I
Leon de Kock se biografie van André P. Brink (André P. Brink en die spel van die liefde) aktiveer 'n belangrike debats- en brandpunt. Wát mag in 'n biografie opgeneem word en wát moet liefs verswyg word?
Is dit dalk hierom dat Barthes sy outobiografie in die derdepersoon geskryf het: Roland Barthes par Roland Barthes?
V.S. Naipaul het indertyd opgemerk dat hy nie omgee wat oor sy turbulente lewe geskryf word nie. Kennelik 'n man wat gevoel het dat sy romans steeds sou bly staan.
My life is short. I can't listen to banality.
Daar is ook skrywers wat soos 'n poppemeester beheer word deur die biograaf sodat lesers wat die werklike skrywer geken het dikwels voel dis 'n hagiografie.
Mag 'n ander mens ingesleep word by die skrywer se vuil wasgoed wat in die openbaar gewas word? Hoe gemaak met 'n kwalik-bedekte skuilnaam, terwyl almal weet wié Mevrou so-en-so presies is?
Die biografie het nou oorgespoel na 'n ander dimensie met die biograaf wat beskuldig word van rassisme, 'n uitgewer wat hulle glo wil distansieer van hom indien dit waar is en verdere berigte oor 'n opname in 'n inrigting.
Ek het reeds in my resensie geskryf dat 'n Janet Malcolm-analise (via haar knap analise van Plath) gemaak sou kon word van die biograaf se belangstelling in die skrywer – 'n insig gepubliseer vóór die hele debakel. De Kock is immers die skrywer van 'n roman met die titel Bad Sex; Brink het bad sex ondersoek in al sy avatare.
Truth is always stranger than fiction.
II
Kom ons beweeg buitedie arena van Suid-Afrikaanse landskap na die VSA om hierdie problematiek beter te begryp.
An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski wat by Routledge in 2012 verskyn het, is 'n relevante toetsgeval. De Kock verwys eweneens na Sexton in sy studie.
Anne Sexton (1928 - 1974) was (en bly) 'n belangrike Amerikaanse digter wat belydenisverse geskryf en uiteindelik selfmoord gepleeg het, onder andere weens bipolariteit. Sy sien 'n terapeut, ene dr Martin Orne, wat haar aanmoedig om gedigte te skryf om die pynlike verhouding met haar vader te verwerk.
Sy was 'n tydgenoot van Robert Lowell en Sylvia Plath, beide troebel figure, maar uitstaande digters.
The Awful Rowing Toward God (1975) is een van haar belangrikste bundels. Uiteindelik vergas sy haarself tuis in haar motor.
Diane Middlebrook, haar biograaf, ontvang bande van dr Orne waarin sy suggereer dat sy haar dogter seksueel aangerand het en dat sy deur haar vader gemolesteer is. (Die dogter het toestemming gegee dat Middlebrook dit mog gebruik en nadoods het die dogter Linda Gray as redakteur van haar versamelde gedigte opgetree). Die biografie verskyn in 1991, uitgegee deur Houghton Mifflin Company.
Problematies dat die terapeut hierdie inligting verklap het. En nog meer problematies: wat is waar? Wat is fantasie?
In 1994 publiseer die dogter haar memoir: Searching for Mercy Street: My Journey Back to My Mother, Anne Sexton. (Little, Brown & Company).
Johann de Lange het haar in een van sy vadergedigte verewig en die uwe het eweneens in gesprek getree met haar.
So lui De Lange se vers:
Pa
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
Anne Sexton
Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy ’n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
& tog tuis alles kon verbrou.
Maar ek vergewe jou.
Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar ’n wolkekrabber,
’n padkafeetjie langs die pad;
jy kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.
Maar ek vergewe jou.
Ander aande het jy mandrax gedrink
& vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.
Maar ek vergewe jou.
Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks & jy was veels te sag.
Maar ek vergewe jou.
Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
& mag dié onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.
Ander miskien nie maar ek onthou.
† 17 April 1936 - 16 Mei 1975
Sexton se gedig "All my pretty ones" is 'n klassiek:
So lui die slot:
I hold a five-year diary that my mother kept
for three years, telling all she does not say
of your alcoholic tendency. You overslept,
she writes. My God, father, each Christmas Day
with your blood, will I drink down your glass
of wine? The diary of your hurly-burly years
goes to my shelf to wait for my age to pass.
Only in this hoarded span will love persevere.
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
III
Karina Szczurek © Conrad Bornman
Mevrou Brink die Vyfde het die joernale aan De Kock gegee. En toe sy besef dat die biografie ontspoor, dit probeer terugeis.
Vir my gevoel is sy verantwoordelik vir die skending van mense se privaathede en briewe wat sonder toestemming in die biografie opgeneem is. Uiteraard het dit aan Brink behoort, maar ek is daar seker van dat Brink die outeur nie sou vrede hê met wat nou afspeel nie. Boonop verminder dit sy statuur as romanskrywer. Die dagboeke was doodles en om sy gemoed skoon te maak en beslis nie – volgens my – vir die openbare oog bedoel nie. Al meen die eksekuteurs nou anders.
Hierdie hele onaangename insident bewys opnuut dat dit beter is om net die romans of gedigte te lees en nie kennis te neem van die gebroke / morsige "mens agter die boek" nie.
Joernale mag psigoanalities en teoreties beskou word, maar dan nie met so 'n skinderlistige aanslag nie.