Tuesday, May 19, 2020

Reisrubriek | Ontologie van Onkunde & Onsekerheid | 2020


Vrydag, 15 Mei 2020 | Spitstyd

Rook my eerste Lucky Strike. Nie te sleg nie.

Max du Preez gee in die Vrye Weekblad (15 deser) 'n priemende analise van ons President se optrede op nasionale TV op 13 Mei. Die titel van sy artikel:
Suid-Afrika soek ’n president, nie ’n voorsitter van ’n kollektief nie. Cyril Ramaphosa is die naaste wat ons kom aan 'n Moses om ons uit die coronawoestyn te lei, maar hy het nie 'n Aäron om hom te help nie, net 'n kabinet van stommerikke. 
En Max du Preez vra tereg:
Hoe lank dink Cyril Ramaphosa gaan hy daarmee wegkom om as die redelike, empatiese staatsman te paradeer terwyl sy kabinet, sy medeleiers van die ANC, die burokrasie en gewapende magte die teenoorgestelde uitleef?'n Mens sou hierby kon byvoeg dat alle pogings om besluite van die ANC as 'n “kollektief” te verdedig, lagwekkend is. Meer nog, om te meen – soos 'n voormalige ANC-imbongi skryf – dat ons uit ons middelklas-”bubbles” kritiek lewer sonder om kennis te neem van die enorme sosiologiese probleme waarmee die ANC te kampe het, ignoreer die beginsels van demokrasie. Dit behels: Vryheid van spraak, vryheid van beweging. En my regte as indiwidu, vir die rekord, ís aangetas in hierdie tyd.Voorskrifte oor wat ons mag koop en doen, herinner aan 'n Oosblok-land. Gaan lees gerus maar Milan Kundera weer in hierdie tyd.Die ontologie van Onkunde en Onsekerheid is reg bo-op ons.
*

Seisoen 9 van Seinfeld is die laaste in die reeks. Die grappe word skerper. Die teikens van spot grensoorskrydend: soos spot met die lot van gestremdes wanneer George 'n pos kry van 'n maatskappy en spesiale regte geniet as gestremde.

Jode word opgestuur. Bloedoortappings (en wie se bloed jy toelaat in jou lyf). Woede versus sereniteit gee 'n dwarsklap na New Age-mumbo jumbo. En as jy wraak neem, boemerang dit altyd. Jerry-wyshede is volop: 'n opbreek is nooit eenvoudig of dadelik nie. Dis soos 'n Coke-masjien wat jy 'n hele paar keer moet stamp voordat jy die Coke kry!

Elaine word gejag deur 'n Joodse man. George meen as shiksa het sy shiks-appeal.

Selfparodie? Stellig in hierdie laaste seisoen waar daar getap word uit die skatkis van ou grappe.


Saterdag, 16 Mei 2020

In 'n dokumentêr oor waarom Seinfeld net nege seisoene beleef het, sien ons al die karakters (en die vervaardigers met die skrywers) in 'n hofsaal. Die karakters word aangekla en land ten slotte in 'n tronk. Wrang humor.

Die belangrikste opmerking kom van George vir die kyker: ons sal nooit weer na die vier hoofkarakters Jerry, Elaine, George en Kramer kan kyk sonder om die ander een raak te sien nie.

Inderdaad so. Ensemble-spel uit die boonste rakke.

Die grappe dreun voort. 'n Dermatoloog, volgens Kramer, had sy opleiding aan die Julliard-skool. Orgaanskenking, velprobleme, fobies oor kieme word opgestuur. En vroulike krag. 'n Vriendin van Jerry maak 'n bottel met geherkins oop in 'n gehurkende posisie.

Vrees vir die vagina dendata?

Vroue se vrees vir seksueel-oordraagbare siektes word uitgebeeld met toiletdoilies.

Woordspelings is daar volop: supplemental restraint, rage-aholics ...

Wraak backfire altyd. Hy wat 'n gat vir ander grawe land self daarin.

'n Storie oor 'n troue word behendig terugvertel in The Betrayal. Dit speel af in Indië en natuurlik word verskillende eks-verhoudings ontbloot. Elaine was in die bruidegom se bed en die bruid is moerig.

En nes jy dink alle taboes is gedekonstrueer, kom daar nog by: godsdiens word opgestuur wanneer Elaine probleme het met Puddy se vis op sy kar. Maar waar hierdie kyker gebulder het, is wanneer Kramer en Mickey, die dwerg, by die Mediese Skool (natuurlik om geld te maak) siektetoestande moet vertolk. Kramer se uitbeelding van 'n pasiënt met gonorrea is aanskoulik-snaaks. So goed is dit dat hy dit 'n tweede keer vir ander studente moet doen.

Elaine eet wederregtelik van Wallace Simpson se duur troukoek wat haar baas vir 'n astronomiese bedrag van $29 000 bekom het. Weer 'n spottery met hoe mense nuttelose objekte tot 'n objek van aanbidding verklaar. Sy vervang die koek met 'n gewone een en die “kunskenner” ontdek dis 'n vervalsing.

En ja: die baas steek weer eens vir Elaine die loef af. Hy het haar op 'n versteekte kamera vasgevang en boonop is sy vergelding: daardie duur troukoek gaan lank en pynlik verteer.

George wil graag in The Frog sy videospeletjie se hoë punte bewaar... Hy was immers in hierdie PacMan-agtige-speletjie die ongetroefde kampioen.

Ons sien in die slot hoe hy – omdat die helpers hom in die steek laat – met die swaar kas oor die pad stap en die strepe fnuik soos in hierdie speletjie.

En Kramer wat dans in die ouetehuis, is 'n wenner in hierdie reeks wat 'n mens terugneem na die Franse klug en die Teater van die Absurde.

Die spitsvondighede gedy. Telkens nes jy dink alles is nou normaal, is daar weer 'n kinkel in die kabel. Die verwysing na Jerry Lewis is eweneens relevant.

The King of Comedy (1982), Martin Scorcese se analise van swart humor kom so aan bod met die beroemde woorde van die uitgebrande komediant:
“Tomorrow you'll know I wasn't kidding and you'll all think I'm crazy. But I figure it this way: better to be king for a night, than a schmuck for a lifetime.”
Robert de Niro as Rupert Pupkin, die blitsbek-komediant wil graag op Langford (Jerry Lewis) se show wees. Die film ondersoek eweneens sielkundige broosheid en die grense van normaliteit.

Langford is suksesvol as komediant en Pupkin psigoties en dus onstabiel. 'n Kragtige film met twee uitstaande akteurs. Seinfeld se skrywers was bewus van hierdie komedie – veral as 'n mens die slottoneel in ag neem.

Seinfeld laat my verder dink aan daardie beroemde grap: Waarom mag studente by Potch nie staan en seks hê nie? Want hulle mag dalk beginne dans.

Wat mense dink, word hier uitgespreek en uitgeleef. Die ontoepaslikheid van die ongesêde. Hardop dink ...

'n Toe bek is 'n heel bek.

*

Perdu.

Op soek na verlore tye newwermaand tyd. Die Franse grammatika speel in die agtergrond ...


Sondag, 17 Mei 2020

Vir afwisseling kyk ek na David Attenborough se dokumentêr oor die Galápagos-eilande en ewolusie. 'n Uitmuntende reeks wat opnuut die mens se bestaan as 'n klein rolspeler uitwys in die groot patroon van alles (David Attenborough - Galapagos -BBC- Episode 1 of 3 - video dailymotion. Besoek 17 Mei 2020).

*

Daniel Hugo kritiseer die biografie oor Jeanne Goosen deur Petrovna Metelerkamp (Rapport 17 deser) en vra waarom resensente (Herman Lategan en die uwe) nie na Ons is nie almal so nie verwys het? Wel, 'n resensie kan nie alles onder die loep neem nie.

Ek het die volgende uitgewys in my bespreking Maandag, 11 Mei Media24:
Hierdie biografie oor 'n lewende persoon skep die voorspelbare probleme, omdat intieme vriende en geliefdes nog leef. Meer nog: die beroemde uitspraak dat die weduwee eers moet dood wees alvorens jy 'n biografie oor die bekende skrywer kan publiseer, is hier waar. Ten minste, sover my kennis strek, is daar drie ekse wat 'n eiesoortige blik het op die geskryfde.
En:
Dis 'n hoogs leesbare biografie. Edmund White se 1993 monumentale biografie van meer as 703 bladsye oor die Franse skrywer Jean Genet bly dié baken in hierdie sub-genre (Woorde Wat Weeg/ Reisrubriek | Skink vir die harlekyn nog wyn | 2020Besoek 17 Mei 2020).
Hugo het gelyk dat die boek nie 'n bibliografie het nie. My verwysing na White se kluif intimeer dat daar gebreke is in Metelerkamp se biografie wat nietemin vir wat dít wil wees, leesbaar is.

As resensent behoort Hugo te weet dat ruimte 'n beperking is.

*

Laatmiddag inkopietyd en 'n bietjie tuur na die see by Kampsbaai.

'n Klein bietjie window shopping om so na die see te kyk.

Die slot-disket van Seinfeld is weer onderhoude met almal. Nie lus hiervoor nie, omdat dit suspension of disbelief ophef. In my versameling van films kom ek af op 'n film wat ek nie ken nie: The Man Without a Past, 'n Finse film van ene Aki Kaurismäki. In Fins: Mies vailla menneisyyttä.

'n Man word aangerand, verloor sy geheue en land tussen weldoeners by 'n soort Salvation Army.

Hy raak betrokke by 'n vrou en 'n vreemde bankroof, die polisie glo hom nie dat hy nie sy naam kan onthou nie en 'n foto in die pers neem hom terug in sy verlede; hy is 'n geskeide man. Sy vrou is betrokke by 'n nuwe man. Hy keer terug na die dorp waar die vrou is en die Salvation Army-orkes Christelike liedere laat rock.

Hy was immers die een wat hulle hiermee gehelp het.

Kafkaesk? Dit word bemark as 'n komedie-drama. Vreemde humor weliswaar.

In 2002 het dit by Cannes opslae gemaak en dit is genomineer vir 'n Academy Award.
*
Sondag is besig om in Maandag oor te gaan. Sewe weke is ons al tuis en tuis (in plaas van uit en tuis). Die kinders kan nog nie teruggaan skool toe nie. Aanlyn-klasse by die universiteit vra hare op die tande.

Die eenselwigheid van die dae kry my onder. Ek moet iewers in my onbewuste 'n GPS hê wat 'n Sondagaand laat aanmeld of ek nou by die Bon Accord-dam of in Berlyn is.

© Joan Hambidge