Maandag, 8 Junie 2020
Grendeltyd is nog nie verby nie. ‘n Lys van restaurante wat gesluit het in Kaapstad en omstreke, land op my selfoon. ‘n Skokkende lang lys.
Boonop is daar fopnuus (blyk dit): daar gaan weer ‘n inperking op drankverkope wees. Ek bel my superette en tel wyn op. Die bestuurder belowe hy sal ‘n J&B vir my kry die volgende dag, omdat die drankwinkeltjie langsaan ‘n lang tou mense (met maskers) moet bedien voor 5nm. Dit lyk soos by Loftus Versfeld soos almal toustaan vir ‘n drinkding.
Die refrein: Ons gaan nie meer droëbek sit nie. En hoe weet ons dit is fopnuus in ‘n land waar regulasies verander word sonder waarskuwing?
Verder bruis die internet pro-en contra-argumente oor Nicoli Nattrass se omstrede “commentary” in ‘n wetenskapsjoernaal. UCT word gekritiseer vir hul sanksie; sy word aangevat oor haar metodologiese mankemente in dié stuk. Dit word soos ‘n sokkerwedstryd met die skare wat opgesweep meedoen. ‘n Hewige reaksie inderdaad wat na alle kante geel kaarte uitdeel.
Rassisme versus onsensitiewe navorsing. Ons versus julle. My kommentaar hou ek terug totdat die stof gaan lê.
En een van die bekendste tabakwinkel in Kaapstad sluit: Sturk’s. Breytenbach het hier sy twak gekoop soos vele ander bekendes. Ons ken die beroemde foto van Breyten met sy pyp en ‘n slapende Yolande teen sy skouer in ‘n trein.
In hierdie dae rook ek heerlik aan pyptabak gerol in papier. Waarskynlik is sigarette vir my iets van die verlede.
Daar word vertel dat Etienne Leroux verskillende pakkies sigarette gekoop het en dan dit in ‘n nuwe pakkie gemeng het. In ’n kroeg was hy dan altyd verras deur watter een hy kry om te rook!
*
In die grendeltyd my versameling Fellini’s weer bekyk – behalwe vir La strada wat ek gisteraand ontdek het in ‘n ronde skyfversameling.
Die inperking met al sy frustrasies het ons almal die tyd gegun om weer bekende en beminde boeke en films te besoek. Soos ‘n ou vriend wat jy na jare toevallig raakloop en in ‘n restaurant gesels oor toeka se dae.
Vreugdevol is die ontdekking van Ingmar Bergman se Autumn Sonate met Ingrid Bergman (die moeder) en Liv Ullman die dogter.
Herbstsonate is gemaak in Noorweë in 1978. Bergman het in daardie tyd probleme gehad met die taksman en moes Swede verlaat. Hierom is die film geskiet buite Oslo. Dit was dan ook Ingrid Bergman se swanesang as aktrise.
Die filmkritici was verminderend oor die film. Een het dit kamermusiek genoem.
Dit is egter ‘n uiters gevoelige film oor ‘n oordonderende, suksesvolle pianiste se besoek aan haar dogter. Wanneer die dogter vir haar klavierspeel, sien jy in die moeder se oë haar afkeur oor die lomp vertolking.
Die moeder word letterlik gekonfronteer met haar verlede; ‘n dogter wat in haar skadu leef, ‘n skoonseun (predikant) wat alles met “begrip” gadeslaan, ‘n gestremde dogter wat weggestoot is en die dogter (Ullmann) se verwyte oor haar moeder se hantering van hul vader. Sukses en hoe jy moet keuses maak tussen jou beroep en familielewe, word so briljant geanaliseer in hierdie uiters subtiele film. Die spanning tussen Eva en Charlotte 3 wat mekaar na sewe jaar weer sien – is ‘n applous werd. Ons word eweneens gekonfronteer met Eva se verwerking van die dood van haar vierjarige kind en haar liefde vir haar gestremde suster, Helena, wat sy kan verstaan.
Die film is vol simbole: die moeder gee aan die dogter ‘n horlosie persent wat sy van ‘n bewonderaar gekry het. En die film lewer voortdurend kommentaar op die spanning tussen hede en verlede. Wanneer Eva Chopin se Prelude No. 2 in A mineur vertolk, is die kyker bewus van haar beperkinge. Wanneer die moeder dit vertolk – met haar slank, gevoelige vingers – hoor ons dit is beter. Maar dis wreed in haar hantering van haar dogter.
Die moeder se nagmerrie en vrees dat die dogter haar versmoor, is in die werklikheid simbolies waar. Sy was nooit werklik ‘n moeder vir haar kinders nie. En Helena wat haar roep as “Mama, kom!” is hartverskeurend.
Sal hierdie moeder en dogter ooit weer kan versoen? Sal die moeder die dogter se brief van boetedoening reg vertolk?
*
Liv Ullmann was ‘n minnares van Bergman tussen 1965 en 1970. Sy word beskou as sy muse en hier is sy in ‘n film as ‘n eks-geliefde wat die ingeligte filmkyker nog ‘n verdere dimensie na vore bring.
Haar vertolking van Nora in Ibsen se A doll’s house is ‘n hoogtepunt. Ook bekend as regisseur, filmmaker, juris by filmfeeste en uitstaande in Persona (1966) en Scenes from a marriage (1973). Cate Blanchett het haar as regisseur beleef in A streetcar named desire (2009) in Sydney. Wat ‘n voorreg.
In Persona is sy op haar beste. Die stilgemaakte vrou in die inrigting. Speel toneel met oë en gesigsuitdrukkings. Ons weet hoe gaande Žižek oor hierdie film was weens die suggestie wat alles dra. Ons hoor net van die seksuele avonture; as dit gewys was, sou ons dit as pornografies ervaar het.
Dinsdag, 9 Junie 2020
My buurman is gaande oor La dolce vita wat ek vir hom geleen het. Hy sien dadelik die die verskillende temas wat losweg saamgesnoer word en die verhaal vorentoe dryf: die religie, naglewe, partytjies, vroue ...
*
Autumn Sonate bekyk ek weer. Die konfrontasie tussen moeder en dogter is pynlik. Vol verwyte. Liv Ullmann as die dogter takel die moeder omdat sy haar verwerp het oor haar voorkoms en haar hare as kind afgesny het. En wanneer sy na die moeder gegaan het – wat besig was met ‘n repetisie – het die moeder haar weggejaag.
Sy het gevoel dat die moeder haar bloot as ‘n pop sien waarmee sy kon speel wanneer sy tyd gehad het. ‘n Uitsonderlike toneel oorabandonment of verlating wanneer die moeder haar en die vader agterlaat vir haar klavierloopbaan.
In die konfrontasietoneel is die dogter se jaloesie opvallend. En sy takel die moeder oor haar oomblikke waar sy onsuksesvol was as pianiste.
Die analise van verwerping en vermindering word uitstekend gedoen. Die dogter verwyt die moeder oor hoe sy haar aangetrek het. Sy het haar hare gesny en drade in haar mond gesit sodat sy grotesk gelyk het. Sy was vir die moeder ‘n mislukking, boonop aaklig en sonder talent.
“We negotiated the loneliness,” slinger sy die moeder toe. Die haat het in haar lewe oorgeslaan na angs.
“Is my pain your secret triumph?”, wonder sy.
Die spel tussen Ingrid Bergman en Liv Ullmann is puik. Die kamera fokus op hul gesigte met die moeder s’n vertrek van ontsteltenis. Haar oë bloedrooi gehuil.
En dan kom die voorhamerhou: die moeder het haar gedwing om ‘n aborsie te hê met Stefan, die jeugliefde en Helena se siekte het vererger, omdat die moeder nie aandag gegee het toe sy moes nie.
“Having a sense of reality is a talent,” hoor ons.
In hierdie verwyttog onthou Eva die verskillende horlosies wat altyd getik het in die huis. En dit word verbind met die horlosie wat haar moeder vir haar as geskenk gegee.
Alles gaan hier om tyd. Dat onthou en herinneringe tydloos is.
*
Die verhaal word geraam deur die man wat alles vertel. Hy is die waarnemer. Sy vrou weet nie wie sy is nie. Hy begryp haar psige en verwonding oor haar moeder en die dood van ‘n kind en dat sy ‘n moeder word vir haar gestremde kind.
Hy plaas die brief wat Eva aan haar moeder skryf in ‘n koevert. Gaan sy dit lees? Gaan sy dit begryp?
Die kyker weet dat dit niks sal verander nie. Op die trein weg van die huis waar die konfrontasie plaasgevind het, verontskuldig sy haarself. Oor die lot van haar gestremde dogter en wens dat sy eerder moes sterf.
Dan – tipies Bergman – het ons skielik deernis met haar. Sy bely dat sy altyd huis toe verlang en wanneer sy daar is, wil sy elders wees.
*
Ingrid Bergman se “bullet proof”– angles is bekend. Sy kon vanuit enige hoek verfilm word. In hierdie film word haar natuurlike skoonheid opsetlik afgebreek. Sy rook, haar oë is bloedrooi en die kamera fokus op haar groot neus.
Vir die regisseur, Ingmar Bergman, is haar spel belangriker as haar persona, boonop ‘n komplekse een. In 1949 raak sy swanger met ‘n kind by Roberto Rossellini, die filmmaker en skei van haar man.
Veral in die VSA is sy gekritiseer oor hierdie buite-egtelike verhouding. Sy trou met Rosselini, het drie kinders by hom, maar helaas hou die huwelik nie. Isabella, haar dogter, word later ‘n befaamde aktrise o.a. in David Lynch-films. Sy was getroud met Martin Scorsese. Sy was ook die gesig van Lancôme in haar jeug.
Ingrid Bergman verower drie Oscars. En word veral onthou vir haar spel in Casablanca (Ingrid Bergman, winner of 3 Oscars, is dead -- The New York Times. Besoek 10 Junie 2020).
Woensdag, 10 Junie 2020
Die koue slaan toe. Vannag – 8 in Sutherland. Sidderland. Van Wyk Louw se ruimte.
Die reën slaan teen my balkonvenster om drie vm waar ek kyk na die onderhoud met Roman Polanski oor sy lewe. Dit heet Roman Polanksi: A film memoir (2011: Laurent Bouzerau). Sy lewe, sy films, die moord op Sharon Tate, die verkragting van ‘n minderjarige, die regter se uitspraak wat hom laat wegvlug het – ‘n verstommende film waarin hy met sy vriend, Andrew Braunsberg oor alles praat. Twee gesprekke: die huisarres in Switserland, September 2009. En dan oor sy lewe na die vrylating.
Hy het verskoninge gevra vir sy optrede (en geld betaal), maar telkens word dit weer opgediep en die vrou vertel sý bly die slagoffer. Samantha Geimer het Polanksi vergewe, maar die ander rolspelers hou hierdie saak lewend(ig).
‘n Mens sien sy jeug wat hy jare later opvang in The pianist. Soos die grusame dood van kinders by ‘n skool het werklik gebeur. Soos die honger en eet van gherkins.
Die impak van die oorlog en alleen vir die effek van die oorlog en die verwoesting van Warskou maak hierdie dokumentêr die moeite werd. En die pers se snedige hantering van hom met die moord op Sharon Tate. Geen simpatie (Roman Polanski on The Murder of His Wife Sharon Tate | The Dick Cavett Show - YouTube. Besoek 11 Junie 2020).
*
Knife in the water (1962), Repulsion (1965), Rosemary’s baby (1968), Macbeth (1971), Chinatown (1974), The tenant (1977), Tess (1979), Bittermoon (1992), The pianist (2002) is my allergunstelinge. Sterk films wat die menslike kondisie analiseer.
Bloedskande, moord, verraad, die bose (soos in Rosemary’s baby met die voormalige vrou van Woody Allen, Mia Farrow) en die wonderskone Tess met Nastassja Kinski, het die filmkuns verryk.
Sy jeug was een van ‘n voortvlugtige. Sy ma is dood in die konsentrasiekamp en sy pa trou weer. Hy word groot op die platteland waar daar weinig skool is en sy hele laerskoolloopbaan het hy weens die oorlog verloor. Hy leer homself lees met die Rolandslied. En sy pa, as ‘n volwasse man huil wanneer hy na die liedjie “O mein Papa” luister, want dit was die lied wat die Duitsers gespeel het aan die einde van die oorlog.
Oh, my pa-pa, to me he was so wonderful
Oh, my pa-pa, to me he was so good
No one could be, so gentle and so lovable
Oh, my pa-pa, he always understood.
Gone are the days when he could take me on his knee
And with a smile he'd change my tears to laughter
Oh, my pa-pa, so funny, so adorable
Always the clown so funny in his way
Oh, my pa-pa, to me he was so wonderful
Deep in my heart I miss him so today
(Eddie Fisher - Oh My Papa (O Mein Papa ), 1954)
Miskien was alles sy fata, meen Polanski.
Laat ons die mens skei van die films. Die mens agter die boek (film) met rus laat, soos Van Wyk Louw al gevra het.
Boonop het die meeste negatiewe mense nog nooit eens ‘n Polanski-film gesien nie.
*
At grand central station I sat down and wept
Vanoggend val ‘n reiskoepon Hanoi
VN 0090731 op die vloer en ‘n treinrit
tussen Saigon en hierdie stad stop
by geen stasie vir ander passasiers
of reisigers in Viëtnam ‘n ruimte
van oorlog en bunkers en vegvliegtuie.
Só ‘n besoek herinner vanoggend
aan jou stiltes vlymender as ‘n messteek
of spore doodgevee sodat geen spoorsnyer
by my treinstasie jou sal vind o liefde
van my opgemaakte opgedroomde armoris.
© Joan Hambidge