Tuesday, August 13, 2019

Resensie | Debbie Loots – Die boek van gelukkige eindes (2019)

Debbie Loots – Die boek van gelukkige eindes. Queillerie, 2019. ISBN: 9780795802034

Resensent: Joan Hambidge

Die voorblad van hierdie roman aktiveer die bekende kruik wat 'n mens op voorgraadse Sielkunde-handboeke sien: dit is sowel twee profiele as 'n kruik waarna jy kyk.

Hierdie roman het die derde prys verower in die Groot Romanwedstryd in 2018. 

Loots se debuutroman Split (2015) is bekroon met die ATKV-prys.

Die jongste boek handel oor verhoudings en eindes. Chris se lewe word bedreig deur 'n vrou met wie hy ‘n ligte aanraking gehad het. Sy pers hom af en ons word voorgestel aan verskillende karakters en ons weet wat die sielkundige van hulle dink.

Twee ekse. Een straight en een gay laat die poppe dans. Kentridge se poppespel is ook hier (107) en vrae word gevra oor hoe 'n mens nog oor intieme sake op 'n nuwe manier kan skryf?  Die internet se impak op intimiteit en joernalistiek kom eweneens aan bod.

Die roman analiseer die impak van menslike verhoudings en die ironie dat kortstondige aanrakings of dwase keuses jou lewe vir altyd kan bepaal. Is daar ooit closure?  

Was Willemien net dom of was dit hoe mense opgetree het? Dubbele foute, dus.

Erica Jong se Fear of flying (1973) speel ook in die agtergrond af met die soeke na die "zipless fuck" en 'n bespotting van psigoanalise en die raad wat sielkundiges vir pasiënte gee, terwyl hul eie lewens nie in beheer is nie.

Waar Jong se prosa opstuur en tuimel, is die aanslag hier "fiction domestique", soos die Franse dit tipeer. Hoe mense daagliks leef, dink, doen, kom aan bod.

Die dekor-verwysings gee dalk blyke van 'n leë bestaan. Die kunsverwysings is dalk 'n versugting na 'n beter bestaan waar jy kan ontkom van dwase besluite?

Frank Kermode die gesiene Britse teoretikus se A sense of an ending (1967) het by my opgekom by die lees van die roman, asook Susan Sontag se insigryke essay "At the same time: The novelist and moral reasoning" opgeneem in At the same time (2007). 

Sy beweer dat 'n roman grense skep en dat alles te make het met hierdie grense. Die einde, vir haar, is 'n punt van magiese kwaliteite en samehang. Uiteindelik sien ons hoe uiteenlopende sake saamhang.

Afhangend van waar 'n storie eindig, word die geluk bepaal, waarsku Orson Welles in 'n motto. Hier eindig dit nooit nie ... of dalk?

Oscar en Reeva se verhouding bewys dat 'n gelukkige einde nie vir hulle bestaan het nie.

Die intertekste na Woody Allen, die Coen-broers se Burn after reading en Hitchcock gee eweneens sleutels vir verdere ondersoek.

In die lang galery van vertellers – eat your heart out Faulkner – het Sam ‘n heerlik outentieke stem.

Daar is ook Willemien, Neil, Jenna, Dave, Sigourney, Connie, Priscilla, Simone, John, Bella (o.a.) met Mikey wat alles op sy kop keer.

Terloops, die weergawes van lesbiese seks is stereotiep. Die beskrywing van die abjekte en liggaamlikheid bedui op 'n bestaan wat nie plesierig is nie.

Die geweldstonele waar ‘n vrou ‘n man aanrand, gee 'n nuwe blik op hetero-verhoudings (265). 

Die slot hef die turbulensies op.

Die karakters praat outentiek (shrink, edge, cottage, girl...) en Kaapstad word goed beskryf. Boonop lyk Tafelberg soos 'n groot mynhoop op die Rand.

En die Ford Cortina kom staan mens voor die oog.

In Portrait of a lady – as ons die notas van James lees én Sontag se kommentaar daarop – is die einde anders wat die leser wou hê en dis juis wat die roman so kragtig maak.

Die hoofstuk-indelings (Die begin, die middel, die einde, ná die einde) gee blyke van ‘n ouktoriale vertelinstansie ('n soort poppemeester) wat die gegewe vertel en manipuleer. Kiss kiss, bang bang 'n film uit 2005 (van die regisseur Shane Black) analiseer verhoudings en hoé ‘n mens ‘n storie in film vertel. En dis juis hierdie dimensie van dieper meta-kommentaar wat die roman volgens hierdie leser sterker sou maak. 

Afhangende van hoe jý na die voorblad kyk, sal die roman met jou praat.