Saturday, March 28, 2020

Reisrubriek | Agter slot en grendel (2020)


Op elke buitelandse reis word die dae afgemerk. Soveel dae weg, soveel dae oor. In 'n notaboekie word dit opgeskryf en dieselfde prosedure word nou gevolg vir die inwaartse reis.

Met die uitbreek van die koronavirus word ons agter s1lot en grendel geplaas van 26 Maart tot 16 April 2020.

Nie vir my iets om na uit te sien nie. Ek moet beweeg, ander mense sien, restaurante besoek, gym én swem. 'n Soort kontrole na 'n dag van skryf.

'n Paar dae voor die lock down dink ek Saterdag is al Sondag, omdat alles so stil is.

Voor Cyril Ramaphosa se aankondiging begin plekke sluit. Ek is net betyds Maandag 23 Maart om my laaste opname by FineMusicRadio te maak. Hierna geen programme met aanbieders. 'n Spookstasie as jy wil.

Die bestuurder sal wel musiek van sy huis uitsaai.

Orals is die spanning tasbaar. Taxi-bestuurders en kelners is bekommerd oor wat kan gebeur. Mense vrees dat hulle hul werk sal verloor. 

Ek besoek vir oulaas, om afskeid te neem van my vriende wat werk by Haiku, die Hussar Grill en Col'Cacchio, gewilde eetplekke.

Daar is geen ambiance nie. Die kos lekker, maar almal lyk beswaard. En boonop geen drank na ses nie.

Hoe oorleef 'n mens? Love in the time of cholera ...

Dagboek hou en neerskryf soos dit presies gebeur het en ervaar is, sal 'n uitlaatklep wees. Daar word inkopies gedoen en die Duitse slaghuis bo in Kloofstraat word besoek. Whisky word aangevul en die wynkelder staan sterk. Met alkoholvrye bier.

Woensdagnag is daar 'n boodskap dat die digter, Chris Brunette, aan 'n hartaanval gesterf het. Hy was 'n oud-student in kreatiewe skryfwerk, o.a. onder my leiding. 

Die nag is vol drome en herinneringe aan hom.


Donderdag 26 Maart

Die volgende projekte word aangestip:

Belangrike tekste sal herlees word soos Die Bybel van Openbaring tot by Genesis.

'n Herlees van Moby Dick en Groot verseboek.

Daar is vele boodskappe op die selfoon. Almal het vir oulaas inkopies gedoen en waarsku dat die winkelrakke leeg is.

Ons hou 'n braai onder. My bure en ek. Ons is luimig en geniet die aand en lekker kos van die Duitse slaghuis.

Drink wyn. Maak reg vir die inperking.

More is nog 'n dag.


Vrydag 27 Maart | Dag 1

Ek mediteer en lees Openbaring, Johannes ...

Verneem van die grimmigheid van God.

Op Netwerk24 word die eerste dood in Kaapstad aangekondig. 'n Vrou van die noordelike voorstede wat nooit gereis het nie.

'n Polisiewa ry deur die stil straat voor my studeerkamervenster verby.

Fopnuus op UCT se ITS-boodskap. Studente kan nie aanspraak maak op 50GB gratis data nie:
Hoax: ICTS offering free data
Dear UCT colleagues and students,
We are aware of a message doing the rounds that ICTS is offering 50GB of data to registered UCT students in order to assist with online learning. The recipient is then required to click the provided link to access this data.
ICTS has no such arrangement in place and ask that you please delete the message as it is a hoax. We also ask that you please do not share the fake message with your contacts.

Regards,

ICTS Communications
Customer Services Division
Information & Communications Technology Services (ICTS)
University of Cape Town
Ek werk in my studeerkamer en kyk na buite.

Daar sit 'n bedelaar op die hoek van die straat. Onder die rooi robotlig. Hy verdwyn so om en by tienuur.

Bure in die blok stry en baklei en ons moet hulle tot orde roep. Die spanning begin alreeds sy tol eis.

Ek voltooi die resensie van Jeanne Goosen se biografie deur Petrovna Metelerkamp 'n Lewe vol sinne.

Edmund White se 1993 monumentale biografie van meer as 703 bladsye oor die Franse skrywer Jean Genet bly dié baken in hierdie sub-genre. Daar is eweneens ooreenkomste tussen hierdie twee uitsonderlike skrywers wat telkens die grense van die gemeenskap uitdaag in hul werk en lewens.  Beide buite die grense van die bourgeoisie se siening van aanvaarbaarheid.

*

Crito kap (alweer) na my oor die resensie van Goosen se digbundel:

Crito meen dat ek nie 'n diepgaande analise van Goosen se digkuns maak nie.

Liefdesgedigte (van die mooistes), sinisme, buitestanderskap (soos gay-wees), die donker kant van die psige: vrolikheid en depressie, musiekverwysings, weerloosheid, surrealistiese beelde, die gedig as nooduitgang ... 

Al hierdie kwessies ís aangestip. Boonop word die leser verwys na Nicole Holm se voorlesings.

Crito het al dikwels bely dat hy/sy resenseer wanneer die boek nie gelees is nie; hierdie keer is dit duidelik dat hy/sy nie die resensie verstaan het nie.

En oor die argief: daar is 'n verwysing na Janet Malcolm.

Dit is - vir die rekord - 'n koerantresensie, nie 'n verhandeling nie.

*

Dit is noodsaaklik om 'n roetine te volg.

My buurman leen vir my die animasie-rolprent Spirited Away (千と千尋の神隠し) van 2001. Dit vertel die verhaal van Chihiro Ogino, 'n tien jaaroue dogtertjie wat na 'n nuwe woonbuurt trek. Die vader  (hulle ry 'n duur Audi) neem 'n kortpad (so bekend aan die feëverhaal waar die kortpad die onbekende impliseer) en die dogtertjie beweeg in die wêreld van die Kami (geeste). Aanvanklik dink die vader hulle is in 'n pretpark, so bekend aan Japan.

Haar ouers vergryp hulle aan kos en verander in varke. Hiervoor is die heks Yubaba verantwoordelik. 

Haku probeer haar red en oor die rivier neem.

Sy kry 'n werk in Yubaba se badhuis en probeer haarself en haar ouers te bevry.

Yubaba neem haar naam weg en haar nuwe naam is Sen. Nou ontdek die dogtertjie sy het haar regte naam vergeet en Haku waarsku haar as sy nie haar regte naam kan onthou nie, sal sy dié wêreld  nie kan verlaat nie. (Oor die hele kwessie van naamgewing en hoe jou naam jou identiteit bepaal, word in hierdie film ondersoek.)

In die varkhok kan sy helaas nie haar regte ouers herken nie.

In die badhuis word daar teen haar gediskrimineer omdat sy 'n mens en nie 'n gees is nie. Om haar te red, nooi sy No-Face binne. 'n Stink gees – die een wat veroorsaak dat riviere vuil is – besoek haar. Omdat Sen hom skoonmaak, kry sy 'n magiese koekie.

Papier shikigami val 'n draak aan en Sen besef dis Haku in 'n nuwe vorm.

Verskillende metamorfoses kom aan bod.

'n Wonderbaarlike film waarin die mag van fantasie en metamorfoses aangestip word. En met implisiete sosiale kommentaar.

(Word vervolg)

*

Ek stap deur my vesting en dink aan Suzanne Juhasz, Cristanne Miller en Martha Nell Smith se  Comic power in Emily Dickinson wat by die University of Texas Press  in  1993 verskyn het.

Daar bestaan ook lieflike cartoons van Dickinson wat "reis". 


Sun       Mon    Tues    Wed    Thurs    Fri     Sat

Visit pantry      Visit          Visit front porch Back home
                  foyer          (weather permitting) (to my room)

Die wêreld soos ons dit geken het, sal nooit weer bestaan nie. My psigoanalis dink dit is goed dat hele wêreld tot rus kom en wys op argetipiese patrone.

Nou eers oefen voordat ek weer skryf.

Om 8 nm is daar 'n luide hande geklap in my buurt. 'n Kerkklok beier.

Ek kyk 'n reeks wat my buurman vir my leen. 


Saterdag 28 Maart | Dag 2

'n Lug vol helder wolke. Die lug bó die stad was nog nooit so skoon as vandag nie.

Ek begin deur Judas en Johannes te lees. Oor hoe omgee vir ander ook goed is vir jou.

Die woord hét vlees geword ...

Besluit om kruideniersware aan te vul. Ek eet min in hierdie dae, maar rook meer as gewoonlik. Die strate is leeg.

Die lawaaimakers het kalmeer; die ander bure eet waatlemoen op die stoep en ons besluit weer op 'n braai.

Ek het dag een oorleef sonder besoeke aan buiteplekke.

Vanoggend vertel ek vir my bure van 'n reis na Nepal en Indië. Op die grens tussen die twee lande wag ons op ons toerbus wat nooit opdaag nie. Ons gids bly verseker die bus sal enige oomblik opdaag, maar ons weet hy lieg.

Vasgevang op die grenspos wag ons. Waarskynlik soos baie mense nou wat wil terugkeer na 'n huis iewers ver in Zimbabwe of Malawi.

Die bus daag nie op nie en uiteindelik moet ons vertrek op 'n bus vir die locals. Met hoenders en bokke en gillende kinders ...

En onder, so by my kool, is daar 'n gat in die bus se vloer. Die grond is reg onder my voete.

Uiteindelik kom ons veilig aan in Varanasi (How to Get to Nepal from India; Travel from India to Kathmandu).

En vir jare daarna het ek altyd vir my vriende en studente van hierdie skreeusnaakse reis vertel. Geruk uit my spreekwoordelike gemaksone, maar iets wat altyd oneindige plesier verskaf by die oorvertel. Ook die reis deur die Indiese woestyn en die ervaring van slaap in die woestyn.

Miskien wanneer hierdie 21 dae verby is, sal ons kan terugkyk na 'n uitsonderlike tyd, 'n binnewaartse reis, in die self ín.

Daardie man wat stap in Jodhpoer

Daardie man wat stap in Jodhpoer,
nuus wag hom in vanaand:
soos hy stadig stap deur die stofstrate
met bedelaars en handelaars
– as getuies dat hy hier gewandel
het op die laaste dag van die week –
sal hy moontlik‘n koerant koop,
dalk aan kasjoeneute peusel,
water afslaan teen die stad se blou muur,
verder wonder wat hy vir aandete gaan kry,
nuus kyk en môre gewoonweg aangaan,
sy lewe sonder voorval noemenswaardig
of inmenging van die noodlot. Tot op hierdie punt.
Tot hy verneem sy vrou, sy toeverlaat,
het vandag skielik aan ‘n hartaanval beswyk.
Môre sal hy anders deur die strate van Jodhpoer stap.
Vir oulaas ‘n blom koop vir die klein, eenvoudige begrafnis,
die stoet deur die strate volg. En wag op sý laaste nag
wanneer sy stoet hom inwag.
Om agter die oomblik in te sien,
dit op te vang of kundalini te vind,
so ja so, is die skryf van hierdie gedig.

(uit: Vuurwiel, 2009).

Uit ons gemaksone, vorentoe en agtertoe kyk.

En probeer nadink oor waarom die aarde nou tot rus moes kom. 

© Joan Hambidge