Cas Wepener – Ritmes en rites. Naledi, 2022. ISBN: 9781928530763
Resensent: Joan Hambidge
In die Skool vir Tale aan die UK se teekamer staan Van Gennep se groen ensiklopedieë oor liminaliteite. In 1909 verskyn die Rites de passage oor oorgange waarop verskeie psigoanaliste en kenners al gereageer het. Dit is ‘n studie waardeur ek telkens blaai.
Cas Wepener se Ritmes en rites lewer implisiet en eksplisiet kommentaar op Van Gennep. Hierdie teoloog en skrywer lewer hier verslag met ‘n oes van stukke wat in Vrye Weekblad, Beeld en By verskyn het. Toeganklik, met ‘n besonder skerpsinnige oog vir dit wat ons tans beleef in hierdie tyd van inperking. Ofskoon die grendeltyd verby is, word die emosionele letsels nog lank nie deurgrond nie. Op ekonomiese, mediese, emosionele en psigiese vlakke beleef ons die impak van die pandemie, ‘n virale oorlog.
Wepener sien rites, rituele en sakramente as belangrike dade tot heling. Van ‘n sigaretstompie versend aan die Suid-Amerikaanse Katolieke teoloog, Leonardo Boff in Duitsland uit Suid-Amerika tot die wete dat die reis in die pandemie ‘n inwaartse een geword het. ‘n Statiese pelgrimstog, soos hy dit klinkend opsom. Boff se siening van hoe ‘n gewone ding ‘n sakrament kan word. ‘n Brief met ‘n sigaretstompie van sy vader, pas oorlede, verlos hom uit die eensame hede in Duitsland waar hy student is; met die wete dat hy dit wat was, nooit verlore gaan nie.
Hy skryf oor liminale ruimtes, oor beweging van inperking na ‘n nuwe staat. Hy beskryf die ruimte van die “backstage” waar die werklike drama op die (lewensverhoog) weerspreek word. Oor stilte via Simon & Garfunkel en natuurlik die film in Into great silence (Philip Gröning, 2005) wys hy op die bestaan van die swygmonnike. Sy kennis van en bewondering vir Karel Schoeman se romans is opvallend. Hy het immers ‘n studie oor sy werk geskryf: Die reis gaan inwaarts (2017).
Daar is humor wanneer hy ou Kerkbodes lees en doods- en in memoriam-berigte bestudeer. Geweldige insig rondom die slag van ‘n skaap op Clifton-strand via Girard. Drempels en liminaliteite analiseer deur die lens van Victor Turner, ‘n navolger van Van Gennep. Later kom hierdie meester aan die woord, o.a op bladsy 219.
Hy wys op die klaagkultuur en die wysheid dat lof kan voortkom uit ‘n klag. Die Ugandees Katongole se Born from lament is hier ‘n rigtingwyser. Hy lewer kommentaar op Patric Tariq Mellet se The lie of 1652 uit ‘n ander hoek in “Met ‘n Jeep na 1652”. Hy besoek townships en haal aan uit vele digters, skrywers en sangers om sy hand te versterk. Van A.G. Visser tot Churchill Naudé.
Tereg merk Jo van Eeden op in die voorwoord: “Hy kry dit reg om die spieël vas te hou sodat jy vir ’n slag goed daarin kan kyk – selfs al is daardie beeld soms tot verwrongendheid gekraak. Hy gooi die venster wyd oop sodat jy in diep asemteue ook na buite kan kyk – selfs al woed die ergste storm denkbaar net daar op jou voorstoep. En soms plaas hy ’n onderwerp onder ’n vergrootglas – selfs al skroei die son later witwarm presies daar waar die ligstrale en senupunte ontmoet.”
Cas Wepener skryf insigryk oor die temenos (magiese sirkel), soos Jung dit beskryf het. Soos Wilhelm Jordaan en rvr (in Die Burger) maak hulle lesers bewus van die transformasie binne die teologiese en spirituele wêreld.
‘n Hoogtepunt is “Karelsfontein. ‘n Skilder se ode aan Karel Schoeman” (199) waarin Wepener se bewondering vir Schoeman goed saamval met skilder Philip Badenhorst se “innerlike landskappe”. Die fontein van die skilder vloei hier inderdaad saam met die fontein van die grootse skrywer. So ook “Foto’s van die ewige slaap” waarin hy vir ons die gebruik verduidelik aan die einde van die negentiende en vroeg-twintigste eeu om mense in hulle ewige slaap te fotografeer. Hy analiseer “die tekstuur van stilte”, die leesaksie as ritueel op ‘n toeganklike manier. “Om tyd te mors” het my aangespreek.
‘n Kreatiewe speurtog in Kerstyd” (saam met Tanya van Wyk as mede-skrywer) verduidelik die betekenis van relikwieë in verskeie godsdienste. Hy skryf oor die pandemie, oor verhoudings, oor identiteit, oor geregtigheid en versoening, oor moed en hoop, oor die slagvelde in ons samelewing, oor die ritme van tyd en die veelkantige Karel Schoeman.
Net terloops: ons praat nie meer van Ikeys nie, maar van UCT, ‘n multi-kulturele ruimte. Soms is die predikant te sterk aan woord, maar wanneer die skrywer-filosoof praat, spreek dit my aan soos in “’n Erfenis-gelykenis” (60). Geselserige uitdrukkings (biesies bewe, 70) verminder die teks volgens hierdie leser. Of om liturgie as ‘n blikskottel te beskryf (70) deug in koerantrubriek, maar nie in boekvorm nie. Of hoop is ‘n bogger (75).
Dit is ‘n boek wat jy langs jou bed hou vir weer-lees.
Die voorblad met die kunswerk van Philip Willem Badenhorst is beeldskoon.