Ian McEwan – The cockroach. Jonathan Cape, 2019. ISBN 978 1 529 11 292 4
Resensent: Joan Hambidge
Literêre duimgooiery ('n term van T.T. Cloete) is hoe 'n mens die jongste novelle, The Cockroach van Ian McEwan, ten beste sou kon beskryf. Dit is 'n klein boekie van honderd bladsye wat in gesprek tree met Franz Kafka se Metamorfose en al die bekende satirici wat politieke en sosiale omgerymdhede aan die kaak gestel het. Boonop gooi hy duim ook langs die politieke woelinge in die Verenigde Koninkryk.
Hier te lande is Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein van 1976 'n briljante voorbeeld van satire: die skrywer plant 'n teoretikus se siening oor satire in die roman as 'n sleutel.
Satire werk immer met ironie, hiperbool én sarkasme. D.C. Muecke se bekende studie The Compass of Irony (Methuen,1969), en al die merkers van ironie, word ryklik deur McEwan se novelle geaktiveer. Ene Jim Sams word een oggend wakker en besef hy het verander in 'n groot kreatuur. Hierdie metamorfose verwys natuurlik na Kafka. McEwan plaas die gegewe binne die Britse domein: die mees gesiene man in Engeland word nie deur reëls aan bande gelê nie. Nie eens deur sy eie party nie ...
Brexit is kompleks en wat 'n mens waarneem op CNN is net die tippie van die ysberg. Hoe meer 'n mens lees as buitestaander, hoe minder begryp jy al die intriges. Wat ons onmiddellik by die eerste kwessie van hierdie novelle bring: dit is geskryf vir 'n in-leser wat al die nudge-nudge, wink-wink-verwysings sal snap. Die buite-leser geniet wel die besondere styl en aanslag.
Die ooreenkomste tussen lewendes en dooies (so lees ons in die opdrag) is toevallig. Jy kan egter nie die rolspelers met vreemde haarstyle en 'n vreemde gebit miskyk nie. Of die "scorn of derision" (97) nie. Downingstraat is hier, die Division Bell, en ene President Tupper.
In Love Actually, Richard Curtis se briljante film van 2003, vertolk Hugh Grant die eerste minister. Sy ikoniese danstoneel op Jump for my Love laai alles met speelse satire. Hier is daar ‘n banket met ‘n Sinatra-nabootser wat “My Way” sing. Gloria Gaynor se “I Will Survive” laat ‘n tranerige gehoor opstaan.
Die sogenaamde "vices and follies" van die oortreders in enige vorm van satire word aan die kaak gestel met die hoop dat daar 'n beter bestel gevind sal word. Hiermee besef 'n mens dat 'n satirikus in wese iets van 'n romantikus of dromer is om te dink dat sý, of háár boek of traktaat, die magshebbers in hul spore gaan stuit. Waarskynlik waarom satirici so onsteld is wanneer hulle gesensureer word; hulle het immers 'n beter orde in gedagte. (Leroux; Anton Kannemeyer, et al.)
Waar McEwan homself oortref, is wanneer die kokkerot (blattodea) sy ellendes bely in ‘n toespraak. Die liefde vir die donker - wat net soos by mense - 'n lewenswyse is! En die "repulsive taste for clean water" (98) word uiteraard ironies bedoel. Daar word ook 'n dwarsklap gegee na aardverwarming, oorlog en bedrog in 'n hiperboliese beskrywing wat 'n mens laat skaterlag. (Die kodewoord hier: Reversalism.)
Kafka se boek speel in 1915 af wanneer Gregor Samsa verander in ‘n insek.
In ‘n “ungeheures Ungeziefer” het Nabokof soos volg oor hierdie boek geskryf: “The transparency of his style underlines the dark richness of his fantasy world. Contrast and uniformity, style and the depicted, portrayal and fable are seamlessly intertwined" in sy beroemde Lectures on Literature (Weidenfeld and Nicholson, 1980: 260).
Dit is eweneens van toepassing op McEwan se novelle.
Ungeziefer is ‘n “dung beetle”, maar volgens Nabokof, ‘n lepidopteris, het ons by Kafka eerder ‘n gogga met vlerke. Nabokof was ‘n uiters punteneurige leser wat elke straat of verwysing in ‘n teks nagespeur het soos ons weet uit sy lesings aan Cornell Universiteit.
En hierdie spitsvondige gekibbel wat ‘n mens in sy notas vind, bewys dan dat Kafka se gogga in Ian McEwan se novelle ingevlieg het.
Inderdaad ‘n Verwandlung of metamorfose. Want die politieke agtergrond het nie verander nie.
Op wie slaan Archie Tupper in Washington? En verwarring rondom taal lei tot misverstand. Soos die “scales will drop” wat die vertaler letterlik interpreteer.
‘n Mediastorm rondom Jane Fish is presies hoe dit werk. Sy word “pipe-smoking Jane” in spotprente, omdat sy eenkeer in Belfast ‘n pyp se rook in ‘n kind se gesig geblaas het om te wys hoe sleg sekondêre rook vir ‘n mens is (71).
Daar is ‘n spel rondom nabootsing en die “blattodean core”. Mense hier is blote afskynsels van mense. Nabokof sou waarskynlik ook die roete van kokkerot gevolg het. Die Samsa-woonstel het hy ‘n skets van gemaak (257).
As jy ‘n smoel vir satire het, is hierdie geel boekie vir jou.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)