Saturday, June 29, 2019

Reisjoernaal | Tunisië II. Nabeul, 2019

I

In Colombia het my tas drie dae later by die bestemming opgedaag, omdat die tasse in Parys agtergebly het. Hier sit ek gepantser net met een trollietassie en rugsak. En kredietkaarte.

Met die tweede terugkeer na Chez nous – na 'n taai dag letterlik en figuurlik – van om en by 39 grade Celcius, gebeur die frappante. Dit wat elke reisiger vrees.

Die kredietkaart met betaling aanvaar die pin, maar die transaksie wil nie deurgaan nie. 

Elias meen dis hulle masjientjie; gelukkig het ek kontant by my.

Die heerlike kos word versuur deur die onaangenaamheid; veral toe hy bely dit gebeur elke aand.

Eisj.

'n Tunisiese egpaar skud net die kop. Die restaurant was vir 'n jaar toe en ek dink hulle sukkel om weer op die been te kom.” Sy kla oor die muskiete wat haar byt onder die tafel.

Toe ek uitstap, wil Elias 'n selfie neem van ons twee. Ek laat hom begaan en dis na elf toe ek by die hotel aankom. Ritueel van water drink en sigaret rook. Môre vertrek ek uit Tunis na Nabeul. Ek word elfdertig opgepik vir die reis na 'n ander ruimte.

Die gewone ritueel van inpak, e-posse versend, skryf aan 'n gedig.

Die vers wil net nie vlot nie. Iets steur.

Ek stap na buite om vir oulaas koffie te drink. My tafeltjie wag waar ek elke oggend 'n sigaret rook en koffie drink en gesels met die vriendelike kelners. En roomys eet.

Skielik 'n harde slag. Kruitrook. Mense wat histeries rondhardloop. Ons hotel se sekureiteits-deure sluit. Ek bly buite. Iewers gelees 'n mens moet nie begin hardloop nie – eers wag en kyk. 

ʼn Bom, sê die kelner. 

Ek drink my koffie klaar en wag in my kamer op my gids. Laat weet vir algar ek is veilig.

So skryf ek aan my vriende: 
Op Donderdagoggend 27 Junie skuins na tien drink ek koffie voor my hotel, die Carlton op Av. Habib-Bourguiba in Tunis. Ek gaan so net na 11.30 vertek na Nabeul om die land verder te bespied. Benewens die hittegolf wat so by 39 grade C draai, is die land se museums (veral die Bardo) 'n belewenis. Die vis is uit die boonste rakke en die mense vriendelik en behulpsaam. 
Meteens 'n donderslag. 'n Skerp reuk. Mense wat gil en histeries raak. Hulle hardloop my hotel binne. Die sekuriteitsdeure sluit. Ek bly sit om nie deur die mal skare meegesleur te raak nie. 
Party staan op die balkon en toekyk. Hierdie gebeure speel af in toeristesentrum en letterlik die sentrum van die stad. 'n Vuige terroristiese daad wat op sowel inwoners as besoekers se lewens 'n impak het. 
Ek vra vir die kelner of hy ook dink dis 'n bomaanval. "Ja," sê hy. Dit blyk later 'n selfmoordbommer te wees wat op die Franse Ambassade toegeslaan het. Een polisieman is oorlede. 
  My reisagent het my gewaarsku om nie Algeriëte besoek nie. Om elf dertig verlaat ek Tunis (Kartago) met hoë adrenalienvlakke. En dan dink ons net Suid-Afrika is onveilig? 
 Die gids daag op en ons sukkel om uit die stad te kom. Van Wyk Louw se bekende reëls draai in my kop:  
Niemand tref dit móói met die heelal nie;
eintlik moet ons leer ironies lewe:
eintlik moet ons leer ironies lewe:
én: binne ironie nog liefde hou
Suikerwater vir skok, het my moeder altyd gesê. Ek plaas twee suikers in my waterbottel en ons ry. Die landskap is droog. Die gids wys vir my waar die wonderlike Magon-wynstreek lê.

Ons eet lunch in Hammamet 'n dorpie voor Nabeul. Dis altyd goed om in 'n eetplek van die locals te eet. Want local is mos lekker. Ek laat die gids bestel. Vir my lam met couscous, die bestuurder vra vir lewer met rys en die gids eet skaapkop. Hy suig aan die kop met uitermate geesdrif.

Julia Kristeva en die abjekte help my deur die ervaring. Gelukkig suig hy nie aan die oog nie.

My lam is net-net eetbaar; die lewer is rubbertaai. Die slaai (tamatie met uie) is wel heerlik.

Ek betaal die 50 dinars vir die lekker ete en om my gids te bedank vir die veilige reis.

Die see is helderblou. Ons kom by die hotel aan. Hotel Byzance. Op die Boulevard de la Corniche.

Op sy dag waarskynlik 'n spogggggeggige vyfster. Nou 'n driester met 'n bewende hysbak. Amper soos 'n eertydse skoonheidskoningin met 'n mislukte facelift.

Mooi van ver (op die website), maar ver van mooi (in die werklikheid).

My kamer kyk uit op die see en na die dag se stres, sak ek neer op die bed. 

Na 'n uur se rus is dit sokker – Algerië teen Somalië – wat die aandag tydelik aflei. Dis 'n verwoede, in-your-face-stryd.

Die volgende oggend swem ek in die blou-blou see en swembad en kyk weer na my vers wat gister onderbreek is.

My moeder praat met haarself

My ma had die gewoonte om kajuitraad
te hou met haarself in die kombuis:
hoor haar nog praat oor die vrank vrugte
wat Oupa Jan nie eens vir sy varke sou voer
nie en die vleis wat al hoe swakker word
en die Buy Aid-koepons vir ons skoolklere
en Sondag dan hoender én skaapboud.

Soms was daar lysies op die yskasdeur,
maar meestal was dit net 'n selfgesprek
gerig tot 'n Iemand-wat-sal-verstaan.
Wat is hierdie selfpraat of soeke tog
vir 'n Ideale-leser-of-toehoorder?
Waarom lysies, kaarte, konterfeitsels,
konfessies as 'n selfmoordbommer
'n intieme binnespraak omverwerp?

Tunis 28 Junie 2019