Zandra Bezuidenhout – Derde gety. H&R, 2001. ISBN 798 0 7981 8170 9
Resensent: Joan Hambidge
‘n Soeke na die staning in die self
Zandra Bezuidenhout het haarself al onderskei as 'n uitnemende vertaler van Alfred Schaffer en Anna Enquist se poësie. Haar jongste bundel heet Derde gety.
Bezuidenhout is verteenwoordig in Karen de Wet se Vers & vrou (2020) waarin 258 vrouedigters saam-groepeer word róndom al die aspekte van vrouwees. Ons vind hier haar gedig "Falliese vrou" wat inspeel op Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman wat in 1992 verskyn het. Hierdie Jungiaanse cantadora (oftwel storieverteller) analiseer die krag van die vrygeworde vrou.
In De Wet se antologie word die leser deur die verskillende aspekte van vrouwees geneem. Lankal nie meer is sy die "vroulike aanvulling" of die tweede seks nie. Vroue binne die Afrikaanse digkuns het agentskap. The empire writes back. Tegnies bedrewe (soos Elisabeth Eybers) of liries-besinnend (soos Antjie Krog). Trouens, dit sou 'n hele studie kon word om te kyk hoé vrouedigters oor die vaderfiguur skryf: wetend dat hy 'n mens met gebreke was en dikwels nie 'n man van staal nie (Marlise Joubert). Of liefdevol-teer (soos Olga Kirsch).
Vroue moes deur die manlike orde van goedkeuring beweeg en bloemlesings, saamgestel deur vroue, se klem word anders geplaas soos in Lina Spies se Sy sien webbe roer (1999) en die reeds genoemde een van Karen de Wet. Die skokkende of transgressiewe word eweneens verteenwoordig: die vrou as hoer, die one night stand, lesbiese seks, die woman-identified woman, die vrou as Amasone of huisvrou, die verliefde of versaakte vrou; menstruasie en swangerskap. Die zipless fuck en verslawings. Swangerskap en aborsie.
Van Julia Kristeva, Hélène Cixous (White ink, 2008) tot by Luce Iragaray en Elaine Showalter word die vroulike begeerte, fantasie en kreatiwiteit beskryf waarmee die leser hierdie tekste kan oopmaak. Elke gedig skep en vra vir haar eie teoretiese benadering of leesmodel.
In die jongste bundel van Bezuidenhout word daar 'n blik gegee op verskillende aspekte van vrouwees: die dogter teenoor die moeder; die kind wat probeer vredemaak met die vader (met die wete dat sy soos hy is); die vrou as moeder verbind aan bloedgenote verbeeld in "Donker raam" (71).
By Bezuidenhout is daar 'n meer konvensionele vrou aan die woord en hierom is dit tersaaklik dat sy aanklank vind by Eybers soos in die aangrypende "In memoriam Eybers" (91) waar sy hulde bring aan die "elegante hand" (letterlik en figuurlik) van ons eerste gekanoniseerde vrouedigter. Hier word verwys na "… die ligval deur haar raam" wat Eybers vir ons in ‘n portret plaas.
Stilte in hierdie gedig dui op die dood, maar dit is 'n belangrike kode in vrouepoësie, al word hulle 'n "ongehoorde soort" later. Die mooi voorblad van Andries Gouws heet Stoel in ateljee, Molyvos, Lesbos, Griekeland wat verdere stilte en verlatenheid impliseer.
Die eb/vloed van die lewe word in die derde gety ondersoek met 'n verwysing dalk na die derde golf van die feminisme waar vroueregte ook krities ondersoek word en denkfoute uitgewys word?
In hierdie bundel word daar besin oor die kwessie van herdoping van name binne die postkoloniale tydvak en in “Perspektief” word daar krities gekyk na die einde van die orde van bevoorregting. Genderissues word betrek en in “Dubbelvisie” gekyk na die “transgender Kaapse suster / is soos die oorstewind ‘n heer” (27) waarin Bezuidenhout tereg begryp dat die begrip transgender dui op die versamelterm van verskillende genderdwarshede; en nie net na geslagsverandering nie.
Daar is herinneringsverse, reisgedigte en ‘n beeldvers vir Marlene Dumas wat “Intiem” (45) heet. In hierdie gedig word ‘n hele feministiese diskoers rondom intimiteit (en skaamte) met ‘n ferm digterlike hand oopgemaak en ons lees ook verwysings raak na Antjie Krog.
Daar is ars poëtiese besinnings (soos in “Ongenooide gaste”, 82) waar ‘n spel met woorde-as-gaste verbeeld word:
Slegs genooides kry toegang
tot die knap woonruimte van ‘n gedig (82).
En in “Repliek op kritiek” (83) aktiveer sy Eybers se skerp siening van die dagbladkritikus en hoe modes en smake soos die seisoene wissel. Die ewige onsekerhede waarmee elke digter worstel oor die weegskaal wat implisiet of eksplisiet ter sprake is.
Die verskillende afdelings (Kontreie, Sinneryk, Vrou-beeldig, Dinkgoed, Die makers, Lament) gee ‘n aanduiding van die digter se besinning oor die lewe van ‘n woordmaker wat nostalgies terugkyk en die vreugde van digtersfeeste besing.
En daardie walvis het baie simboliese lae binne die letterkunde. Die seekalender het sy eie tyd en in hierdie bundel word daar baie keer na tyd gekyk. Letterlike tyd, herinneringstyd en die sterreskrif wat dui op verdwene tyd.
Met hierdie bundel vind ons ‘n belangrike aansluiting by die groot aantal “vroulike aanvullings” wat oor alle fasette van vrouwees skryf sonder skroom. Nie net oor die potte of panne nie, maar oor die einders en reise, verlos van die wasgoedbalie. Al is dit net tydelik. Die vrou is nie langer voorbeeldig nie, maar vrou-beeldig.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)