Maandag, 18 Mei 2020 | Stopseltjie van my twak
Frustrasievlakke styg. Ek gesels vroegoggend met 'n ou vriendin en ons stem saam: al het jou hoeveel ondersteuning van vriende in hierdie tye, die prate raak op.
Al is 'n mens hoe lief vir vriende of kennisse of familie: die storieput raak droog.
*
Numéri met sy rites en rituele is fassinerend. En die diskriminasie. Indien 'n vrou skuldig is aan owerspel, bly sy altyd onrein.
En die man?
Die simbool vir ambulanse en paramedici staan opgteken in Die Bybel.
Numeri 21:9 en Johannes 3:14.: ’n Ster kom te voorskyn uit Jakob, en ’n septer kom uit Israel op.
Soveel van ons denke word hierdeur bepaal. Soos om 'n gat vir iemand anders te grawe.
Hierdie boek werk met enumerasie en getalle. Die retoriese strategie is dan ook om getalle te herhaal om 'n punt te maak. 'n Fassinerende boek wat begin by die berg Sinai waar die Israeliete die wette en verbond ontvang. Die opdrag is om die Beloofde Land in te neem en almal – ook die diere – word getel. Dit is 'n onaangename tog met die Israeliete wat kla oor al die ontberings. Hulle kom uiteindelik aan by Kanaän, maar negatiewe verslae laat hulle weier om die land in te neem. Hulle bly in die wildernis sodat 'n nuwe geslag God se verbond kan uitvoer.
Numeri is die hoogtepunt van die Israeliete se eksodus uit verdrukking in Egipteland na die beloofde land. Die Land van Kanaän was elf dae se reis van Egipte af, maar weens die twaalf spioene se slegte berigte rebelleer die Israeliete en weier om na die land te gaan. Die rebellie is teen God. Die reis het hulle 13 780 dae geneem.
Hulle het helaas nie ag geslaan op Josua en Kaleb se gunstige verslae nie.
Moses het hierdie dwarstrekkers gelei en toe God hom beveel om die Rots aan te spreek, het hy die Rots tweekeer geslaan. Hierdie ongehoorsaamheid was dan die rede hoekom hy nooit die Beloofde Land kon binnegaan nie.
Hierdie boek resoneer dan sterk met die gevoel van 'n tussen-toestand wat menige persoon tydens grendeltyd ervaar.
*
Come and see verwys na die apokalips van Johannes: ідзі і глядзі.
Requiem for a Massacre.
Hierdie Russiese-Belarus film van Elem Klimof is in 1985 uitgereik en sopas het ek dit vir die tweede keer meegemaak. Nie gekyk nie: beleef.
Dit is 'n anti-oorlog film en handel oor die Nazi's se besetting van Belarus met 'n jong seun, Flyora wat alles waarneem. Teen sy moeder se wil word hy deel van die Belarus-weerstandsbeweging.
Dat hierdie film beskou word as 'n klassieke film, is eenvoudig so. Dit maak 'n sterk politieke stelling, maar ook die kamerawerk en simboliek is uitstekend. Die slot o.a. waar die Nazi's paradeer in films, word teruggedraai. Hierdie bekende footage word dus nou vanuit 'n ander hoek bekyk. Om sy wrewel uit te leef, mik Flyora met sy geweer na 'n portret van Hitler in 'n poel water en dit word surrealisties, droomagtig weergegee. Hitler wat steier. Hitler wat stop. Hitler as kind. En dan: Hitler as jong kind op sy ma se skoot.
Flyora kan egter nie op die kind skiet nie, omdat dit die trauma van sy ervaring in die brandende skuur herroep. Die Nazi's het beveel dat alle kinders moes agterbly in die skuur.
Vroeg in die film strompel hy oor 'n voëlnessie. Ons sien die voëltjies in die vertrapte doppe - 'n prospeksie van die oorlog se vernietiging.
Wanneer hy terugkeer na sy moeder se huis (die bevelvoerder stuur hom terug, omdat hy sy stewels vir 'n ouer man moet gee), fokus die kamera op sy sussies se speelgoed. Hierna soek hy en Glasha na hulle en waad deur 'n moeras.
Wanneer die Nazi's 'n dorp verlaat, word 'n seniele ouma op haar bed in die middel van 'n straat gelos met 'n weersinwekkende boodskap dat sy baie kinders mag baar.
'n Nazi speel met 'n lemur wat op sy skouer lê; 'n ander Nazi sodomiseer 'n apie met sy vinger. 'n Man wat verkrag word, werk met blote suggestie. Hy hardloop weg van die soldate met sy broek op sy knieë.
Die waarnemer vind sy geweer terug; weggesteek in die hooi. Sterk simboliek. Sy oorlog sal nooit verby wees nie. 'n Verminkte voet is 'n verdere simbool vir hierdie wrede oorlog.
Luister hoe word Mozart se Lacrimosa gebruik en Wagner se Rit van die Walkures en die Overture tot Tannhäuser – die liggaamlose taal van musiek soos Elisabeth Eybers dit noem - sub-teks skep.
Die toneelspel is sidderend goed, veral wanneer 'n Duitser ontken dat hy 'n booswig is. Sy maat meen egter dat die Russe geen toekoms het nie; hierom is die kinders verbrand. 'n Duitse offisier neem 'n eettafel oor met volledige disrespek, terwyl die Russe probeer gasvry wees.
In die wraaktoneel waar die Russe die booswigte brand en skiet, sien ons Flyora se oë en hoe hy getransformeer het van jong seun tot 'n man. Wanneer sy vriendin Glasha – verkrag en vermink – bely dat sy net wou liefhê en kinders kry, is haar oë doods, terwyl hy met ontsteltenis na haar kyk. Woordeloos.
Hy is ten slotte nie meer 'n kind nie: grys en oud.
So eindig die rolprent: 628 Belorussian villages were destroyed, along with all their inhabitants.
*
Liefde in die tyd van korona
Vanselfsprekend 'n masker
vir beide liefhebbendes,
geen aanraking of soen nie; selfs
in verskillende tydsones, vreemde
vastelande nes 'n kinderlegkaart
verkeerdom of onderstebo afgedruk.
Jou plek én myne (terselfdertyd);
net 'n gedeelde skerm: min of meer.
Dinsdag, 19 Mei 2020
Die ennui, soos die Franse dit roep, beginne byt.
*
Lars von Trier se film oor 'n film met Jørgen Leth heet The five obstructions (2003). Hy gee sy mentor, Leth, die geleentheid om sy gunsteling-film A perfect man vyf keer oor te maak.
Dit is 'n dokumentêr wat baie verklap van die Deense filmmaker se werkswyse. Tydens grendeltyd (grendel on my mind) is die sosiale aspek van die film belangrik.
Hoe word 'n film gemaak? En hoe reageer twee kreatiewe mense op mekaar? Leth erken hy het 'n dop nodig; Von Trier vertel dat 'n mens beslis nie kaviaar met 'n metaallepel eet nie. Dit moet 'n houtspaan wees. Hulle welvaart word in opposisie geplaas met die akteurs wat hulle inspan. (Kommentaar op die filmmaker wat sy akteurs "gebruik"?)
Dus rykdom wat later in die film gedekonstrueer word met besoeke aan Indië waar 'n bedelende vrou met 'n kind geld kry deur 'n taxi-venster. Of die ryk hotel in Havana. (Die hotel herkenbaar vir hierdie reisiger.)
Hier is dan die vyf obstruksies:
1. Hy moet die film in Kuba maak met geen agtergrond en geen skoot mag langer as 12 raampies wees nie; hy moet ook die vrae beantwoord wat in die oorspronklike film gevra word;
2. Hy moet die film op die mees troostelose plek op aarde maak. Hy kies Moembaai se rooilig-distrik. Leth moet die rol van die man vertolk sonder die vrou (wat in die eerste een wel aanwesig is). Daar moet 'n maaltyd wees, wat hy alleen nuttig;
3. Die tweede opdrag is onsuksesvol en hierom mag hy die film oordoen op sy eie manier. Of: die obstruksie in Moembaai herhaal. Leth kies om die film in Brussel te maak met 'n split-screen. 'n Kopknik na Annie Hall;
4. Die vierde opsie (en vir my die interessantste) is dat hy die film moet maak as ''n cartoon. Hy gebruik Bob Sabiston, 'n kenner van rotoscoping. Die film is dus nie 'n propperse cartoon nie, maar 'n animasierolprent. Von Trier is wel tevrede met die produk;
5. Die vyfde een is dat Von Trier alreeds die film vervaardig het, maar Leth moet dis as sy eie film beskou met 'n voice-over vanuit sy eie perspektief. Die voice-over is ook deur Von Trier geskryf. 'n Kommentaar dus op kollaborasie in die kuns. Die regisseur se insette word vertolk deur die akteur/aktrise.
*
Die swaar, stadige films neem my terug na Seisoen 1 van Seinfeld vir 'n bietjie afwisseling.
Die grappe in die eerste een is flinker; die laaste paar reekse raak al hoe meer risqué met die ondersoek na taboe-onderwerpe.
In die eerste epsiode meen George die moeilikste vier woorde is:
We have to talk ...
of:
Whose bra is this?
Die analise van manlike vriendskappe is puik. Mans is net bevriend, omdat hulle mans is. Dis al, meen Jerry. Hy sukkel om van 'n lastige skoolmaat, Horneck, ontslae te raak wat hom met trane manipuleer.
Seinfeld so tussen al die grappe deur, maak 'n mens attent op sosiale kodes en mores. Dit hou 'n spieël voor jou. Soms herken jy jouself met ontsteltenis of met deernis. So was ek ook ...
Woensdag, 20 Mei 2020
Die gewone roetine van opstaan, skryf, winkel toegaan.
By die apteek is daar 'n jong bedelaar. Ek gee brood. Hy eis nog melk en ander kos. Ek kan helaas nie vir almal gee nie en dit word 'n onaangename uitskelsessie.
Die sekuriteitsbeampte doen niks nie. Dit neem buitensporige tegnieke om te begryp waar sy woede vandaan kom.
Dan ry ek Col'Cacchio toe en belowe dat ek moreaand pizzas sal bestel.
Die bestuurder is bly om my te sien.
Meer as 50 dae gelede het ons mekaar gesien. Die vensters is toegeplak met bruin papier. Buite staan daar motorfietsies en wag op bestellings om dit na die bestemmings te neem.
*
Johan Myburg word bekroon met die Hertzogprys vir poësie. So het ek oor Uittogboek besluit:
Dit is ’n ryke, komplekse bundel wat getuig van baie nadink en lees. Dit word egter nooit afgeleide kuns nie, omdat die digter sy eie outentieke ervaring daarvan weergee in ’n pragbundel van oor die honderd bladsye waarin vele tale en kulture beslag kry.
De Waal Venter wen die vertaalprys vir sy vertalings van Pablo Neruda.
In die bekende “Oda al libro (I) / Ode aan die Boek (I)” bely Neruda:
Ek sal nie geklee gaan
in volumes nie,
ek kom nie uit versamelde werke nie,
my gedigte
het nie gedigte geëet nie,
hulle verslind
opwindende gebeurtenisse,
hulle verorber
swaar weer,
grawe hulle voedsel
uit die aarde en mense. (66, 67).
Op albei drink ek 'n alkoholvrye dop! Cheers.
*
Laataand soek ek in my DVD-kas na 'n film wat ek nog nie gesien het nie.
Ek vind The Element of Crime (Forbrydelsens Element), Lars von Trier se film uit 1984 in Engels en Arabies. Film noir met dialoog wat 'n mens moeilik volg weens die voice over. Dit vorm deel van sy trilogie Epidemic (1987) en Europa (1991).
Speurder Fisher, ekspatriaat woonagtig in Kaïro, ondergaan hipnose om sy laaste saak te probeer onthou. Hy beleef Europa, donker en newelig. Dan onthou hy die moordenaar se naam: die Lotto Murderer. Hierdie reeksmoordenaar het jong meisies wat lotto-kaartjies verkoop het, verwurg. Hy gebruik die metodes uit die boek The Element of Crime geskryf deur sy afgedankte kollega, Osborne. In sy soektog word hy vergesel deur Kim, 'n prostituut, wat 'n kind gehad het en vermoor is deur hierdie reeksmoordenaar.
'n Vreemde soektog, omdat Fisher sy ondersoek baseer op Osborne se sogenaamde tailing verslag, wat handel oor 'n man wat moor op dieselfde manier as die Lotto Murderer. Die voorskrifte van die boek vereis dat jy moet dink soos die moordenaar. Uiteraard lyk Fisher dan na die verdagte.
Hotel Elite se naam is uiters ironies.
Die kyker is nie seker wat waar of wat fantasie is nie. Soos 'n sekwens van verkragting op 'n motor. Gebeur dit werklik of is dit gewoon 'n droom of hallusinasie van Fisher?
Daar is vreemde dialoog:
Fisher: Is it always as dark as this at this time of year?
Housekeeper: There are no seasons any more. The last three summers haven't been summers. The weather changes all the time. It never alters.
En objekte uit een toneel word gesien in 'n ander. Papier, ligte, skêre, speelgoed, Coca-Cola-blikkies, seëls en 'n hotelregister.
Dis nag. Donker dus en die film het 'n geel gloed. 'n Representasie van die droom? Verder is dit geskiet in sogenaamdesodium light afgewissel met rooi en blou.
Egte film noir.
Hierdie film is bekroon met die Bodil- en Robert-pryse. In 1984 genomineer vir die gesogte Palme D'Or.
'n Speurder wat na die moordenaar soek en homself vind, is 'n gewilde tema in boeke en veral in die filmkuns.
Angel Heart (1987) van Allan Parker aktiveer dieselfde kwessie. Harry Angel (Mickey Rourke), 'n New Yorkse speurder, soek na Johnny Favorite in New Orleans. Hier word hy blootgestel aan moorde. Hy ontmoet Louis Cyphre ('n homofoon vir Lucifer), vertolk deur Robert de Niro toe hy nog kon toneelspel in pakkende films en nie in derderangse home movies lanterfanter nie.
'n Karakter se naam is Epiphany.
En Harry Angel is geen engel nie, maar vertrek na die hel (per hysbak). Is Harry en Johnny een mens?
De Niro neem as duiwel besit van sowel Harry as Johnny se siele.
In my lewe het die uwe 'n paar keer films gesien waar die flirtasie met boosheid in die fliekhuis oor jou spoel. Ander voorbeelde: Rosemary's Baby, The Silence of the Lambs, The Exorcist ...
Maar dit bly steeds goeie films.
*
Die afgelope paar jaar was moeilik: #Rhodes must fall, #Fees must fall, Eskom, die Waterkrisis, die dood van my moeder ...
En nou die kroon van ellende, onsekerheid ...
Numeri leer ons tel. Al 55 dae?
*
Masjrabijas
In Tunisië
op 'n mes-
punt is daar
geboue met
maskers:
haremvensters.
In die buite-
plein van Tunis
staan hulle ver-
sluierd in turkoois
of ligblou gebaai:
uitsig vir die ongesienes.
Op my balkon
oop en bloot
waarnemer van
onklaar bouwerk
ligte brandend
in 'n gebou
asof iemand
die ligte aan
vergeet het.
© Joan Hambidge