Tuesday, December 14, 2021

Resensies | Wilna Adriaanse – Vlug | Tafelberg, 2021

Wilna Adriaanse – Vlug. Tafelberg, 2021. ISBN: 9780624092605

Resensent: Joan Hambidge

 

Die speurverhaal het enorm belangrike vroueskrywers opgelewer soos Agatha Christie, P.D. James, Patricia Cornwall, Ruth Rendell, o.a. Ook hier te lande het vroue al hoe dringender begin stem dik maak in hierdie oorspronklike manlike ruimte. Christie het twee bekende speurders geskep: Hercules Poirot en Miss Marple as ‘n antwoord op Edgar Allan Poe dalk? Wanneer jy Christie stip lees, is dit opvallend hoe sy werk met die identiteit van dubbelspel. ‘n Voorgee wat ontmasker word.


Mense wat dikwels wegvlug van ‘n verlede …

 

Wilna Adriaanse het ‘n roman geskryf met die titel Dubbelspel. Tydens die lees van haar jongste roman Vlug kyk ek na die Deense reeks, The Killing met ‘n vrou as speurder. Sarah Lund (vertolk deur Sofie Gråbøl) ondersoek die dood van die jong vrou. Daar is vele red herrings en die kyker word op verskeie dwaalspore gelei. Hierdie uitsteltegniek maak van die reeks iets uitsonderliks en jy word voortdurend ge-dupe. Musiek word eweneens ingespan in hierdie series van  Søren Sveistrup wat in 2007 begin het, om die spanning te verhoog.

 

In Murder by death word die kyker deur ‘n slim regisseur aan die neus rondgelei. Dit gaan hier om al die vals leidrade en dan ten slotte ironiese kommentaar oor inligting wat nooit van die begin af aangebied is nie. Bekende figure tree hier op soos Colombo en Truman Capote is op sy stukke in hierdie Neil Simon - Robert Moore-produksie (1976).

 

Speurverhale in boekvorm het nie musiek wat help om sub-teks te skep nie. Dus: die skrywer moet ander tegnieke inspan.

 

Adriaanse skep spanning met Milla Roux, ‘n veearts wat werk by ‘n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die DRK. Sy vlug letterlik van haar verlede waar haar man en kind doodgeskiet is in ‘n mislukte motorkaping. Die twee wêrelde (hede teenoor verlede) en die nuwe geweld wat sy ervaar met ‘n oorlog en opstand van rebelle, maak haar psigies weerloos. Die gewonde Milla vlug met dokter Graham Saunders en drie sjimpansee-wesies.

 

Inderdaad: diereregte, motorkapings, Kongo (DRC), Dokters sonder Grense, verledes waarvan gevlug moet word, skep hier intrige en intense spanning. Ons beweeg vorentoe, maar terselfdertyd, as lesende speurders, ook agtertoe om leidrade op te tel. In hierdie tyd kyk hierdie leser na die Crime & Mystery-kanaal met ‘n program oor ‘n vrou wie se sjimpansee haar beste vriendin takel en bykans doodmaak. Sy doen ‘n ooginfeksie op, word blind en na sjirurgiese konstruksie word sy ‘n aktivis teen die aanneem van sjimpansees. Haar vriendin, die “moeder”, van die dier sterf egter. Dit wys hoe relevant en eietyds Adriaanse se roman is.

 

En een van Adriaanse se spanning-kurwes is dat sy die werklikheid en wetenskap aanwend om die verhaal en plot te dryf. Haar karakterisering is eweneens geloofbaar.

 

Milla is menslik. Sy is geen papiermens nie. Haar emosies is eg en die trauma word oortuigend vertel. Haar teenspeler of antagonis, het eweneens ‘n verlede en ofskoon hy haar “redder” blyk te wees, het hierdie vroulike hoofkarakter agentskap. Sy dikteer byvoorbeeld dat sy meer van hom verlang.

 

Graham Saunders wat behoort aan die organisasie Dokters sonder Grense, is meer as die dokter of dr Marius Hugo in ‘n populêre liefdesverhaal. Adriaanse skep ‘n balans tussen die kodes van die liefdesverhaal en die speurverhaal; sonder dat eersgenoemde steurend inwerk op die leser wat spanning ervaar en hoop hulle sal oorleef.

 

Die roman is besonder helder en konkreet geskryf: ‘n mens beleef die werklikheid en die landskap. Jy kan die impak van sowel die psigiese as fisiese pyn voel. Aftakeling word eerlik weergegee en verflenterde klere werp lig op ‘n psige wat uitmekaar val. Uitstekende besonderhede oor kos en motors en septisemie.

 

Adriaanse se roman beweeg buite die grense van die konvensionele speur- en spanningsverhaal, omdat dit kommentaar lewer op oorlog, diereregte en ons bestaan in Afrika, wat vanuit ‘n vliegtuig na ‘n groen smarag lyk.

 

Die impak van trauma word eweneens goed beskryf, met al die wisselende emosies so bekend aan diegene, wat al die impak van hierdie lyding moes ervaar.

 

Van trauma (en die nagevolge) kan jy helaas nooit weg-vlug nie. Dit bepaal wie jy is. Alice in Wonderland is ‘n ingebedde kode. En ‘n slim toespeling op die sogenaamde AIWS-sindroom (Alice in Wonderland-sindroom), ‘n neurologiese toestand met visuele verwringings, ‘n tyddistorsie en vreemde liggaamservaring, neem die roman na ‘n ander vlak.

 

Met hierdie kennis, weet jy dat Wilna Adriaanse begryp hoe om die letterkundige speurder op nog ‘n roete te neem. Net soos Agatha Christie, die meester, se verhale dit ook by uitstek kon doen. En steeds doen.

 

In “The purloined letter”, waaroor Lacan en Derrida uitgebreid geskryf het, staan die gesteelde brief reg voor jou en hierom kan jy dit nie sien nie. By vroue-speurverhaalskrywers word leidrade meestal weggesteek.

 

Die motto “Diaspora Blues” van Ijeoma Umebinyuo raam hierdie roman goed.

 

 

Diaspora Blues 

Ijeoma Umebinyuo

 

So,

here you are

too foreign for home

too foreign for here.

never enough for both.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)