Dr Dlamini-Zuma het in ongeveer 500 bladsye (voorgelê in die hof) om te probeer verduidelik waarom sigarette verbied moes word. Dis glo die regering se plig om ons te beskerm. En omdat dit 'n nuwe siekte is, weet sy ook nie altyd wat waar of wat wolhaar is rondom Covid-19 nie.
En veral weerloses moet beskerm word. Mag so wees, maar sigarette, die weet alle rokers, het 'n kalmerende effek op mense.
Nogmaals: dit bly my demokratiese reg om te rook.
*
Vers & Vrou (red. Karen de Wet) verskyn binekort by Human & Rousseau. Ons word gevra om gedigte op WhatsApp op te neem vir 'n plasing op die internet. Die bekendstelling kan nie gebeur nie, maar die gedigte sal wel vir lesers / luisteraars beskikbaar wees. Dit is altyd goed om 'n digter sélf gedigte te hoor voorlees.
'n Stil avontuur om die verse op te neem. Die korter gedigte werk beter op WhatsApp as die langer verse.
Donderdag, 18 Junie 2020
N.P. van Wyk Louw is gebore in die koue Sidderland op 1 Junie 1906, en oorlede op 18 Junie 1970. Talle herdenkings asook die Louw-gedenklesing deur Jeremy Veary aan UJ is aanlyn beskikbaar op Litnet.
Op Versindaba verskyn daar etlike gedigte vir die digter. Verskillende perspektiewe kom na vore – met 'n uitstekende gedig van Jan Swanepoel.
In Tydskrif vir Geesteswetenskappe van 2 Junie 2020 word gedigte van my opgeneem.
Ignatius bid vir sy orde
– ’n palinode
Dat pyn bestaan, wás nodig, Wyk,
om my te puur van spotspraak:
om so mý deurdink en inpraat
die vloei van invloed te ontwyk.
Wit wolwe van ’n rooflied,
laat ons in die looggat inkyk:
dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,
om woorde op te vang in mý lied.
Om my te puur van grootpraat,
of in jou woorde gewoon net na te praat.
Dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,
vir dieper priem én fyner kyk.
Dat pyn bestaan, dat pyn bestaan ..
Palinodes, pastiches, parodieë verskyn daar in hierdie dae oor hierdie gerekende digter wat soveel erkenning bly afdwing.
Die verskillende reaksies bewys sy belangrikheid soos die akademiese artikels sy relevansie bevestig.
Vrydag, 19 Junie 20202
Ongeveer 80 dae in grendeltyd in klim ek in my motor en ry Stellenbosch toe om koffie te drink met 'n kollega.
Iemand wat ek bykans elke drie weke gesien het, sit nou voor my. Ons gesels oor die afgelope tyd en ons ellendes. Van ingeperk wees. Ons gesels ook oor professor Nattrass en die openbare debat rondom haar gewraakte kommentaar. Hoe nou verder?
Hoe gaan nuanses nie tans verlore nie. Leon Schuster se films word nou diep geberg, omdat dit aanstoot mag gee. Showmax se intromingsdiens dink dis dalk ras-onsensitief. You must be joking! (1986) is een van die gemerktes.
Wat?
Ek onthou meer as tien jaar gelede 'n busrit tussen Kimberley en Pretoria met 'n Schuster-film op die Greyhound en jong swart weermagoffisiere wat brul van die lag.
Humor is immers oordrewe en dit werk met stereotipes wat ons almal herken.
Lag is die groot gelykmaker.
Lag verlos ons van spanning.
En hierdie denkepolisie onderskat mense se sintuig vir ironie en humor.
Die rit na Stellenbosch Vrydagmiddag is 'n verlossing. Skielik kyk jy anders na die natuur: die lug vol helder wolke, die kalfies en babavarkies op 'n plaas tussen Kaapstad en Stellenbosch verlos my uit die grendeltyd.
Wanneer is hierdie outjies gebore?
Daar is lewe na grendeltyd.
Saterdag, 20 Junie 2020
'n E-pos brom in 'n inboksie rondom die Johannesburg Review of Books se kritiek teenoor die Media24 Boeke Literêre Pryse en die feit dat al die wenners wit mense is.
My reaksie per e-pos aan Rapport:
'n Ingewikkelde kwessie.
Maar in alle regverdigheid: NB uitgewers het die afgelope paar jaar geweldig baie gedoen om swart skrywers te bemagtig. Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, Lynthia Julius (wat sopas met Uit die kroes gedebuteer het) word deur NB-uitgewers gepubliseer.
Trantraal skryf selfs ‘n rubriek in Kaaps in Rapport.
Trouens, hierdie skrywers kry ongelooflik baie geleenthede om buitelandse geleenthede en feeste by te woon.
Antjie Krog doen baie agter die skerms om swart skrywers te bemagtig. So ook Kwela uitgewers. Annari van der Merwe het jare gelede baie gedoen om swart skrywers publikasiegeleenthede en ‘n stem te gee.
Hoe kan ‘n mens eis dat boekpryse demografies verteenwoordigend moet wees?
Dit stel ‘n eis asof die skryfproses beheer en voorspel kan word.
Ras- of gendereise wanneer dit by kreatiewe prosesse kom, is politieke eise.
Moet ons Philip Roth van ‘n kortlys afhaal omdat hy vroue uitbeeld wat vir ‘n vroulike kritikus aanstootlik is? Of nie meer Updike lees nie?
Groot boeke is dikwels politiek inkorrek – want onthou: jy kan die stem IN die teks nie gelykstel aan die werklike skrywer nie.
Nou ja: die wenners en beoordelaars is wit. Kan van hierdie swart kritici Afrikaans lees en reg laat geskied aan die proses?
*
Wayne C. Booth se beroemde teks The rhetoric of fiction (1961) moet weer deur hierdie kritici gelees word.
'n Teks (film of boek) gebruik retoriese strategieë om 'n storie te vertel. Hier is die sogenaamde implied author relevant: die sogenaamde tweede self van die werklike skrywer wat in die teks 'n bepaalde boodskap oordra. En daardie boodskap, mag verskil van dit wat die werklike mens dink of predik.
Hierom is die sensurering van films en boeke tans uiters problematies. Dit beteken nie die skrywer dink dis "reg" nie. Daar is ingeboude strategieë wat kommentaar lewer op mense se oordele en vooroordele.
© Joan Hambidge