Sunday, October 3, 2021

Resensie | Nicole Jaekel Strauss - Om alleen te gaan | Queillerie, 2021

Nicole Jaekel Strauss - Om alleen te gaanQueillerie, 2021. ISBN: 978 0795 801648

Resensent: Joan Hambidge

 

Nicole Jaekel Strauss het veral bekendheid verwerf as bekroonde kortverhaalskrywer en bloemleser van die genoeglike Kosblik (2013). Kos, eet en voedsel is ‘n belangrike onderbou van hierdie skrywer se werk soos in Maal (2010) en As in die mond (2017). In haar debuutroman is daar verwysings na kos soos kosheri, Fattah, fuul, kahk, ensomeer. Die leesaksie as ‘n spyskaart (J. Hillis Miller) impliseer ‘n bepaalde orde. 

 

Wyle Hennie Aucamp het altyd gemeen die kortverhaal is nie ‘n mindere sub-genre of oefenplek vir die skrywer wat ‘n roman beoog nie. Tog kan kortverhaalskrywers oortuigende romanskrywers wees net soos digters dramaturge kan word.

 

Van die eerste oomblik sluk hierdie roman jou heelhuids in op ‘n reistog deur Egipte. Wat dikwels blote “travelogue” kan bly of te na aan die herkenbare beweeg (vraisemblance) is Om alleen te gaan dit gelukkig nie. Die roman ondersoek reis (die transportering van die bekende na die onbekende ruimte), die gevare hieraan verbonde, die psigiese verandering of transformasie en uiteraard die komplekse emosies opgesluit in transportasie.

 

Die titel (met ‘n knipoog na Fanie Olivier se digbundel Om alleen te reis uit 1973) dui op ‘n soloreis.

 

Die Rooikappie-verhaal is ook ‘n soort reisverhaal: die beweging van een punt na ‘n ander, die ag slaan op raad of die ignorering daarvan. En in hierdie Rooikappie se mandjie is daar mitologiese gidse.

 

En wat uiteindelik gebeur wanneer jy buite die bekende of gebaande weë beweeg, word in hierdie teks ondersoek.

 

Die roman word kort en kragtig bemark:

Cato ontmoet Da’oud, ’n jong Egiptenaar, tydens ’n bootvaart op die Nyl. Sy familie is intens geraak deur sosio-politieke onrus en ongeregtigheid, met 2011 se onlus op die Tahrir-plein as laagtepunt. Op hul bootvaart ontmoet dié twee ’n bonte verskeidenheid soekers en swerwers, wat almal afleggings en tot-rus-kom moet deurmaak – elkeen alleen. 

Egipte het hierdie leser driekeer beleef (in verskillende tye) en die Nylvaart tweekeer meegemaak van Aswan tot Luxor. En weer van Luxor tot Aswan. Museums besoek. Die piramides bestyg en die mitologie bestudeer. Die spanning tussen Egipte en ‘n besoeker word uitgewerk róndom oorlog en konflik in hierdie vertelling. Neith die godin van oorlog teenoor die opstand teen Moebarak. 

 

Cato se vader was eweneens betrokke by die oorlog in El Alamein met vertellings oor grusame ervaringe in die woestyn. 

 

Maar daardie stories blyk vaag te wees, want Cato kan nie onthou wanneer haar vader uit Mombasa vertrek het nie.

 

Die roman neem ons na ervarings op die Nyl, besoeke aan museums en uiteraard die Vallei van Konings. Catarina van Staden (Cato), onderwyseres, lewer kommentaar op die gode Nut en Geb, Hatsjepsoet, onder andere. Haar fyn waarneming word dus ingegee deur haar werk as pedagoog. Sy registreer ook verlies (56) en haar reis word een van selfkonfrontasie. Wat het sy haar kinders aangedoen, wonder sy, deur die gesin op te breek? (150)

 

Isis en Osiris (en Horus), die Bybel (Prediker), Anna Karenina en Tsjekof word netjies ingeweef om die verhaal vérder te dra met ‘n ondersoek na oordeel en haat, twee belangrike aspekte van menswees. Rondom die dood van ‘n kind en die rouproses vind ons ‘n besonder emosionele beskrywing van die uitwerking op ‘n huwelik in die afdeling Taweret (die godin van geboorte en fertiliteit). Liefdesontrou – netjies voorberei rondom Hatsjepsoet lei tot skeiding en ‘n alleenreis. Met ‘n onthulling oor komplekse keuses rondom genderidentiteite.

 

Die verhaal word geraam rondom ‘n mitologiese figuur in elke hoofstuk, ‘n vernuftige truuk om nou teenoor die dieper argetipiese laag te plaas. Nefertiti is simbolies aanwesig. Haar amulet is ‘n skilpad. ‘n Simbool van spiritualiteit en verbind op verskillende vlakke met ‘n geliefde en die dieper mitologie. Kos, soos begin het, speel ‘n beduidende rol in hierdie roman. Jan Rabie se “Drie kaalkoppe eet tesame” word in die verhaal ingebed om iets van die hoofkarakter se siening van taal en kos te verklap.

 

En hierdie boek – met ‘n handige gids agterin – neem die leser op ‘n buite- en binnereis. Dis nie ‘n roman wat nie haar leser kielhaal nie, maar eerder verskillende aspekte van menswees saamsnoer met die besef: daar is niks nuuts onder die son nie. Cato erken ook hoe sy deur ander se lense kyk na Egipte, ‘n besondere erkenning van hoe ons deur die mitologie, films en Die Bybel beïnvloed is om na hierdie landskap te kyk. En die filmweergawe van Agatha Christie se Death on the Nile is eweneens hier ‘n sleutel. En die kwessie met die skilpadjie word ‘n Christie-krimi-in-die-kleine. Met ‘n kopknik na die Katarak. En Agatha Christie-bewonderaars sal plesier hê aan bepaalde bakens.

 

Die navorsing staan egter nooit in die pad van die storie(s) nie.

 

Shukran, Nicole Jaekel Strauss!


Nicole Jaekel Strauss

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)