Friday, January 14, 2022

Filmrubriek | The Roman Spring of Mrs Stone (1961)

I 

Tennesee Williams is sinoniem met self-verloëning en -misleiding. Min dramaturge kon die spanning tussen waansin en normaliteit so uitstekend ontgin as hy. Blanche DuBois. Of ‘n ongeleefde lewe so briljant weergee. Amanda Wingfield. Of Brick Pollitt as gerepresseerde gay.

 

The Roman Spring of Mrs Stone is die uitstekende filmweergawe van 1961 wat op sy novelle gebaseer is. José Quintero is die regisseur van die film met Vivien Leigh, Warren Beatty, Jill St. John en Lotte Lenya as die belangrikste akteurs. Lotte Lenya sou net hierna in Bond (From Russia with love, 1963) die booswig speel. Gavin Lambert het die draaiboek geskryf wat die essensie van Williams raakvat.

 

II

 

In ‘n klein dokumentêr (as ‘n addendum tot my DVD) is daar ‘n interessante beskouing oor die film te siene. Hoe Vivien Leigh se huwelik met Lawrence Olivier tot ‘n einde gekom tydens die produksie van die film en hoe Warren Beatty, as ‘n jong onbekende akteur, gereis het na ‘n eiland in Puerto Rico waar Williams vakansie gehou het om hom te oortuig dat hy die rol van Paolo moes vertolk. Met ‘n sogenaamde man tan en ‘n Italiaanse grammatika- en fraseboek onder sy blad, het hy Williams oorrompel. Beatty het die rol bó Alain Delon gekry, omdat Williams ‘n inset kon lewer oor wie die akteur moes wees. Dit blyk ook dat hy ten spyte van sy aantreklikheid gesukkel het om kop bo water te hou en selfs dramaskool as ‘n jongeling moes verlaat om werk te vind in New York. Maar hierdie film het hom gevestig as ‘n ernstige akteur, omdat hy bereid was om téén die stereotipiese opvatting van die beefcake in te speel.

 

Sy loopbaan het hiermee ‘n hupstoot gekry, terwyl Leigh se loopbaan  – ten spyte van enorme sukses met A streetcar named desire en Gone with the wind – besig was om met rasse skrede agteruit te gaan.

 

Is dit kuns wat lewe naboots of andersom?, vra een van die kommentators.

 

III

 

Hierdie film som waarskynlik Williams se aard op as onvervulde mens, uitgelewer aan andere en fata. Met ‘n ingewikkelde verhouding met sy familie en die eise om telkens ‘n belangrike dramateks te lewer, het sy lewe toenemend ingewikkelder geraak met allerlei verslawings.

 

The Roman Spring of Mrs Stone vertel die verhaal van ‘n aktrise wat tydens haar vertolking van Rosalind in As you like it besef dat die vertoning ‘n mislukking was. Sy besluit – met die hulp van haar welgestelde eggenoot – om die produksie te kanselleer. Die kyker is bewus van die New Yorkse vriende wat haar beskinder en verminder. Ons is bewus van sy gesondheidsprobleme wat gebruik word om die produksie te eindig.

 

Sy vertrek op vakansie met haar eggenoot, Tom Stone, na Rome en hy sterf op die vliegtuig aan ‘n hartaanval. Hy is veel ouer as sy.

 

In Rome word Karen Stone, die ryk weduwee, die slagoffer van skindertonge en die Contessa Magda Terribili-Gonzales (uitstekend vertolk deur Lotte Lenya), wat haar manipuleer en indwing in ‘n verhouding met ‘n marchetto, ene Paolo di Leo (Beatty). Die Contessa leen ook geld van Karen Stone wat haar daarop attent maak dat Amerikaners nie so naïef is as wat hulle in films voorgestel word nie.

 

Karen raak egter verlief op Paolo, terwyl hy haar manipuleer vir geld. Haar vriendin, Meg lewer besoek af en waarsku haar oor die skindertonge en die paparazzi se uitlatings.

 

Meg, ‘n politieke joernalis probeer haar oorreed om terug te keer New York toe, maar Karen volg haar hart.

 

Want dit was Paolo wat haar waarsku dat ryk vrouens kan sterf aan die hand van ‘n besoeker. Rome, waarsku hy, is ouer as jy; meer as 300 jaar. Jy is net 50 jaar …

Sy is egter vreesloos wanneer hy haar bang praat. Sy antwoord:

"All I need is three or four years. After that, a cut throat would be a convenience".

 

Is Karen die dramaturg van haar eie lot? Sy lieg immers vir vriende uit die VSA wat op besoek is in Rome dat sy aan ‘n ongeneeslike siekte ly.

 

Meg is die een wat haar probeer beskerm. Meg is reeds weg is wanneer Karen en Paolo se verhouding breek.  Karen haal sy foto uit die raam en ons sien na die vertrek van die gaste wat na die film-footage moes kom kyk of Paolo in ‘n filmrol sou kon speel, net ‘n leë raam.

 

Tydens hierdie besoek aan haar weelderige palazzo is Paolo roekeloos-afsydig en hy flirteer openlik met Barbara Bingham om ‘n rol te kry. Sy oppervlakkigheid word weergegee in sy gesprekke oor ander tydens besoeke aan die barbier. Hy lê ook in sonbaai op haar palazzo se dak.

 

Hy is ‘n opperse emosieswendelaar wat duur klere van Karen ontvang en haar belieg oor ‘n vriend se geldnood. Ofskoon sy weet hy lieg, laat sy hom begaan. 

 

Die geliefde vertrek. Daar is niks meer oor nie. 

 

In die film kyk Karen voortdurend in spieëls. Oomblikke van self-konfrontasie? Of die ouer aktrise wat narsisties na haarself kyk en besef sy het oud geword?

 

Alles beweeg, die sterre, die swaels, waarsku die gigolo. 

 

Ons is bewus van ‘n jong man wat onder haar palazzo bly en haar dophou. Uiteindelik gooi sy ‘n sleutel af na hom. Hy kom na haar kamer en in die slot vermoor hy haar waarskynlik.

 

Jill St. John in die ektra-kommentaar, meen dis ‘n nuwe begin vir Karen Stone. Die kenner van Tennessee Williams weet dis nie so nie. Dis immers ook tersaaklik dat Vivien Leigh Jill St. John tydens die produksie van hierdie film op die filmstel geïgnoreer het. ‘n Deurwinterde Williams-vertolker weet immers hoe sub-teks werk. Jill St. John was immers ‘n Bond-meisie in Diamonds are forever (1971).

 

In ‘n wonderlike oomblik in The Roman Spring of Mrs Stone laat Vivien Leigh (as Karen Stone) vir Jill St. John weet sy het nog geen van haar films gesien nie.

 

En jy as kyker weet dis ‘n klap na die harde, harde werklikheid. Alles in hierdie film gaan oor betreding en om die vyand in jou private ruimte toe te laat. Sleeping with the enemy. Tydens een van die besoeke van  Contessa Magda Terribili-Gonzales maak sy beledigende opmerkings voor ander gaste oor Karen Stone, wat dit hoor, maar ignoreer. (Lotte Lenya het tereg ‘n Oscar ontvang as beste byspeler vir haar rol.)

 

En dis eweneens relevant dat Rosalind ter sprake kom in hierdie film. Rosalind is immers bekend vir haar skerp tong, skoonheid en vermoë om te oorleef.

Ironies bepaald. Want Karen Stone oorleef nié.

 

 

IV

 

Die belangrikste vertolkings:

 

Vivien Leigh as Karen Stone

Warren Beatty as Paolo di Leo

Lotte Lenya as Contessa Magda Terribili-Gonzales

Coral Browne as Meg

Jill St. John as Barbara Bingham

Jeremy Spenser as Young Man

 

Vir ‘n analise van die novelle: Theoharis Theoharis Constantine - The kindness of strangers : savage rescue in Tennessee Williams' The roman spring of mrs. Stone. Besoek 9 Januarie 2022.

 

© Joan Hambidge