Sunday, August 25, 2019

Resensie | André Krüger – ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid (2019)

André Krüger: ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid. Wenkbrou (Lapa), 2019. ISBN 978 0 7993 9543 3

Resensent: Joan Hambidge

Die titel verwys na Humphrey Bogart wat hierdie woorde uiter in The Maltese Falcon (1941). En hierdie berekende en slim geweefde teks speel met die werklikheid en fiksie op ’n uiters behendige manier.

Die luukse Portugese passasierskip se kaping op 23 Januarie 1961 in Curacoa in die Karibiese see is die politieke ondergrond (via Fredric Jameson) vir die vertelling. Die diktatoriale Salazar en Franco was die teikens vir die kaping. Uiteraard was dit ’n poging tot dekolonisering. Die Santa Maria word egter deur die Amerikaanse vloot opgespoor en in ruil vir politieke asiel in Brasilië word hulle vrygelaat.

Ons anti-held, die fokalisator Robert was hierby betrokke. Hy was eers in die veiligheidsdiens en word later deel van die polisiemag. Sy vrou verlaat hom onverwags en sy hele wêreld tuimel ineen. Hy soek eers na haar in Portugal en word opnuut betrek by die onderwêreld van die veiligheidsdiens. Daar is afpersing en dubbelpratery. Skaakspeletjies.

Wat hierdie roman bó die gemiddelde krimie-uitlig, is die historiese verwysings en die intertekste.

Robert se gewetenswroegings word via Raka belig. Wat is boos? Wat is goed? Wie is Raka? Wie is Koki? Orde en chaos, oorlog en vrede, “crime en retribution”, kom uiteraard aan bod.

Sy Katolieke gewete dreun hom op en die Midde-Ooste is die begin en einde vir hom via die kerk. Hier is daar uiteraard ’n toespeling op Graham Greene se The Power and the Glory.

Verder word stede besonder effektief beskryf. Die leser sien en ruik Beirut. Dieselfde geld Johannesburg, Libanon, Limassol, o.a. en ons weet hoe stede in spanningsverhale ’n kode word vir politieke onrus. Die roman begin in Suid-Afrika, Maart 1961. Sharpeville word vroeg ’n belangrike motoriese moment vir al die geweld wat sal volg en die Franse studente-opstande 1968 is ook hier. Die roman begin in 1945: in Nazi-Duitsland (Flossenbürg-konsentrasiekamp).

En dan die films. Humphrey Bogart. En ons wroegende Robert wat sy liefde vir films bely. Dit is dan uiteraard ook tersake dat Casablanca hier sluimer, daardie film waaroor Umberto Eco so insigryk geskryf het:

Every story involves one or more archetypes. To make a good story a single archetype is usually enough. But Casablanca is not satisfied with that. It uses them all.

’n Film van liefdesverraad, politieke spel met ’n tuimelende einde.

Film noir is hier en Sam Spade, Philip Marlowe, en vele ander misdaadhelde. Een vrou lyk soos Sophia Loren; ’n ander slaan op Rita Hayworth.

Harry Lime uit die nooit volprese The Third Man word betrek. Die spanning tussen wit en swart – en grys. En kamerskote wat fokus op ’n kat en skoene. En daar is nie helde buite stories nie, is die bekende waarheid geuiter in hierdie film.

Die karakter ervaar homself dus as werklik terwyl hy hierdie verwysings maak na romans en films en die impak daarvan op sy lewensfilosofie.

Hierdie leser lees eweneens toespelings op Philip Kerr se romans en sy bemoeienis met Nazi-geskiedenis. In Krüger se roman word daar na verskillende diktature verwys en ’n anti-held wat hom buite die sisteem wil hou, maar dit nie regkry nie.

Is daar sluiting? Of bly die leser wonder soos aan die einde The Third Man oor wat verder gaan gebeur? James Bond in From Russia with love speel ook saam in die leesassosiasies met vroue as verraderlike spioene.

Internasionale spioenasie is veral deur John le Carré meesleurend onthul. En hierdie roman gee op ’n binneblik op die netwerke wat die leser se kop laat duisel. Die akronieme word verduidelik in ’n handige tabel.

En Robert weet: ’n Mens betaal vir alles, selfs al dink jy jy het iets om te ruil (111).

Die onrus van die sestigerjare met die verwysings na kernkrag, die destabilisering van die Midde-Ooste, Nasser in Egipte word terselfdertyd ’n sosiale analise tussen toe en nou. Watter netwerke is nie nou ondergronds aan die beweeg nie?

Robert Ferreira die ’n Afrikaans-Portugese, Roomse majoor in die Suid-Afrikaanse Polisie, is ’n goeie mens. Ideologiese en persoonlike konflikte dryf hierdie roman, nes die spanning tussen overte en koverte organisasies. Wat alles gebeur het na die WOII, kan nie meer tot stilstand gebring word nie.

In 2013 het hierdie skrywer die debuutprys by UJ ontvang vir Die twee lewens van Dieter Ondracek. Met hierdie roman bewys hy hom as ’n besondere spanningverhaalskrywer.

Here's looking at you, kid!