Nachoem M. Wijnberg – Liedjes / Liedjies (Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Imprimatur, 2021. ISBN: 978-0-620-95640-6
Resensent: Joan Hambidge
Uit die hoek van jou oog. Aweregs. Onverwags. So kan ‘n mens hierdie pakkende bundel van Nachoem M. Wijnberg beskryf. Liedjies heet dit en gepubliseer deur Imprimatur wat naam maak as ‘n belangrike uitgewershuis.
Die digter is bekroon met VSB Prys (2009) en die gesogte P.C. Hooft in 2018. Hy het al opgetree by Poetry International en sy werk is gewild in Nederland.
Die digkuns het immers begin by die lied of gesang en die leser besef dat die digter met hierdie aspek werk.
Liedjie
Die laaste keer toe ek met jou praat,
was ek skaars aan die woord;
die laaste keer dat ek gepraat het,
maak nou maar ’n liedjie daarvan.
Ek het gesê ek kan nie sing nie,
maar kan jy dan sing,
het ek daardie laaste keer gevra,
ek het jou nooit hoor sing nie.
Die gedigte werk met teenoorgesteldes en paradokse:
In die lig kry ek nie wat ek in die donker wou hê nie,
in die donker nie wat ek in die lig wou hê nie.
Hierdie bundel wat oënskynlik “oop” en toeganklik geskryf is, bevat egter sterk Jungiaanse argetipes. Donker teenoor lig; onthou teenoor nou – die ewige jin/jang van ons bestaan.
So lui ‘n strofe:
Asof diepte nie nodig is nie,
donkergroen struike,
’n goue voël wat verbyloop,
die dae en nagte ’n deel van mekaar. (165)
Die hele bundel werk met hierdie opposisies om in Jungiaanse terme tot individuasie of heelheid te kom. Leegheid teenoor volheid. Links teenoor regs. Traag teenoor vinnig.
Hierdie bundel maak ons bewus van Jung se uitspraak in On the nature of the psyche:
We must get at the Eastern values from within and not from without, seeking them in ourselves, in the unconscious. We shall then discover how great is our fear of the unconscious and how formidable are our resistances. Because of these resistances we doubt… the self-liberating power of the introverted mind.
Simbole word geaktiveer met verwysings na Leviatan, Egipte en Moses. Jacques Brel hier aktiveer ouderdom, verganklikheid en weerloosheid.
Die herinnering aan die jeug en wat die digters van sy ouers ontvang het, lewer bewys van hierdie proses. Alles wat hy sien is soos ‘n herinnerde gedig (167).
Die digkuns suiwer die digter, maak hom as’t ware van binne af skoon; trouens, dit stroop die digter tot essensie (169). Die gedigte word nie gemaak nie; hulle kom na hom, die digter (157). Gedigte word herskryf en die reëls van die prosodie is bekend aan hom: begin word einde; einde word begin (127).
Imprimatur gee vir ons die oorspronklike vers en die vertaling, behendig gedoen deur Daniel Hugo.
Die maklike vers is immers die moeilikste een om te skryf.
Bronne:
Cirlot, J.E. 1971. A Dictionary of Symbols. (Londen: Penguin).
Jung. C.G. 1960 On the nature of the psyche. (Princeton: Princeton University Press).
Stevens, Anthony. 1998. Ariadne’s Clue: A Guide to the Symbols of Humankind. (Princeton: Princeton University Press).
Hier is van die bundels wat die digter al gepubliseer het:
De simulatie van de schepping, Holland, Haarlem, 1989
De voorstelling in de nachtclub, Holland, Haarlem, 1990
De expeditie naar Cathay, Holland, Haarlem, 1991
Langzaam en zacht, Holland, Haarlem, 1993
Is het dan goed, De Bezige Bij, Amsterdam, 1994
Geschenken, De Bezige Bij, Amsterdam, 1996
Alvast, De Bezige Bij, Amsterdam, 1998
Vogels, Contact, Amsterdam, 2001
Uit 7 (a selection from Wijnberg’s first seven collections), Contact, Amsterdam, 2003.
Eerst dit dan dat, Contact, Amsterdam, 2004
Liedjes, Contact, Amsterdam, 2006
Uit tien (a selection from ten collections), Contact, Amsterdam, 2008
Het leven van, Contact, Amsterdam, 2008
Divan van Ghalib, Atlas Contact, Amsterdam, 2009
Als ik als eerste aankom, Atlas Contact, Amsterdam, 2011
Nog een grap, Atlas contact, Amsterdam, 2013
Van groot belang, Atlas Contact, Amsterdam, 2015
Uit tien, Atlas Contact, Amsterdam, 2016
Voor jou, van jou, Atlas Contact, Amsterdam, 2017
So klink die digter in Engels:
Song
The last time I spoke to you,
I hardly got a word in;
the last time I spoke,
make a song of that.
I said I couldn’t sing,
can you sing,
I asked the last time I spoke to you,
I’ve never heard you sing.
(Song (poem) - Nachoem M. Wijnberg - Netherlands, Poetry International. Vertaal deur David Colmer, 2007. Besoek 4 Desember 2021)
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)