Die naam is Bond. James Bond. James Bond, 007 het ‘n “licence to kill”. Die 25ste film in hierdie aanskoulike reeks heet No time to die, ‘n dubbel-sinnige titel.
Die hoof van M16 word vertolk deur ‘n ouerwordende, bykans blesgeworde Ralph Fiennes, na Judi Dench se wonderlike, strenge teenwoordigheid. Met ‘n bietjie guitigheid soos wanneer sy vir Bond ‘n whizza aanbied op die agtersitplek en hom enersyds van misogonisme beskuldig en andersyds opdrag gee om die boef se vrou te “pump for information”, siende dat sy ‘n eksminnares is. Jonathan Pryce in Tomorrow never dies (1997) as die media-mogul Elliot Carver is die booswig.
Bond-films het deur die jare die genderveranderinge in ons samelewing geregistreer van Sean Connery wat ‘n vrou speels op die sitvlak klap en met name soos Pussy Galore en Ms Goodnight tot die polities-korrekte aanwesigheid van M, vertolk deur Judi Dench. Daar was Roger Moore. Pierce Brosnan. Timothy Dalton …
In die verhouding wat Bond met Miss Moneypenny het, word die veranderde seksuele mores geregistreer. Die oujongnooi wat wag op die man teenoor die wulpse Bond-meisies, altyd diensbaar en gewillig. Goeie meisies teenoor die slette.
Deur die jare gebruik ek James Bond-films in ‘n genderkursus oor populêre tekste. Alles wat nie mag gebeur nie in die liefdesverhaal met sy streng voorskrifte en uitgestelde begeerte, word ervaar in die thriller en meer spesifiek, in die Bond-verhale. Toelaatbaar teenoor ontoelaatbaar. Wyle Cecilia Britz in haar Perskor-voorskrifte het die volgende eise gestel vir die hygroman:
'n Gelukkige einde met 'n stadig ontwikkelende, maar volgehoue liefdesverhouding tussen held en heldin; 'n bietjie détail oor hoofkarakters nadat hulle bymekaar uitgekom het en liefdestonele met 'n sekere mate van eksplisiete seksuele beskrywing.
'n Ongelukkige einde, fisieke mishandeling of verkragting, sado-masochisme, gang-bangs, masturbasie en gay-seks is verdere taboes, meen sy.
Dit spreek vanself dat al hierdie voorskrifte en kodes in die Bond-verhale op sy kop gekeer (op sy rug?) word.
Daniel Craig het my nog nooit oortuig as Bond nie. Hy te fisies na my sin, te gedrewe, te lyflik, te soutloos.
‘n Mens mis die intellektuele (en ironiese) spel van die ware James Bond wat aan Cambridge gestudeer het en Oosterse tale bestudeer het. In die romans van Fleming het hy later ook studeer aan die Universiteit van Geneve en leer ski in Kitzbühel. Dit verklaar waarom Bond dikwels in die Ooste opponente kan fnuik. In die ouer films is die onderhoud met die vervaardigers Albert R Broccoli en sy vrou Barbara insiggewend saam met Harry Saltzman se insette. Ook heerlik om te kyk na die hakkelende Fleming in klein film-opnames. Hulde aan Connery en Roger Moore!
As ‘n aksierolprent is die jongste Bond vol in die kol. Jaagtonele (dankie, die Aston Martin is terug), baie geraas, agterdog en angsvlakke.
Dis egter nie ware Bond nie. James Bond is hier sentimenteel. Daar is ‘n kind. ‘n Vrou. Trane. Ware liefde. En natuurlik ‘n terugspeel op On her Majesty’s Secret Service uit 1969 met George Lazenby en Diana Rigg, Bond se vrou wat sterf. Die interteks word hier via musiek ingevoer wanneer "We Have All the Time in the World" gesing word deur Louis Armstrong. Wanneer ‘n akteur moeg raak vir ‘n rol, word hy dikwels in ‘n film of sepie doodgemaak in ‘n send off. Dit is spektakulêr uitgevoer in Dallas.
In die coulisse wag ‘n swart, vroulike Bond. Nou ja, gelees as films wat ons Zeitgeist vertolk en weergee, mag dit seker. Die ware Bond-films bly Casino Royale, Dr No en die voortréflike From Russia with love wat die voorskrifte van Fleming se boeke volg.
‘n Jungiaanse analise van die argetipes in James Bond-films is beslis ‘n ondersoek werd; en nie Freudiaanse argetipes soos ‘n resensent nou onlangs beweer het nie (Dekonstruksie as gebundelde terrorisme | Netwerk24. Besoek 10 Oktober 2021).
Dalk is Cary Joji Fukunag, die regisseur, ingesluk deur die polities-korrekte dimensies van ons tyd? Miskien is die hewigheid van alles nou so geregistreer?
Kyk o.a. na Q se gay-genderidentiteit as ‘n gay man, en die nuwe 007 wat ‘n swart vrou gaan wees. Uitstekend vertolk deur Lashana Lynch.
Daar is baie geraas, ‘n virus, jaagtonele, spanning met Rami Malek as Lyutsifer Safin, die geskonde wraaksugtige boef wat himself veral wil wreek op Bond se liefling, Madeleine Swann (vertolk deur Léa Sedou), ‘n psigiater. Miskien kon sy nog nie haar lesbiese rol afskud om hier te oortuig nie? (Blue is the warmest colour; La Vie d’Adèle van Abdellatif Kechiche in 2013.)
I was not shaken or stirred.
© Joan Hambidge