Sunday, September 26, 2021

Rubriek | Inenting 2021

Op laerskool het daar so elke paar jaar ‘n skoolsuster jou ondersoek.

Jy staan net in jou swart skoolbroekie sonder jou wit hempie aan of skoene. In ‘n ry.


Jou keel word oopgetrek, ‘n versoete suikerpil vir polio in jou mondjie gesit met ‘n vinnige inenting teen witseerkeel en masels. Die spuitnaald flink gepiets en daarna net die reuk van ontsmetting. 

 

Hierna was jy allergies vir bysteek en weekliks het jy medikasie ontvang by ‘n kliniek in Pretoria. Alte lekker was dit want jy kon met die bus ry van pa se werk in die middestad op Paul Krugerplein tot in Sunnyside. Hier sou jy by die OK ‘n koeldrank drink en ‘n worsrolletjie eet. Te lekker om nie ma se verpligte groente te eet nie.

 

Toe begin jy na verre plekke te reis. En beduidend intens was die geelkoors-inspuiting wat jy moes kry vir ‘n reis na Indië. Jou arm pyn die aand. Dit lyk soos ‘n gholfbal soos jou arm swel. Jy is koorsig. Oor drie weke vertrek jy na Nepal en dan sal jy Indië deur Varanasi binnegaan.

 

Gelukkig gaan die olikheid gou oor. En op die reis deur Indië besef jy hoe gelukkig jy is om beskut te wees teen die aanslae en oorweldigende uitskot van hierdie land.


Deur die woestyn reis jy. Eet neute en gevaarlike kerrie. Slaap in die woestyn. Drink water uit ‘n kan.

 

Maar kom niks oor nie. In hierdie land bly jy intens bewus van die dood.

 

Daardie man wat stap in Jodhpoer

 

Daardie man wat stap in Jodhpoer,

nuus wag hom in vanaand:

soos hy stadig stap deur die stofstrate

met bedelaars en handelaars

– as getuies dat hy hier gewandel
het op die laaste dag van die week 

sal hy moontlik‘n koerant koop,

dalk aan kasjoeneute peusel,

water afslaan teen die stad se blou muur,

verder wonder wat hy vir aandete gaan kry,

nuus kyk en môre gewoonweg aangaan,

sy lewe sonder voorval noemenswaardig

of inmenging van die noodlot. Tot op hierdie punt.

Tot hy verneem sy vrou, sy toeverlaat,

het vandag skielik aan ‘n hartaanval beswyk.

Môre sal hy anders deur die strate van Jodhpoer stap.

Vir oulaas ‘n blom koop vir die klein, eenvoudige begrafnis,

die stoet deur die strate volg. En wag op sý laaste nag

wanneer sy stoet hom inwag.

Om agter die oomblik in te sien,

dit op te vang of kundalini te vind,

so ja so, is die skryf van hierdie gedig.

 

Hierna reis jy weer na Macchu Picchu en ontdek jy het jou geelkaart tuis vergeet. Die dokter by die kliniek wat beloof het hy sal jou van hulp kan wees tydens enige gebeurlikheid, is helaas nie lus om jou dokument deur te faks nie. Missing in action.

 

‘n Dokter in die dorpie gee vir jou ‘n tydelike geelkaart (natuurlik na ‘n paar dollars hande verwissel) en jy reis na Sao Paulo. O gedoente. Die geelkaart het nie internasionale status nie en wat nou? Die doenebeampte is hulpvaardig en wys na die kliniek op die lughawe. Jou vlug vertrek oor ‘n halfuur. Daar is lang toue. Jy onthou Indië en die slangsjarmeerder …

 

 

Slangsjarmeerder

 

Die slang dans op die maat van die eenstemfluit,

wriemelend, grillig, spiralend uit sy grasmandjie uit.

Soos ‘n toneelspeler wat wag op ‘n streng regisseur,

sak hy terug op die smak van die sussssende fluitspeler.

 

Gelukkig word geen toneelspel behoef nie. Die vrouedokter begryp jou dilemma en kyk na die paspoort en sê: Jy was in Indië en jy het dus ‘n geelkaart gehad. Hier is ‘n nuwe een vir jou.” Sy tjap die kaart en die lang reis terug huis toe word begin. 


Goedskiks ‘n dekade later maak jy ‘n bestekopname van inentings. ‘n Pandemie se grootste impak is onsekerheid en konflikterende boodskappe. Menings wat paradeer as wetenskap.

 

Onrus wat gesaai word.

 

Jy onthou die skoolsuster, die medikasie teen bysteek, die geelkoorsinspuiting en registreer vir jou inenting via die internet.

 

‘n Sms flits ‘n paar dae later vir afspraak in ‘n stadsaal. Bring jou mediese kaart saam en hier is jou verwysingsnommer.

 

Jy staan weer in ‘n ry. Genadiglik hierdie keer met klere aan.

 

© Joan Hambidge

 

 

Die gedigte is uit: Vuurwiel. Human & Rousseau, 2009.