Zelda Bezuidenhout - Die dekonstruksie van Retta Blom. Kwela Boeke, 2019. ISBN: 978 0795708992
Resensent: Joan Hambidge
Kom ons val sommer met die deur in die huis. Zelda Bezuidenhout se roman Die dekonstruksie van Retta Blom het ʼn vinnige pas en is goed geskryf. Marita van der Vyver, die koningin van hierdie soort verhaal, prys dit aan as “lekker sappige goedvoel-storie, met heelwat onder die oppervlak”.
Ene Lauretta Blom, oënskynlik minsame huisvrou en eggenoot van Tobias Blom, ʼn ryk sakeman wat pendel tussen Johannesburg en Kaapstad, is ʼn soort moderne Emma Bovary. Sy is ʼn beheermaniak en voel vasgevang in haar sekuriteitslandgoedhuis in Johannesburg en ly aan leë nes-sindroom al besoek een seun haar en Skype sy met ʼn ander. Ses-en-twintig jaar al vasgevang in ʼn roetine van Mevrou-wees. ʼn Foonoproep van ene Kob(r)a is die motoriese moment. Alles verander dramaties in haar Visi-bestaan. Sy het immers gesien hoe ʼn tassie ingepak word ...
En ontspan: ek verklap nie die verhaal nie. Daar is altyd ʼn liefdesdriehoek in hierdie soort prosa, maar hier gelaai met siekte, dood en selfdood wat dit iets meer maak as bloot populisties.
Sy rig haar lewe volgens Spreuke en sy weet wie Marilyn French is. En daar is verwysings na Cheating husbands and the women who love them.
ʼn Roadtrip Kaap toe (met eggo's uit Thelma en Louise) met Leigh, ʼn kunstenaarsvriendin en die hond, Charlie, gee aan haar agentskap. Buite Bethulie word Lauretta dan Retta wanneer sy Adam ontmoet.
Die boek is vaartbelyn geskryf met sekstonele wat eg aandoen. Lauretta bely haar frigiditeit op ʼn plek en luister na raad. Diëte, Skype, sms'e, WhatsApps, realiteits-TV, The road less travelled, You've got mail (en natuurlik: Lucy Jordan!) met musiek vertel die verhaal van transformasie. Geen wonder Retta voel soos ʼn toeskouer in haar eie lewe nie met ʼn jong kind wat tekenmannetjies in ʼn boekie het. Is sy nie ook maar net ʼn tekenprent nie?
Die rol van die trofeevrou of vrou-as-verlengstuk van die manlike orde, kom hier aan bod. En hoe sy dan wegbreek en haar ware self vind. Selfdood en moord van die nuwe man se vorige geliefde bevestig ʼn somberder lewe onder die oënskynlike idilliese bestaan. Twee verhale en lewens word verweef met ʼn onverwagse wending in die verhaal. En hierdie soort fiksie verraai altoos wat in die vroulike onbewuste geberg word.
Woody Allen het in sy film Deconstructing Harry (1997) alreeds hierdie geleerde term mak gemaak waar ʼn romanskrywer put uit sy lewe, en almal rondom hom vervreem. (Ook in die film is daar ʼn reis met terugflitse uit die verlede met metgeselle as toehoorders vir die babbelende Allen.)
Dit is populêre fiksie met ʼn byt. Dalk ʼn moderne Griet skryf ʼn sprokie?
Daar is humor (ʼn man is ʼn los wors) en daar word verwys na ʼn intellektuele orgasme! Epilepsie van ʼn kind met twee lewens van ʼn karakter wat verskillende kulture ondersoek. Clichés word afgestof (rou het nie ʼn rakleeftyd nie).
Dalk kon die skrywer die orde van liefdesfiksie skerper gesatiriseer het, maar dis ʼn genoeglike roman (315 bladsye) wat hierdie leser eenvoudig nie kon neersit nie. Dit is immers die grote Nabokof wat opgemerk het in sy Cornell-lesings dat sowel Emma Bovary as Anna Karenin se lot bepaal is deur wát hulle gelees het.
En kyk wat lees Retta nie alles nie. En kyk wat skeur sy op in ʼn gefnuikte wraakpoging. Dit wat afwesig is, blyk ook aanwesig te wees in dekonstruksie-terme. En is “under erasure”.
ʼn Kwirkie-boek vir nadink en weer besoek.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)