Sunday, March 8, 2020

Resensie | Jeanne Goosen – Het jy geweet ek kan toor? (2020)

Jeanne Goosen – Het jy geweet ek kan toorHemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-38-6

Resensent: Joan Hambidge


Ek leef op die kantlyn
grotesk trots op my andersheid

Hierdie bundel moet saam met Goosen se Los gedagtes (aforismes) gelees word. 

Die bun­del beslaan 'n tydperk van meer as vyftig jaar en die broksgewyse, nie‑opeenvolgende gedigte is met sorg uit die verskillende bronne byeengebring, verduidelik die samesteller Petrovna Metelerkamp, wat tans besig is met 'n biografie oor Jeanne Goosen.

Goosen skryf met die hand. Sy hou dagboek en daar is vele notaboeke. Sy is 'n veelkantige figuur: sowel digter as romanskrywer; dramaturg en kabarettis. 

Die letterkunde is vol van werkboeke met onvoltooide werk, verskillende weergawes en nagelate verse. Daar is die Tristia-sketsboek en Helize van Vuuren het al gewys op die verskillende titelvariante en brugtekste in Literator 7, 1986. Daar is Opperman se bundel Sonklong oor Afrika (2000) deur J.C. Kannemeyer versorg. Johann de Lange het 'n keur gemaak uit Wilhelm Knobel se digkuns postuum: As die woorde begin droom (2011).

Hierdie soort teks is 'n argief. Dis 'n navorsingsbron vir die soort leser wat reeds gepubliseerde tekste wil vergelyk met wat in die lou-oond is. Watter motiewe word herhaal? Hoe word beelde gesirkuleer? In die woorde van Marietjie Coetzee, kundige oud-uitgewer: “My gevoel tot dusver is dat jy alles moet insluit omdat sommige versreëls of strofes ook as ‘konsepte’ van latere gedigte beskou kan word. Vir ’n navorser dus belangrik omdat dit iets van die skeppingsproses van die gedigte vergestalt. Daar resoneer selfs versreëls of langer gedeeltes van haar prosawerk in die versameling. Gedeeltes wat dalk nie op peil is nie, openbaar Jeanne as mens, as ‘rare voël’. ”

Die bundeltitel dui op die skryfproses, soos Goosen dit stel:

Ek met taalgebrek
moes swygend losgoed speel
met pyl en boog en rats
my eie wondbaarheid kwes
ek ken nie ek.
Maar uit die koel fontein van jou mond
het ek my dors geles
en my eerste woorde, skugter gesê:
Ek is moeg.  (16)

Goosen het van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans geskryf. Oor die verlange wat haar "dertig en droef" gemaak het.

Hoe moet ek sê hoe ek regtig voel?
Vanoggend het my geliefde
die haard verlaat.
Sy, met haar mooi oë en sagte lyf
het in die wêreld verdwyn. Sy is elders aan diens nou.
Hunkering is ’n wond.
Dit het – soos woede – ’n toekoms.
Hoe – hoe moet ek sê
hoe moet ek sê, hoe ek regtig voel?  (25)

Verskeie kere ondersoek sy die donker kant van haar psige. Hierdie gedig aktiveer die motto uit Om 'n mens na te boots(1975) wat die plesier van malheid ondersoek via Dryden: There is a pleasure sure in being mad which none but madmen know.

Depressie

Dis so afgryslik soos dit nice is ook
die vrees is om in vrees te leef
en ’n vrees vir die verlies daarvan
O, die ekstase van afgryse  (55)

Goosen is bewus van haar dubbel-aard:

Twee diere het ek:
die een is ’n afshow-gat
’n regte clown
dis ek orraait
Die ander optel-gryse
is skugter
Dis ook ek
immer aan ’t
koes koes koes
vir menslike aanraking  (84)

En sinisme oor die mensdom, vind 'n mens ook hier:

Dood is ’n geheime organisasie. Dis ’n party animal. (129)

Die diva Coertse word besing en Goosen het 'n enorme kennis van musiek:

Vir Mimi Coertse

21 Februarie 2008

Ek hoor jou stem. Ons praat 
en my niere verdriedubbel
Ek jubel uit twaalf harte 
Hoe lief het ek jou nie
My verdwene verstandtande
gloei in die oorsprong van hulle oerwortels
O my nar
my droewige lemoen
jy sing Stabat Mater
jy die pragtige jy
die onvernietigbare rooi ballon
teen die hemelruim.  (98)

Die bundel is ver van "af" of voltooid, maar die voorwoord waarsku jou dat jy fragmente gaan lees. En selfs in die lopers, is daar verstommende oomblikke wat jou weer terugneem na haar veelkantige oeuvre.

Die boek neem sy plek in neffens die lang galery van onvoltooide tekste. 'n Mens dink aan Truman Capote se Answered Prayers: The Unfinished Novel. Hieroor was die kritici uitermate bitsig, hoewel daar volgens hierdie leser nagelaat is om te kyk hoe dit resoneer met sy ander werk.

Hierdie boek het my weer laat nadink oor die argief as 'n bewaringsplek, stoorplek, maar ook om 'n portret te gee soos Janet Malcolm doen in The Freud Archives (Papermac, 1984).

In die digter se eie woorde:

“Wanneer ek die dag ’n gedig skryf, ís dit vir my ’n ‘noodgeval’. Ek moet dit dán doen, anders word ek siek en onregeerbaar en bakleierig. Skryf laat my beter voel. Vir my is dit iets soos om sekere gevoelswaarhede bokant die intellektuele analise te stel, maar sonder om die rede te verwerp. Surrealisme is ook vir my ’n lekker wegkruipplek.”

Gaan luister hoe Nicole Holm Jeanne se gedigte voorlees (26 Jeanne Goosen gedigte gelees deur Nicole Holm - YouTube).

Ons kan nie soos wees nie Jeanne nie. Jeanne is 'n kreatiewe wonderwerk. Dink net hoeveel keer het mense nie al geuiter "ons is nie almal so nie"!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)