Wednesday, June 17, 2020

Reisrubriek | Windroos | 2020


Sondag, 14 Junie 2020

Martin Scorcese se Who’s knocking at my door? is sy filmdebuut. Oor hierdie film is daar geweldig baie geskryf soos dat Harvey Keitel dalk die dubbel is van Scorsese (Who’s That Knocking at My Door/ How the world met Martin Scorsese. Besoek 15 Junie 2020).

Wat vir hierdie kyker relevant is in 2020 is die genderpolitiek. Die vroue word naak gewys en Keitel word nie ge-full frontal nie. Dis eers met Bad lieutenant en Jane Campion se The piano wat ons alles sien. Eers in die negentigerjare dan.

Ongelykhede dus in genderkwessies.

En die hantering van die vrou se verkragting is ontstellend. Hy dink dis haar skuld dat saam met die man in die motor was en hierom het dit met haar gebeur.

‘n Sogenaamde low budget-film, maar steeds ‘n baken in die filmkuns.

*

Die winter byt. Elsa Joubert is oorlede aan Covid-19.

Elsa Joubert vir Media24:
Die eerste werk wat ek van Elsa Joubert meegemaak het, was Die Wahlerbrug in my eerstejaar aan die US in 1975. Hierna Ons wag op die kaptein (1963), Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) en Die reise van Isobelle (1995) wat ek as hoogtepunte beskou. Ook haar reisvertellings – as solo-vroulike reisiger deur Afrika o.a. – het my beïnvloed. En Spertyd– haar laaste teks – wat verslag lewer van oudword en eensaamheid is ‘n uitsonderlike teks: iewers tussen fiksie en waarheid. Ingeperk in ‘n aftree-oord. Nou gaan ons in hierdie dae weer na die ryk, geskakeerde oeuvre kyk. Bonga (1971) verdien ‘n herlees.  
Haar bydrae het ‘n impak gehad op die politiek (ek dink hier aan Poppie Nongena), maar sy het eweneens die rol van die bevryde vrou wat buite die patriargale orde dink en skryf, verteenwoordig.
*

Wegneem-etes begin nou byt. Ek bel ‘n restaurant, laat weet ek is 6 nm daar om die kos op te tel. Reël alles met die bestuurder. 

So by my kool – hulle neem net kontant. Dus: tot by die ATM, terug vier blokke – tuis by die huis moet die kos opgewarm word. Beslis sien hulle my nie weer nie.

Restaurante sal in ‘n ander sleutel moet begin dink. Dis kos is duur, die afleweringsfooi ook.

En kommunikeer duideliker.


Maandag, 15 Junie 2020

Dial M for Murder. Hitchcock op sy stukke. ‘n Man (Ray Milland) wil sy vrou vermoor en kry ‘n kennis (Anthony Dawson) uit sy studentedae in Cambridge met vele aliasse om dit namens hom te doen. Afpersing, want hy wis dat die man geld gesteel het. Hitch is hier. Ons sien hom aan tafel sit by die reünie ongeveer 13 minute wanneer die film begin het. Die vrou (Grace Kelly) se minnaar, die Amerikaanse misdaadskrywer ene Mark Halliday (Robert Cummings) waarsku egter: in die lewe is daar nie ‘n perfekte moord nie. Iets loop altyd skeef.

Die man wat wil wraak neem op die ontroue vrou en haar geld wil bekom, word getroef deur ‘n slim speurder (Chief Inspector Hubbard vertolk deur John Williams).

Wanneer die beeldskone Gracy Kelly uitgaan met haar minnaar, dra sy rooi. Tuis is sy in wit.

En alles wentel om ‘n sleutel. En los note wat vir die afpersing weggebêre is.

*

Dis ‘n pakkende film wat ek twee aande na mekaar kyk.

Die man en vrou eet ontbyt. Dan sien jy in die koerant dat haar geliefde per skip aankom uit die VSA. Dan fokus die kamera op die deur – ‘n belangrike kode want die dief het haar sleutel, wat haar man daar geplant het – gebruik om die deur oop te maak.

Die man haal die sleutel uit die betreder se sak, neem sy sleutel. Alles op die moordtoneel.

En die speurder ruil sy jas met die man s’n om. En so kan hy dan die man fnuik wanneer hy probeer om die deur oop te maak met die verkeerde sleutel.

Uiteindelik word die vrou se lewe gered, want weens die afpersing van die betreder (wat haar man gehuur het), het die jurie haar skuldig bevind aan moord.

Aliasse, voorstellings, bedrog, afpersing, dryf die verhaal vorentoe. As die vrou nie ‘n minnaar had nie, was sy dalk onskuldig bevind?

En as dit nie vir die slim speurder was nie wat meer weet as die misdaadskrywer, was die minnares dood. En as hy nie ook geweet het van die klomp kontant in die man se hande waarmee hy die moordenaar wou betaal nie, kon hy nie die man vaspen nie.

Lacan/Derrida se polemiek oor E.A. Poe se The purloined letter is ter sake. Die verwisseling van geld/briewe is in Dial M for murder tersaaklik.


Dinsdag, 16 Junie 2020

North by Northwest is in 1959 deur Hitch gemaak. En hy is aanwesig aan die begin van die film by die bus waar die deur gesluit is en hom dus uitsluit.

Hierdie film het my in Meditasie geïnspireer om ‘n gedig te skryf:

North by Northwest

Eva Marie Saint, in ‘n dokumentêr,
(of is dit nou Eve Kendall?)
vertel alles oor Hitchcock
se North by Northwest. Ou potjierol
se film oor paranoia en vals identiteite.
Ouer as die skone Eve, lap sy geheime uit:
Cary Grant was nie haar minnaar, en nee,
by Mount Rushmore sou sy nie kon afval
(daar was stutte en stellasies), en Cary
moes in ‘n ateljee koes en swenk voor 
‘n vliegtuig se giftige sproei.
Eat your heart out, Sigmund Freud, Sigmund Freud.
Mount Rushmore was ‘n Hollywood-replika:
‘n afdruk van George Washington op ‘n eendollar-noot.
Hy was immers die eerste president, nes Alfred H.,
die koning is van vrese só irrasioneel (jy kan die stof
ruik op Thornhill se pak koesend, duikend).
‘n Trein deur ‘n tonnel? Bid jou dit aan!
Dit staan reeds in Shakespeare, 
Hierdie North by Northwest.
By Paramount bly die crop-dusting-toneel ónnabootsbaar
nes ‘n eenmalige aanraking of one-night-stand.
Eendag mag jy dalk ook voor die kameras staan
en die ongerymdhede uitlek en bely hoe ál my gedigte
(veral oor ons stiekem verhouding) blote maakwerk was.

*

Nou fokus hierdie kyker net op die pakkende rolprent oor ‘n man, Roger Thornhill, aangesien word vir ene Kaplan (Cary Grant). Hy word ontvoer en dan verander sy lewe in ‘n nagmerrie.

Hoewel die nasionale intelligensie die fout agterkom, wil hulle hom nie red nie. Hy moet self opsnork, omdat hulle Vandamm (James Mason) wil uitrook.

Eva Marie Saint is die vrou (en dubbel-agent). ‘n Film wat suspension of disbelief tot groot hoogtes voer, maar die kyker aanvaar dit. Met Mount Rushmore waar Roger vir Eve Kendall red. Soveel kinkels in die kabel wat net deur Hitchcock beheer kan word.

Met ‘n herbesoek, is dit opvallend hoe die treintoneel al gekaap is deur ander filmmakers. Hier word die man weggesteek. By James Bond in From Russia with love (1963) word die vrou in bo-kajuit weggesteek.

*

In Die Burger is daar ‘n tersaaklike polemiek oor blokraaisels en sogenaamde “Engelse woorde” wat sekere lesers irriteer.

G. (Ollie) Olwagen het gelyk in Die Burger van 6 deser dat alles wat Engels klink, nie uit Engeland kom nie. Wyle Johan Combrink, ‘n voorste taalkundige, het ons geleer dat jy alleen oor anglisismes ‘n uitspraak durf maak, indien jy Nederlands tot in die sewentiende-eeu sou ken.

In hierdie dae van inperking, stof ek weer my Franse en Italiaanse grammatika af. Wat lesers eweneens as Engels sien, kom uit Frans, en uiteraard uit Latyn.

En hy het gelyk dat hierdie sinonieme ons taal verryk.

Oor blokraaisels het hy eweneens gelyk (DB, 15 deser). Vir die een te maklik; vir die ander weer te moeilik. Wanneer ‘n mens woordeboeke lees, kom jy dikwels agter hoeveel woorde daar in jou eie taal opgeteken is, wat jy nie ken nie. En waarom nie neologismes help skep nie? Wat van hoogtartend vir iemand wat hooghartig en uittartend is?

En ‘n leser se probleem met die woord virtueel vir vergaderings, steur my nie. Omdat hierdie vergaderings nie die regte ding is nie. Soveel van die gesprek gaan verlore. Met ‘n onderhoud kan jy die mens nie werklik takseer nie. Klein sub-tekste gaan dus verlore soos die knip van ‘n oog (senuweeagtig) of ‘n hand op die been.

© Joan Hambidge