 1919 en eindig in 1941) en die Duitse besetting van Kiev, strafkampe, Babi Yar en die ontsettende ellende, word in hierdie roman beskou. Tussen ‘n 100 000 tot 150 000 mense is vermoor onder die bevel van Generaalmajoor Kurt Eberhard.

 

Verdraaiings van feite, ‘n spel met die geskiedenis (wat aanspraak maak op jou kennis van historiese tekste), is opvallend in hierdie twee bekroonde tekste. Beide smokkel met jou kop. Beide beklemtoon die wreedheid van oorlog. Groot skrywers gebruik die werklikheid en maak daarvan iets meer.

 

Coetzee het die Sanlam/De Kat-prys gewen in 1998, plus die M-Net- en Eugène Maraispryse in 1999. Thomas het die Cheltenham-prys verower.

 

In 1999 is Coetzee oorlede. Hoe jammer, want hierdie man kon skryf.

 

Net soos Thomas, ‘n gesiene romanskrywer en vertaler van Russiese digkuns.

 

II

 

Filmmakers speel ook met die konvensies tussen werklike gebeure en fiksionaliteit. Quentin Tarantino doen dit in sy film Once Upon a Time in Hollywood (2019) waar die kyker weet hoe die filmmaker Roman Polanski se vrou Sharon Tate vermoor is. Maar dit gebeur anders in die film.

 

Die feit dat die musiek van die Mamas & the Papas gebruik word in die film, is tersake. Mama Cass Elliott en Michelle Phillips was lede van hierdie groep en hulle lied “Straight Shooter” is gevind op die klavier by die moordtoneel in Polanski se huis. Polanski het ‘n affair gehad met Phillips, terwyl hy getroud was met Sharon Tate.

 

So die kyker beweeg tussen die film as ‘n manjifieke fabel en die werklike geskiedenis: hoe Sharon Tate vermoor is, omdat Manson wou wraak neem. Manson het homself as ‘n rockstar gesien en Terry Melcher, die vorige inwoner van hierdie huis is deur Manson geteiken.

 

In Polanski se films is daar eweneens ‘n spel met historisiteit. Sy film The Pianist (2002), ‘n holokaust-memoir, is ten dele gebaseer op sy eie lewe van die oorlog en die impak daarvan. In ‘n dokumentêre onderhoud vertel hy alles van sy pynlike jeug.

Il postino van Michael Radford in 1994 laat Pablo Neruda, die Chileens digter, besoek aflê waar hy nooit was nie. Die beroemde digter is verban na ‘n eiland en die posman gebruik Neruda se gedigte om ‘n meisie se hart te wen. Die impak van die digkuns en die bewondering vir die digter se uitsprake oor die politiek, lei tot die dood van die eenvoudige posman. Met Mario wat opnames van die see maak vir die groot digter …

 

Dit speel af in 1950. Neruda was nooit daar nie. In hierdie tyd was hy in Isla Negra.

 

Die vraag is: het die arme posman alles te letterlik vertolk? Is dit hoekom hy sterf?

 

Ook hier ‘n fyn balans tussen werklikheid en fiksionalisering.

 

III

 

Hoe meer die leser of kyker weet, hoe meer wen die teks aan kompleksiteite. Borges, die groot Argentynse skrywer, het byvoorbeeld ‘n verhaal geskryf waarin ‘n beroemde teks herskryf word. "Pierre Menard, Author of the Quixote"  ("Pierre Menard, autor del Quijote", 1962). Aan wie behoort wat? Wat is werklik en wat het die beroemde kritikus, ene Menard geapproprieer?

 

Hierdie soort tekste wat op ander tekste teer, eis geweldige vaardighede en opleiding in ironie en fantasie. En ‘n kennis van intertekste.

 

Jy kan tekste nie net sommer goedskiks op die woord neem nie. ‘n Roman of film is nooit gelyk aan die werklikheid nie. Dit is die waarheid gelieg, soos TT Cloete opgemerk het.

 

The author as stage-manager soos Peter Conradi dit noem in sy studie oor John Fowles.

 

 

Bronne:

 

Pretorius se rubriek: Mannetjies Mentz – ’n alternatiewe waarheid. Besoek 30 Januarie 2022

 

Onderhoud met Manson: Why Did the Manson Family Kill Sharon Tate? Here’s the Story Charles Manson Told the Last Man Who Interviewed Him. Besoek 30 Januarie 2022  

 

Peter Conradi. 1982. John Fowles. (Londen: Methuen).