Hannes Visser - Die jaar toe Pa. Naledi, 2019. ISBN 978-1-928426-65-3
I
Werkersklaspoësie is veral deur die digter gert vlok nel ontgin in Afrikaans rondom sy ervaring as spoorweg-kind in Beaufort-Wes in pragtige verse. Hannes Visser se Die jaar toe pa ...(uitgegee deur Naledi) gebruik die kind as waarnemer om die politieke en sosiale kwessies aan 'n disfunksionele mynwerkershuis te ondersoek in die jaar 1967.
Die kind-as-waarnemer is alom bekend in die prosa: in Afrikaans het ons Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie en in die Amerikaanse letterkunde onder andere Truman Capote se pynlike jeugherinneringe.
Die digter het gedebuteer in Nuwe Stemme 6 wat sewe van sy verse opgeneem het. Hierdie bundel het my teruggeneem na die bloemlesing van Johann Johl & Rika Cilliers wat heet Bloeityd: Verse oor kinders (Tafelberg, 1993) waarin verskillende verse oor kinders en kindersprekers opgeneem word. Uiteraard is dit by Visser die ouer persoon wat terugkyk en die jeugervarings weergee asof hy weer daardie kind is.
Die bundel is eg-menslik met gestroopte verse en die leser (met 'n wyer politieke en sosiale agtergrond) interpreteer die onskuldige opmerkings van die kind.
Verder is daar afdrukke in die bundel wat meehelp om die gedigte te laat resoneer. Ons kyk as't ware na die knipsels van die digter wat in 'n outydse boks geberg is.
Die titel met die ellips (...) wys dit is 'n durende proses wat nie in sy gemoed afgehandel is nie.
II
Vrydag 5 Mei
ma speel ’n plaat
van jim reeves
adios amigo en
distant drums en
pa speel saam
op sy kitaar
oom flip sê
jim reeves is nie
dood in ’n vliegtuig
soos die mense sê nie
hy is ’n kommunis
agter die ystergordyn
pa sê fok jou
hy was ’n goeie man
hy is kimberley jim
en hy was al hier
* Hierdie gedig word dan begelei met 'n plakkaat van Jim Reeves.
Saterdag 7 Oktober
die polisie was laasnag
agter in ons jaart en
violet skreeu miesies help
maar die polisie het klaar
haar man wat kom kuier het
uit haar kaia gesleep en
geskop en agterin gelaai
ma het probeer om te keer
en die polisie het haar gestamp
toe kom oom tiny
van bo in die straat
om met ma te praat
jy weet mos die meid
moet alleen in die kaia bly
Hierdie gedig staan in 'n afdeling waar daar 'n plakkaat is van Verwoerd se dood. So kry die gedig dan 'n dieper lading.
*
Maandag 30 Januarie
drie mans is dood in amerika
wat met ’n vuurpyl tot by
die maan wou vlieg
dit was op die draadloos
pa sê hulle het verbrand
nog voor hulle kon vlieg
maar eendag gaan mense
nog op die maan kan land
dit was die here se wil
sê antie hester want dis
die here se maan en
niemand mag op sy
maan gaan land nie
Hier is die naïewe kinderverteller aan die woord vanuit die perspektief van die ouer persoon wat onthou hoe die grootmense gepraat het. In die slotvers is dit die ouer persoon wat weer praat (en onthou). So is daar twee stemme, twee perspektiewe op die lewe van weleers, visvangers, 'n winkelporregees, mechanics. Daar is semi-huise, brandy en coke, pie en chips, speedcops, motorbikes, milkshakes, brylcreem, 'n bioscope, Chevs en Studebakers. Min Shaw het my laat glimlag. En daar is drank. Al hierdie kodes plaas dit in 'n spesifieke kultuur. Verskillende eetkulture (die swart mense eet marog) word konkreet beskryf. Met 'n slot waarin "lokasiekos" (13) die spanning tussen swart en wit mense uitspeel.
Outentieke taal (vloekwoorde en raspejoratiewe) maak die aanbod eg.
Die gedig oor die vader se begrafnis ruk aan die hart
III
Die verse is gestroop en minimalisties. Onder die min woorde skuil geweldig baie sub-teks soos in Thomas Deacon se gedig "vertrek" (opgeneem in Bloeityd, 62):
Om die tafel sit ons
ma pa
dogters
seuns
'n laaste avondmaal
ons steek hande in die skottel
ek en pa
pa kyk na my
ek sien sy oë
stuur my oor die duine
moerland toe
Visser se gedigte het dieselfde aanbod as Opperman se "Sondag van 'n kind" met spaars woorde wat 'n hele wêreld oopmaak.
Inderdaad gedigte in vertelvorm soos die Japannese shi sōsetsu:
An amorphous genre of autobiographical fiction that developed in the late-Meiji period and has remained a crucial (if problematic) category of modern Japanese literature. Rendered in a confessional and/or lyrical voice, the typical I-novel (shishosetsu) explores the point of view of a single protagonist, whose account is understood to be based on actual characters and events drawn from the author's life and an unmediated expression of the author's interiority. See junbungaku, shishosetsu (Japanese Lit. Glossary Terms Flashcards | Quizlet. Besoek 3 Junie 2019).Dis 'n aangrypende bundel wat sterk sosio-politieke kommentaar lewer Ena Jansen se Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (Protea, 2016) word tereg as 'n bron gegee en in die slotvers word die miskende rolspelers vereer.
Violet, Esther, Mapoela.
Skerwe van onthou wat die digter en mens gevorm het.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)